Soms is jy onbewus daarvan dat jy jouself saboteer omdat dit al so deel van jou optrede geword het.

Dís die tekens:

Die kliniese sielkundige Leandri Beyers van Irene, Centurion, sonder hierdie tekens uit.

* Selfkritiek. Dis dikwels ’n manier om jouself te “beskerm”. As jy jouself afkraak, versag dit die kritiek wat moontlik van ander mense kan kom, sê Leandri. Dit beperk jou en wat jy kan bereik.

* Jy gee altyd ander mense die erkenning of maak jou prestasies af as niks. En verwar dit met nederigheid.

* Jy aanvaar nie hulp nie, al het jy dit nodig, sê Leandri. Jou man bied byvoorbeeld aan om te help om na jul kinders om te sien. Maar jy voel jou beeld (identiteit) as ’n “goeie ma” is in gedrang, daarom doen jy alles self. Maar jy kan nie by alles uitkom nie, jy is na aan uitbrand, wat uiteindelik jou vermoëns as ma beïnvloed.

* Jy kan nie nee sê nie. Jy sê basies nee vir jouself en ja vir ander. Jy stem in tot dinge waarvoor jy nie lus is nie.