1. JY IS GEDURIG LUS VIR IETS SOETS

Hoe meer soetgoed jy eet, hoe meer smag jy daarna. Want jou smaakknoppies pas aan en jy het meer en meer dieselfde smaak nodig. Dit laat jou boonop ’n kort rukkie goed voel, net om daarna ’n insinking te beleef. Soos ’n brander wat ’n piek bereik en dan ineenstort.

2. JY VOEL TRAAG DEUR DIE DAG

Gekonsentreerde bronne van verfynde koolhidrate, soos versoete koeldrank, koek en witbrood, laat jou bloedsuikervlakke vinniger styg. Jy kan berge versit ... vir ’n kort rukkie. Daarna is jy nog traer as voor jou soethappie. Jy eet ook moontlik nie genoeg proteïen en vesel nie, belangrike voedingstowwe vir volgehoue energie.

3. JY SIT GEWIG AAN

Suiker is leë kilojoules, sonder vesel en proteïen. Dit versadig jou nie en jy hou aan eet. Dis ook ’n sneller vir die vrystelling van insulien, ’n hormoon wat ’n rol speel in gewigstoename en diabetes. As jou selle weerstandig teen insulien raak, maak jou pankreas meer daarvan om oortollige suiker op te ruim. Mettertyd kan die pankreas nie meer byhou nie en bloedsuikervlakke skiet die hoogte in (diabetes tipe 2).

4. NIKS IS MEER SO SOET SOOS DIT WAS NIE

Te veel suiker bombardeer jou smaakknoppies. Jou suikertoleransie styg en jy het meer nodig om jou suikertand te bevredig. Dit kan moeilik wees om dit weer te verlaag, maar byt vas en jy sal dalk later selfs begin voel suikerhappies is te soet.

5. JOU VEL PROTESTEER

Sommige mense is sensitief vir die insulienpiek, wat ’n hormonale kettingreaksie aan die gang kan sit en ’n uitbreek van aknee of roosaknee (rosacea) kan veroorsaak. ’n Suiker-binge se spore kan binne ’n paar dae op jou gesig te siene wees.

Bronne: SugarScience (sugarscience.ucsf.edu), SELF Magazine (self.com)