1. WATTESTOKKIES

’n Lekker hulpmiddel om grimering aan te sit en vir koddige werkies oral in die huis. Maar moet dit nooit, ooit in jou oorkanaal steek nie. (Of enige ander opening nie.) Jy stoot die oorwas net dieper in. Boonop kan ’n ongeluk gebeur en jou oortrom laat bars. Oorwas is deel van jou liggaam se natuurlike verdediging en nie ’n teken van siekte nie. As jou oor seer is of jeuk, of dit voel daar is iets in, gesels met jou dokter.

2. ASPIRIEN

Wees versigtig as die hele gesin ’n medisynekassie deel. Hoewel dié pynstiller veilig vir die meeste volwassenes is, moet jy oppas as jy ’n bloedverdunner neem. Gebruik jy albei, kan dit bloeding in die maag veroorsaak. Moet dit ook nooit gee vir kinders onder 12 wat herstel van ’n virussiekte (soos griep of waterpokkies) nie. Aspirien word dan gekoppel aan ’n seldsame maar ernstige toestand, Reye-sindroom, wat die brein en lewer kan laat swel.

3. ANDER PYNSTILLERS

Niesteroïdale antiinflammatoriese middels (NSAIG’s) soos ibuprofen (Advil, Nurofen) en naproxen (Aleve) kan vir pyn en swelling help, maar ook jou bloed verdun. Pasop dus as jy ’n bloedverdunner neem. Gebruik jy die middels te dikwels saam, kan dit jou kans vergroot om ’n hartaanval of beroerte te kry. Dis ook sleg vir jou niere, veral as jy nierprobleme het.

4. ONGEBRUIKTE VOORSKRIFMEDISYNE

Gebruik soos voorgeskryf en raak dan daarvan ontslae. Die beste manier is om dit fyn te druk en te meng met iets wat niemand sal wil eet nie (soos koffiemoer of katsand). Sit dan in ’n geseëlde plastieksak en gooi in die vullisblik. Neem jy sterk pynstillers of slaappille te lank, kan jy dalk daarvan afhanklik raak. Gebruik jy antibiotika om die verkeerde redes, kan dit lei tot bakteriële infeksies wat moeiliker is om te behandel.

5. SOOIBRANDMEDISYNE

Protonpompinhibeerders of PPI’s (dit verminder die suur wat jou maag afskei) is die mees voorgeskrewe medikasie ter wêreld. (Soos Altosec, Losec, Nexium, Omez.) Dit het egter newe-effekte op lang termyn. Só het Amerikaanse navorsing bevind dit kan jou risiko vir demensie (insluitend Alzheimer) verhoog, volgens The Journal of the American Medical Association (JAMA). Dit beïnvloed nie net die suur in jou maag nie, maar ook in ander organe, soos die brein.

BRONNE webmd.com, cedars-sinai.org, prevention.com