Plastiek is teenwoordig in byna elke deel van die oseaan – van die oppervlak van die Stille Oseaan tot by die donker dieptes van die Mariana-trog en selfs by die pole. Dis nie bioafbreekbaar nie en verdwyn daarom nooit nie. Maar word bloot in kleiner deeltjies, mikroplastiek, afgebreek. Wetenskaplikes raam as die gebruik daarvan nie drasties verminder nie, gaan daar teen 2050 meer plastiek as vis in die see wees.

Mikroplastiek is ook volop in ons drinkwater. Die deursneemens neem weekliks tot 5g plastiek in, gelykstaande aan ’n kredietkaart, volgens Netwerk24. Dis vanjaar ook in reën en sneeu gevind.

Waar kom hierdie plastiek vandaan? Volgens die WWF gebruik die gemiddelde Suid-Afrikaner 30 tot 50 kg plastiek per persoon per jaar. Boonop word daar volgens Plastic SA net 43% van die plastiek herwin, en 63% van PET-bottels.

Alhoewel Suid-Afrikaners beter vaar in vergelyking met internasionale trends, het ons steeds ’n pad om te stap rondom bewusmaking en herwinning. Een van dié inisiatiewe is “Plastiekvrye Julie”, ’n wêreldwye beweging wat mense aanmoedig om vandeesmaand geen plastiek te gebruik nie. Dus ’n globale totsiens aan plastiekprodukte wat eenmalig gebruik word om die oseaan en omgewing te beskerm.

Covid-19 besoedel

Die fokus van 2020 is herwinbare opsies wat plastiekprodukte vervang. Die Covid-19-pandemie is egter ’n terugslag, en het moontlik ’n bykomende negatiewe uitwerking op die omgewing, naamlik besoedeling. Oor die afgelope paar maande het weggooibare maskers en plastiekbottels vir handreinigers bygedra tot nie-herwinbare plastiek. 

Die aanlyn platform Faithful to Nature het as teenvoer, en in “Plastiekvrye Julie” ’n WAYSTD-veldtog geloods. Hierdeur will hulle Suid-Afrikaners aangemoedig om herwinbare maskers te kies soos WAYSTAD-maskers wat uit 65%-herwonne PET-plastiek gemaak word. Volgens die stigter van Faithful to Nature, Robyn Smith, klap hulle drie vlieë met dié veldtog: “Koop een WAYSTD-masker op die Faithful to Nature-webtuiste, dan skenk ons een masker aan behoeftiges en R20 aan die Sustainable Sea Trust.”

Buiten die maskers het Faithful to Nature ’n verskeidenheid produkte wat jou kan help om plastiekvry te wees:

Faithful to Nature het ook ’n afdeling wat fokus op plastiekvrye produkte, besoek die webtuiste en loer na die verskillende opsies. 

FOTO De An Sun / Unsplash
FOTO De An Sun / Unsplash

Groot handelsmerke raak volhoubaar

Hoewel handelsmerke soos Faithful to Nature in 2006 gestig is, en die Plastic-free July-veldtog reeds in 2011 geloods is, het massaverbruikers eers in 2018 begin besef hoe vernietigend die gewoonte is om plastiek ná net een keer se gebruik weg te gooi. Teen 2019 was dit ’n volskaalse oorlog met ’n klemverskuiwing van verbruikersbewustheid na regeringsbeleid, sê Dion Chang, stigter van Flux Trends (fluxtrends.com).

Vanaf Januarie vanjaar moet alle plastiekkoppies, -borde en -wattestokkies in Frankryk gemaak word van biologiese bronne wat natuurlik vergaan. As jy na Rwanda, Marokko, Tanzanië, Burundi en Kenia reis, maak maar seker jou plastieksakke bly tuis. Wetgewing daar verbied dit. Keniane wat plastieksakke invoer of verkoop, kan tot vier jaar tronk toe gaan of met $40 000 (sowat R700 000) beboet word. 

