Botox, vullers en plastiese chirurgie het ’n goedkoop mededinger wat jy sommer in jou huis kan doen. Dit klink miskien ’n bietjie verspot, maar dit lyk asof “gesig-joga” deur die wetenskap ondersteun word.           

En boonop is Meghan Markle, die nuwe hertogin van Sussex, glo ’n groot aanhanger daarvan. Vroeër, voor sy deel van die koninklike familie geword het, het sy lank en sand gepraat oor haar passie vir gesondheid, fiksheid en ’n natuurlike voorkoms. Van haar semi-veganistiese dieet tot grimering wat nie haar sproete wegsteek nie.

Wanneer dit by haar gesig kom, is sy duidelik geseënd met goeie gene, maar sy gebruik ook ’n onkonvensionele manier om haar wange en kakebeenlyn ferm te hou. Gesig-joga, volgens Prevention.

“Ek doen Nichola Joss, een van my gunsteling-skoonheidskundiges, se gesigsoefeninge, wat basies jou gesig van binne na buite vorm," het sy aan die aanlyn skoonheidswinkel Birchbox vertel. “Ek belowe dit werk, al voel jy hoe simpel. Op dae wat ek dit doen, lyk my wange en kakebeen se vorm stukke beter.”

Daar steek dalk waarheid in. Daaglikse gesigsoefeninge twintig weke lank en sowat 30 minute op ’n slag kan middeljarige vroue se voorkoms verbeter en hul wange merkbaar voller maak, volgens navorsing aan die Northwestern University School of Medicine.  

Die teorie is dat spiere onder die vel sterker word en die gesig voller laat lyk, ’n teenvoeter vir die verlies aan vet en elastisiteit oor tyd. Om dit te toets moes deelnemers 32 verskillende gesigsuitdrukkings leer en uitvoer, elkeen sowat ’n minuut lank. Die vroue het dit die eerste agt weke daagliks gedoen en daarna al om die ander dag. Dermatoloë en deelnemers het ’n verbetering gesien toe die voor- en ná-foto’s vergelyk is. En in die twintig weke het die gemiddelde geskatte ouderdom van die vroue met sowat drie jaar verminder.

"Dit bewys dat sulke oefeninge die gesig se voorkoms kan verbeter en sommige sigbare tekens van veroudering kan verminder,” volgens die hoofnavorser, dr. Murad Alam. “Die oefeninge vergroot en versterk die gesigspiere, sodat die gesig fermer word en ’n jonger gesig se vorm het.”

Hy benadruk die bevindinge moet in ’n baie groter studie bevestig word, aangesien net 16 van die 27 vroue die oefeninge vir die volle duur van die studie gedoen het. En omdat hulle almal tussen 40 en 65 jaar oud was, is dit nie duidelik of die resultate op die breër bevolking van toepassing gemaak kan word nie.

Dermatoloë is ook nie oortuig nie. “Dis moontlik dat die vroue wat die gesigspier-oefeninge doen, ook meer pligsgetrou oor velsorg is en hul vel teen die son beskerm, sê dr. Joshua Zeichner, ’n New Yorkse dermatoloog, op Prevention. En oormatige gesigsoefeninge kan boonop die teenoorgestelde uitwerking hê en plooie laat toeneem, volgens dr. Gary Goldenberg van die Icahn-mediese skool in New York.

 As jy dit self wil probeer: Joss het onlangs van haar gunsteling-gesigmasseertegnieke op Instagram gedeel:

Ander oefeninge wat in die Northwestern-studie gebruik is, is deur Gary Sikorski van Happy Face Yoga ontwikkel. Dit sluit in die “Die wang-opligoefening”: Maak jou mond oop om ’n “O” te vorm met jou boonste lip oor jou tande. Glimlag om jou wangspiere op te laat beweeg. Sit jou vingers liggies op die boonste deel van jou wang, sodat jy kan voel hoe dit lig. Ontspan en herhaal, vir ’n minuut lank.

Nog een: “Die gelukkige-gesig-glimlag”: Glimlag sonder om tande te wys, druk jou lippe opmekaar, glimlag en dwing jou wangspiere op, sit jou vingers op die hoeke van jou mond, gly dit op na die bopunt van jou wange en hou 20 sekondes lank.