Billie Eilish het vanjaar met vyf pryse feitlik skoonskip gemaak by die Grammy-musiektoekennings. Maar haar voorliefde vir sakkerige klere is amper net so ’n gewilde onderwerp as haar stem. “My borste was die nommer-een-besprekingspunt op Twitter,” het sy al in ’n Elle-onderhoud gesê. Sy is gebore met grotes, dis in haar gene, mintag! Daarom dra sy los klere, want niemand kan dan kommentaar op haar lyf lewer nie, verklaar sy in ’n Calvin Klein-advertensie.

FOTO Instagram / Billie Eilish

En plaaslik vertel Mari*, ’n ma van twee, sy het om dieselfde rede ’n voorliefde vir klere wat alles wegsteek. Al is haar borste ná ’n borsverkleining ’n skaflike 36C. Vandat sy op 13 begin ontwikkel het, en vandag steeds, loop sy vooroor om hare minder opsigtelik te maak. (Lees haar storie hieronder)

Plastiese snykunde is net as jy mooier wil lyk? Nie noodwendig nie. Die behoefte aan kleiner borste gaan oor méér as net stylvolle klere wat goed pas. Dis gewoonlik ’n kombinasie van fisieke en emosionele pyn en ongemaklik in jou eie lyf wees. ’n Borsverkleining lig letterlik ’n gewig van jou skouers af en is dikwels lewensveranderend.

Wêreldwyd is borsverkleinings agtste op die lys van gewilde plastiese chirurgiese prosedures, volgens ’n peiling deur die internasionale vereniging vir estetiese plastiese chirurgie (ISAPS). Plaaslike statistieke ontbreek, maar volgens chirurge is dit baie gewilder hier as in bv. Europa. Ons vroue is oor die algemeen mos meer rondborstig as ons Europese susters. Dis egter duur en tans betaal die meeste plaaslike mediese fondse nie daarvoor nie. Sou dit verander, sou selfs meer vroue daarvoor aanklop. (Die prys verskil van chirurg tot chirurg, maar is naastenby R65 000 tot R80 000.)

FOTO Unsplash / Houcine Ncib

Vroue wat ’n borsverkleining kry, het gewoonlik uitermatige groot borste in verhouding tot die res van hul lyf. Nie net kan dit jou ’n swak postuur gee en tot voortdurende ongemak lei nie, dit kan ook jou gevoel van selfrespek ’n knou gee. “Die ekstra gewig sit bykomende stremming op jou nek en borug en kan jou ’n seer nek, skouers, rug en hoofpyn gee,” sê dr. Isabel do Vale, plastiese en rekonstruktiewe chirurg van Johannesburg. “Jy kan ook sukkel met ’n uitslag in die borsvoue. 

OM TE WEET

Die prosedure word in ’n dagkliniek met behulp van skemernarkose (bewuste sedasie) gedoen en duur 2 tot 4 uur, sê dr. Wilkinson.

Oortollige borsweefsel word verwyder vir die verlangde borsgrootte, gewoonlik iets tussen ’n C- en D-keël. Sy beveel aan dat jy ’n nag in die post-operatiewe eenheid deurbring. Jy gaan die volgende 10 dae vir opvolgbesoeke.

Jou borste voel ’n paar weke lank ’n bietjie ongemaklik. Spesiale pleisters word vir 6 tot 12 weke daarna voorgeskryf om letsels te verminder. Daar word aanbeveel dat jy vir 2 weke ná die operasie ’n chirurgiese bra dra en daarna ’n sportbra vir nog 2 tot 4 weke.

Die swelsel sak ná sowat 4 tot 6 weke en die finale resultaat is ná sowat 3 maande sigbaar. In die meeste gevalle kan jy binne 2 weke teruggaan werk toe, tensy jou werk baie fisieke inspanning verg, en ná ’n paar weke weer stadig begin oefen. Die littekens sal ná 6 tot 18 maande vervaag.

“Jy sukkel om ’n bra te vind wat behoorlik pas en jou borste voldoende ondersteun. Die brabandjies kerf dikwels diep groewe in jou skouers weens die gewig wat jou bra moet dra. Dis moeilik, dalk onmoontlik, om te oefen en aan sport deel te neem. Dalk meng dit selfs met jou normale, alledaagse aktiwiteite in.”

Dis “vleisborste, oorerflik”, bekla Maria Lombaard van Robertson, ma van vier, haar lot op Netwerk24.com. “Dit maak dat ek ’n rug het, want die discs skuif uit.” Al waarvoor sy elke dag bid, is dat haar borste kleiner gemaak kan word. Sy voer as’t ware ’n kluisenaarsbestaan.

