Vergete bloedsuikermonitor wat in ’n kas ontdek is. En ’n nag toe die slaap nie wou kom nie en haar vierjarige dogtertjie se vreemde gedrag eensklaps ’n skrikprentjie gevorm het.

Die nag is lank, maar die sinkplaatpad dorp toe durf jy nie sommer in die donker aan nie. Die volgende oggend is Nadia de Wet se klein Sylvia summier in ’n Pretoriase hospitaal se waakeenheid opgeneem. Die diagnose sou haar en haar gesin se lewe soos hulle dit ken, vir altyd verander: Diabetes tipe 1, ’n chroniese toestand waar die immuunstelsel die selle vernietig wat insulien vrystel en gewoonlik in die kinderjare gediagnoseer word.*

Sylvia is ’n lewendige meisiekind, vertel Nadia, SARIE Voorbladgesig-wenner in 2017. Nie so skaam soos haar sussie en boetie, Esebella (7) en John (10), op daardie ouderdom nie. Sy is uitgesproke, vol selfvertroue en hou van sing en dans. Op hul plaas naby Standerton in Mpumalanga bied die tuin van ’n hektaar genoeg plek vir die kinders om te kerjakker. Ma het al haar dae om Sylvia uit die bome te hou . . .

Diabetes tipe 1 se verskyning is dikwels skielik, dramaties. Só was dit ook met Sylvia.“Dit was nie eens ’n kwessie van twee weke nie, so tien dae. Sy het my snags wakker gemaak omdat sy dors is, glase water gedrink en baie gepiepie. Haar stewige lyfie het skielik gekrimp, letterlik binne ’n week. Ek het kos gegee, sy het geëet. Sy was skielik baie humeurig, haar buie op en af.”

Al dié dinge het Nadia raakgesien, maar wie sal nou dink ’n op die oog af gesonde, lewenslustige kind het ’n chroniese toestand soos diabetes? Dikwels word dit eers gediagnoseer wanneer die kind ernstige simptome begin wys, selfs haar bewussyn verloor. Chemikalieë, ketone genoem, bou in die bloed op en kan onder meer maagpyn, naarheid, vomering en asemhalingsprobleme veroorsaak. Maar voor dit kon gebeur, kom Nadia af op die bloedsuikermonitor.

“Daardie aand drink Sylvia weer hope water. Ek kon nie slaap nie en my oog val op die monitor. En ek beleef ’n ahaoomblik, ek moet haar bloedsuiker meet. Dis amper twaalfuur toe ek een van my slapende kind se vingertjies prik. Die telling is 32, dis hemelhoog, vier tot ses is normaal. Ek toets dit weer. Op die monitor verskyn ‘hi’, dit beteken die vlakke is te hoog om te meet.”

Buiten haar inentings, het Sylvia nog nooit vantevore ’n inspuiting gehad nie. By die Life Groenkloof-hospitaal in Pretoria, waar sy ses dae behandel is, was dit deel van ’n nuwe werklikheid waaraan sy en haar ma gewoond moes raak. “Sy was só moedig, ek het ’n verdowingsalf aan haar handjie gesmeer wat dit morsdood gemaak het. Sy het niks gevoel nie.

“Jy word oorlaai met inligting, maar jou brein is soos ’n spons, jy onthou alles. Want jy móét. Hoe beter ingelig jy is, hoe meer kan jy jou kind help. As Sylvia se bloedsuikervlakke stabiel gehou word, is daar geen rede waarom sy nie ’n normale lewe kan lei nie, sonder enige komplikasies op lang termyn. Daar is geen geneesmiddel nie.”

“Ek het suikersiekte [die woord sangerig uitgespreek] en dit kan nooit, ooit weggaan nie,” sê die meisietjie met die yslike paar bruin oë.Die volle omvang van die diagnose het nie dadelik ingesink nie, vertel haar ma.“Maar die dag toe sy ontslaan word, tref dit my: Ek gaan nou vir haar welsyn verantwoordelik wees – sonder die bystand van die verpleegpersoneel. Sy kan niks in haar mond steek sonder ’n koolhidraattelling nie. Ek het ’n goeie app daarvoor en weeg al haar kos. Haar bloedsuikervlakke moes aanvanklik elke drie uur gemeet word ...”

FOTO Verskaf
FOTO Verskaf

Ná drie weke het sy ’n Metronic-pompie gekry wat as kunsmatige pankreas dien. Dis kleiner as ’n selfoon en sy dra dit in ’n sakkie onder haar klere, jy kan dit nie eens sien nie. Die pompie het ’n “automode”-funksie wat die insulien outomaties aanpas, maar dit kan eers ingespan word wanneer Sylvia sewe is. Tans meet Nadia nog gereeld haar bloedsuiker en moet sy die insulien daarvolgens aanpas.“Ek staan drieuur soggens op, meet dit en gee haar ’n skommel as dit laag is. Sedert die diagnose in Junie het ek nog nie een nag deurgeslaap nie. Dit voel asof ek weer ’n pasgebore baba het!”

Daar is kontroversie oor wat diabete behoort te eet, vertel Nadia. “Die dieetkundige sê ek moet haar eetpatroon sover moontlik normaal hou, net gesond. Ek fokus op minder en gesonder koolhidrate, soos pasta wat van murgpampoentjies gemaak word. Sy kan steeds spaghetti bolognese eet, dis net groen. Op ’n partytjie kan sy ’n cupcake kry, baie suiker, maar ek pas haar insulien dan aan.”

En hoe reageer die aspatat, wat intussen vyf geword het, op haar nuwe werklikheid? “Sy is so oulik, sy steek nie ’n ding in haar mond sonder om my te sê nie. Ons hele gesin het gesonder begin eet, dus voel sy nie dis net sy nie. Kinders is so aanpasbaar, dit maak my sommer emosioneel om daaraan te dink. Sy is die maklikste kind.”

As sy raad vir ouers het, is dit om ’n bloedsuikermonitor in jou noodhulpkissie te hê. Toets jou kind se suikervlakke as sy gedurig dors is en baie piepie. Luister na daardie stemmetjie binne jou wat sê iets is verkeerd.

“Dr. Jacobus van Dyk, die pediatriese endokrinoloog, sê daar was niks wat ons kon doen om dit te voorkom nie. Die meeste van sy pasiënte met diabetes tipe 1 het geen familiegeskiedenis nie. Dis iets wat ‘net gebeur’.

“My hart breek vir haar. Sy gaan nie ’n lewe voor diabetes onthou nie. Dr. Van Dyk is egter positief dat daar binne ’n dekade groot deurbrake met diabetes gaan wees.” En sy kan maar net hoop op ’n geneesmiddel sodat haar kind nie die res van haar lewe daarmee moet saamleef nie.

*DIABETES TIPE 1: Die liggaam vervaardig min of geen insulien nie, die hormoon wat nodig is sodat suiker (glukose) die selle kan binnegaan om energie te maak.

DIABETES TIPE 2: Die liggaam kan die insulien wat hy maak nie doeltreffend gebruik nie (insulienweerstandig).