’n Wêreldwye pandemie wat reeds derduisende mense doodgemaak het, klink nie na ’n bron vir humor nie. Tog kan die internet nie ophou om die draak te steek met die coronavirus nie. Sedert dit verlede jaar in China kop uitgesteek het, het grappies, meme en woordspelings vinniger as die virus self versprei.

En soos meer mense siek raak en ons angs toeneem, so ook die pogings tot humor. In die grendeltyd was grappies oor Covid-19 ’n draadjie na die buitewêreld – om broodnodige menslike kontak te maak. Nie teen die mure uit te klim nie. Hoewel ons deure stadig (te stadig) besig is om oop te swaai, bekyk ons steeds enige vreemdeling wat dit binne 2 meter van ons af waag met agterdog. Dinge is lank nog nie normaal nie.

“Jy neem só die angel uit ’n nuwe, onbekende bedreiging,” sê komediant en akteur Schalk Bezuidenhout. “Iets voel oorweldigend, maar sodra jy ’n grappie daaroor maak, raak dit minder scary. Daai berg is nog steil, maar jy begin nou dink jy kan dalk tog daaroor. Ja, jy verstaan die erns daarvan, maar humor maak dit makliker om aan te pas.”

Schalk Bezuidenhout FOTO Verskaf

Dus: Of dit nou die #EggChallenge is, of mense wat mekaar tuis poetse bak en video’s daarvan op sosiale media plaas, almal ontdek skielik die verborge komediant in hulself. Die grappies of meme is te talryk om te tipeer. Sekere produkte wat met die virus geassosieer word, loop deur. Mense poseer met bisarre doen-dit-self-weergawes van gesigmaskers, soos bra-keëls en ja, sanitêre doekies. Só was daar selfs sjokolade-Paashasies met gesigmaskers. (Ook die Paashaas gaan nooit weer dieselfde wees nie.) Plaaslik is die draak gesteek met toiletpapier wat teen die spoed van lig van die winkelrakke gevlieg het.

Nou is dit nie ongewoon vir Suid-Afrikaners om grappies oor ons talle probleme te maak nie, skryf prof. Herman Wasserman, direkteur: film- en mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad, in ’n artikel in The Conversation (theconversation.com). Van Jacob Zuma se beweerde groot-skaalse korrupsie tot Eskom wat die ligte elke nou en dan afsit. Natuurlik is dit nie uniek aan ons nasie nie. Maar in ’n land met soveel ernstige uitdagings soos ons s’n, maak ons dikwels grappies eerder as om in die aangesig van nog ’n probleem te wanhoop.

Profile picture of Herman Wasserman for Rhodos sto
Herman Wasserman FOTO Ruth Woudstra

“Suid-Afrikaners het nog altyd ’n fantastiese sin vir humor gehad, veral in die donkerste tye,” sê die komediant Anne Hirsch. “Ek dink humor is een van ons land se beste hanteringsmeganismes en iets wat ons nog deur al die jare gehelp het. Kyk byvoorbeeld na tannie Evita Bezuidenhout in die 80’s en 90’s.”

Suid-Afrika is inderdaad een van die lande met die beste humorsin ter wêreld, reken Schalk. Humor bind (red dalk) ’n andersins verdeelde volk. Of dit nou pres. Cyril Ramaphosa is wat op openbare TV met sy gesigmasker worstel. Of Jackson Mthembu, minister in die presidensie, wat in ’n TV-onderhoud van “vibrators” in plaas van “ventilators” praat. Ons lag vir dieselfde goed en vergeet ’n oomblik ons verskille.

“Humor kan ook help om ’n gemeenskap te bou. Grappies oor die coronavirus is ’n manier waarop mense sê: Ons is almal saam in die ding,” volgens prof. Wasserman. “En die ‘skeptiese gelag’ ook ’n manier van draaksteek met outoriteit en die ondermyning van politici of groot maatskappye se mag. In sommige van die grappies is dit duidelik Suid-Afrikaners lag, dalk senuweeagtig, oor die regering se beloftes dat alles onder beheer is.” (Toenemend is daar meer woede en frustrasie as humor.)