MARI SE STORIE: SARIE-LESER VERTEL

“Ek was maer op skool, met sulke groot borste. Sportief, maar daardie jare was daar nie bra’s wat jou behoorlik ondersteun nie. Die trane het geloop elke keer wat ek ’n bra moes gaan koop. Hoe groter die nommer, hoe leliker was dit. (Dit het darem intussen verander.) 

Ná my twee kinders se geboorte was my borsmaat ’n 38E. Agt jaar gelede, op 42, het ek ’n borsverkleining laat doen waarvoor die mediese fonds betaal het. Ek het vir die chirurg gesê: ‘So klein as moontlik.’ Hy het gewaarsku hy kan dit nie van ’n E-keël na ’n B-keël verklein nie, dit sou die bloedtoevoer na my tepels belemmer. 

Nadat hy 1,5 kg aan albei kante verwyder het, is ek ’n keël kleiner. Toe ek ná die operasie wakker word, was die pyn kwaai. En ek is iemand wat pyn goed kan hanteer. Maande daarna was my borste nog gevoelig as die stort se water dit tref. Maar dis soos wanneer jou kinders gebore word, jy vergeet hoe seer dit was. 

Net daai gevoel wat ’n kleiner bra jou gee, ai! My vel is lig en die letsels het goed herstel, jy sien dit skaars. (Ek het ’n T-snit gekry.) Groot borste is ’n familieding. My ma s’n is net so groot en sy loop ook vooroor, nes ek. My oudste is in graad 8 en dra reeds ’n 36C-bra. Ek het dit egter by haar ingedril dat sy mooi regop moet loop, trots op haar borste moet wees.”

OUD EN JONK

Vroue van alle ouderdomme klop vir borsverkleinings aan. In haar praktyk sien sy ’n toename van meisies onder twintig, volgens dr. Nerina Wilkinson, plastiese en rekonstruktiewe chirurg van Kaapstad. Dikwels net voor hul matriekafskeid: Ouers wat dit kan bekostig, gee dalk hul meisiekind ’n borsverkleining as geskenk omdat haar skoolloopbaan verby is. “Die hoofrede is borste wat groot en ongemaklik is. Verbeel jou jy dra ’n liter Coke se ekstra gewig aan albei kante . . . Hulle wil aan sport deelneem, klere en swemklere dra wat meer wys. Jong meisies is boonop dikwels meer ingelig oor die voordele van so ’n prosedure.”

Plastiese chirurge is gewoonlik versigtig vir ’n borsverkleining terwyl ’n meisie nog ontwikkel. Tot op 21 kan jou borste nog groei, verduidelik dr. Wilkinson. Die chirurg sal jou dus vra of joune gestabiliseer het, of jy dus die afgelope jaar of wat ’n groter bra moes aanskaf. Sommige meisies se borste is egter teen 16, 17 jaar gestabiliseer. “Daar is geen rede hoekom hulle langer moet sukkel nie. Dit gaan dus meer oor wanneer jou borste ophou groei as ’n spesifieke ouderdom,” sê sy.

FOTO Unsplash / Clarisse Meyer

Meer vroue in hul sestigs kom ook daarvoor. Sy doen dit vir haarself, dikwels wil haar man dit nie eens hê nie. “Dis baie keer vroue wie se kinders altyd eerste gekom het. Dan bereik jy ’n punt waar jy besluit jy het lank genoeg gesukkel om asem te haal. Jy wil dinge doen wat jy gedoen het toe jy jonger was, oefen, reis, opwindende goed. Mooi klere dra waarin jy gemaklik is en wat goed sit. Jy hóéf jou nie te versoen met dit waarmee jy gebore is nie.”

Een van haar oudste pasiënte was 70. Sy het by ’n tehuis vir bejaardes ingetrek, lyndans begin doen en haar borste was in die pad. Haar woorde ná die prosedure: “Dis een van die dinge in my lewe waaroor ek spyt is, dat ek dit nie jare gelede al laat doen het nie.”

Volgens dr. Do Vale is dit van die bevredigendste kosmetiese chirurgiese prosedures, vir chirurg sowel as pasiënt. Studies wys vroue, eens ’n gevangene in hul eie lyf, is gewoonlik in hul noppies met die uitkoms. “Hulle het lank gesukkel en het ’n duidelike prentjie van wat hulle wil hê. Ná die prosedure is dit ’n riem onder die hart om te sien hoeveel gelukkiger en gemakliker hulle in hul eie lyf is.