Handelsmerke word genoop om sterker standpunt in te neem teen besoedeling en vir volhoubaarheid, spesifiek met hul verpakking. Plastiekstrooitjies en mikrokorrels in skoonheidsmiddels was reeds in die spervuur en nou is die visier op van kontaklense tot ballonne, volgens Dion. Dit verminder die maak van nuwe plastiek. Maar wat van dié waaronder die aarde reeds versmoor? Innoverende idees vir die versameling en herwinning daarvan duik oral op.

Só is Econyl ’n nylonstof uit onder meer afvaltekstielstowwe en ou visnette waarvan daar van drafskoene tot baaikostuums gemaak word. Giulio Bonazzi, grootbaas van die Italiaanse maatskappy Aquafil wie se produk dit is, is al aangehaal: “As ek ’n vullisterrein gewaar, sien ek ’n goudmyn.”

Adidas neem al jare die voortou. Hul FUTURECRAFT.LOOP lyk nes enige ander drafskoen. Maar as dit gedaan is, gooi jy dit nie sommer net weg nie. Jy gee dit vir Adidas terug: Die hele skoen kan hergebruik word om toekomstige drafskoene te skep. Dit het meer as sewe jaar se navorsing geneem, en sluit in nuwe tegnologie om die skoen uit ’n enkele stuk materiaal te maak, sonder gom of hegmiddel. Jy gaan wel nog ’n ruk daarvoor moet wag. Die voorlopige datum vir die bekendstelling is aanstaande jaar, volgens die nuustydskrif Time (time.com).

Adidas werk ook aan drafskoene van herbenutte plastiekbottels (Prime Green genoem) en herbenutte oseaanplastiek (Prime Blue). “Ek sal my kop op ’n blok sit dís die nuwe ontwerper-statussimbool van die toekoms. Nie meer Louis Vuitton en kie nie, maar ’n handelsmerk wat volhoubaar is,” sê Dion.

FOTO Marc Newberry / Unsplash
FOTO Marc Newberry / Unsplash

PLASTIEK VIR LUGTYD

Wêreldwyd het herwinbare plastiek ook ontpop as betaalmiddel vir sekere dienste – meestal lugtyd en openbare vervoer. Duitsland is voor in die koor met hul “deposito-teruggee-skema”.

In baie Duitse supermarkte is daar Pfand (deposito)-outomate waar jy die deposito wat by ’n koeldrank (bottel of kannetjie) se prys ingesluit is, terugkry wanneer jy die gebruikte houer daarin voer.

In sekere wêreldstede kan jy jou plastiekbottels as betaalmiddel vir openbare vervoer gebruik. Daar is plastiek-vir-vervoersmousoutomate in onder meer Beijing, Rome, Madrid, Istanboel, Guayaquil (Ecuador) en Surabaya (Indonesië). Dit moedig mense ook aan om meer van openbare vervoer gebruik te maak. Plaaslik is daar by uitsoektakke van Pick n Pay, Woolworths en HomeChoice outomate wat kopers beloon vir hul verpakkingsafval. Maatskappye soos Old Mutual en Liberty 2 Degrees het dit ook in die werkplek.

Dié “groen” masjien “lees” die produk se magneetstrook en vergoed jou in jou digitale beursie op die Imagined Earth-app, die plaaslike verskaffer van die tegnologie. Tans kan jy lugtyd daarmee koop, maar ander soorte belonings word ook in die vooruitsig gestel. “Herwinning is een van die maklikste maniere waarop mense en besighede hul impak op die omgewing doeltreffend kan verklein,” volgens Justin Needham, hoofbestuurder van Imagined Earth. (Besoek imaginedearth.com.)

“Ons moet die gesprek verander: Van herwinning as ’n eko-gebaar na ekonomiese opheffing. Dán het ons ’n wen-wen-situasie,” sê Dion. Want herwinning is lankal nie meer ’n “gawe ding” om te doen nie. Dis ’n “moet-doen” om die aarde te red en sommer ook armes van ’n broodnodige inkomste te voorsien.