En Anne: “Humor kweek empatie. As ons vir onsself kan lag op ’n openbare platform, beteken dit ons kan ook kwesbaar voor mekaar wees, wat ons uiteindelik meer menslik maak. Ons almal kan in dié stadium met ’n bietjie meer menslikheid doen.”

Anne Hirsch FOTO Fahema Hendricks

Nou is daar mense wat ongemaklik is met grappies oor so ’n ernstige, dodelike siekte. Prins William is hoeka aanlyn gekritiseer oor sy geestigheid rakende die virus. Waar trek jy die streep? Dis ’n vraag wat hy baie as komediant gevra word, sê Schalk. “Humor is soos kos. Almal se smaak verskil. As jy ’n traumatiese ervaring gehad het, is jy minder geneig om vir donker humor te grinnik wat jou daaraan herinner.” Maar dit sal dalk die volgende ou laat rol van die lag.

Tog kan grappies en satire ook misleidende inligting versprei. Mense weet nie altyd wat om as die waarheid te aanvaar en waaroor om net te lag nie, skryf prof. Wasserman. Baie fopnuus het inderdaad as ironie begin wat verkeerd verstaan is. Soos die verkeerde en gevaarlike idee dat jy jou mond met bleikmiddel moet uitspoel om die virus te ontduik. In die afwesigheid van konteks kan die streep tussen wilde nuusstories en sarkastiese meme baie dun wees, volgens die tydskrif Wired (wired.com).

Dit kan wel ook positief aangewend word. Viëtnam se minister van gesondheid het ’n antivirus-liedjie uitgereik wat burgers moes motiveer om hul hande behoorlik te was. Mense het dit so aansteeklik (ja!) gevind, dit het ’n dansgier op TikTok (sosialemediaplatform vir die skep en deel van kort musiekvideo’s) geword. Neil Diamond plaas ’n video van homself op sosiale media waar hy op maat van “Sweet Caroline” sing: “Hands . . . washing hands (. . .) don’t touch me . . . I won’t touch you.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Rooi Kruis-vereniging gebruik weer TikTok vir openbare aankondigings, met byvoorbeeld jazzerige handewassessies. ’n Manier om mense op te voed sonder dat hulle angstig winkels toe hol om stapels toiletpapier te koop.

Schalk sê: “Humor is ’n vorm van genesing. As jy nie in dié dae kan lag nie, kry ek jou jammer.” Want het ons nie almal nou iets warms nodig om aan vas te hou nie? Ons durf immers aan niks anders raak nie.

Bykomende bronne: nytimes.com, wired.com
Sielkundige salf
Humor is sedert die begin van die geskiedenis ’n sielkundige salf in die donkerste tye. Só het Emily Hobhouse ná die Anglo-Boereoorlog dikwels verwys na die Boere se “perfect good humor”, sê Elsabé Brits, skrywer van Emily Hobhouse, geliefde verraaier (Tafelberg, 2016). Emily het byvoorbeeld by geleentheid by genl. Christiaan de Wet en sy gesin gekuier. Al wat hy ná die oorlog oorgehad het, was sy geweer en getroue wit perd, Fleur. Die gesin se huis is deur die Engelse afgebrand en daarna met dinamiet opgeblaas. “De Wet lag steeds, soos al die burgers,” skryf Emily. “Indien nie, sal hy doodgaan. Dit maak hom groot pret.” Die Engelse regering en soldate is weer die ewige teikens van sy vrou, Cornelia, se gevatte sêgoed. Emily verwys ook na die manier waarop sy deur die Boere ontvang is. Soms was daar net brood om te eet, maar altyd glimlagte en gasvryheid.