Maar belangriker, hoeveel hul rug-, nek-, skouerpyn en ander fisieke kwale verbeter het. Die voordele is duidelik: kleiner, ligter, geligte borste wat ergonomies beter op die borskaswand sit. Hul selfvertroue en selfwaarde neem met rasse skrede toe. Die negatiewe kant is die hersteltyd en letsels. Maar hulle sê meestal die voordele weeg swaarder as die nadele, wat meestal goed genees en gou vergete is.”

Die brabandjies kerf dikwels diep groewe in jou skouers
Dr. Do Vale

SÓ WERK DIT

As jou borste gelig word, word minder as 300 g weefsel aan elke kant verwyder, verduidelik dr. Wilkinson. Meer as dit, is dit ’n borsverkleining. Met ’n groot verkleining kan tot 2 kg borsweefsel aan elke kant verwyder word. En met ’n baie grote 3 tot 4 kg weerskante, maar dis nie algemeen nie. “My benadering tot borschirurgie is die skep van ’n natuurlike voorkoms,” sê sy. “Alle pasiënte wil mooi gevormde borste hê wat nie lyk asof daaraan gewerk is nie.”

Jy hóéf jou nie te versoen met dit waarmee jy gebore is nie
Dr. Wilkinson

Onlangse verbetering in die tegniek verminder die letsels wat met so ’n prosedure gepaardgaan. Sy gebruik meestal die “lollipop”- (suigstokkie-) snit, tensy die borste te groot is daarvoor. Die letsel is korter (teenoor die ouer T-snit) en jy kan daarna met selfvertroue klere dra wat meer wys. Dis ook ’n verandering in die filosofie hoe ’n bors gelig word. Met die T-snit word vel verwyder om die bors kleiner en stywer te maak, maar die vel rek later weer. Word die lollipop gebruik, word borsweefsel verwyder en dit wat oorbly, omvorm om ’n interne korset te skep. Dit neem langer om weer te rek en die litteken is kleiner. Die vorm is boonop mooier (met die T-tegniek lyk jou bors plat en vierkantig).

SAL EK KAN BORSVOED?

Dis ’n mite dat jy ná ’n borsverkleining nie meer kan borsvoed nie. Dit gebeur net in ekstreme gevalle waar die tepel verwyder en weer geheg word. Jy kan dalk minder melk hê en sal die baba se dieet met formulemelk moet aanvul.

EN DIE LETSELS?

Die vorm en grootte sal van die tegniek afhang. Met die lollipop-snit is daar ’n ronde letsel om die areola en vertikaal van die tepel tot by die borsvou. En met die T-snit nog een onder die borsvou. Drie dinge bepaal hoe jou letsels daarna gaan lyk: Jou gene, hoe goed die chirurg die snye heg en hoe jy dit ná die operasie versorg. (Sien illustrasies hier bo.)

SAL MY MEDIESE FONDS BETAAL?

Jammer, die meeste mediese fondse beskou dit as ’n kosmetiese operasie en nie medies noodsaaklik nie. Dit ondanks die emosionele en fisieke voordele vir die meeste vroue, volgens dr. Do Vale. Sommige fondse sal dit dalk oorweeg ná ’n motiveringsbrief van jou chirurg, wat insluit foto’s, jou liggaamsgewig, LMI en ’n geskatte hoeveelheid weefsel wat verwyder gaan word. Net as jy aan die fonds se uitermatig streng voorwaardes voldoen, betaal hulle.

FOTO Instagram / Nette Rose

Juliet Harding, die plaaslike musiekgroep GoodLuck se hoofsanger, het op Facebook teen mediesefondse uitgevaar nadat sy vir haar eie borsverkleining moes betaal. Ten spyte van motiveringsbriewe en sketse aan die fonds dat sy só ’n latere rugoperasie kan voorkom, is haar eis afgekeur. ’n Bewonderaar, Kayleigh, skryf sy het ’n stresfraktuur in haar rugmurg gehad en was maande lank bedlêend – die fisioterapeut het dit aan haar groot borste gekoppel. Drie fondse het geweier om vir ’n borsverkleining te betaal.

* Skuilnaam.

KONTAK

Dr. Wilkinson: 021 422 4811, capetown@drnwilkinson.co.za, plastic-surgery.co.za, Dr. Nerina Wilkinson – Plastic Surgeon op Facebook, @nerinawilkinsonplasticsurgeon op Instagram

Dr. Do Vale: 010 900 3999, info@dridv.com

Besoek ’n chirurg wat lid is van die SA Vereniging vir Plastiese, Rekonstruktiewe en Estetiese Chirurge (APRASSA): 011 784 4537, aprassa.co.za