SÓ VAAK

Antihistamien se mees algemene newe-effek, veral onder die ouer generasie medikasie. Só algemeen is dit dat die bestanddeel difenhidramien ook in sommige slaapmedisyne voorkom. Nie die beste ding om te neem as jy moet bestuur of met swaar masjinerie werk nie. Hoewel die nuwer soorte antihistamien jou minder slaperig laat voel, het dit op sommige mense steeds dié effek.

KURKDROOG

’n Droë mond en oë is baie algemeen by die ouer soorte en ook by sommige van die nuweres. Dalk weens die medikasie se effek op die produksie van asetielcholien, ’n neuro-oordragstof. Dis veral lastig omdat droë oë dikwels rooi, krapperig en geïrriteerd is – ook algemene simptome van allergieë. Die medikasie kan dit dus vererger.

JOU MAAG PARAAT

Ja, dit het ook ’n effek op hoe gereeld jou maag is. Asetielcholien speel ’n rol in die beheer van jou dermspiere, wat die proses aanhelp. Word daardie beweging stadiger omdat jou medikasie met asetielcholien inmeng, kan dinge sukkel. Weer eens is dit meer algemeen by die ouer soorte.

DRUP ... DRUP

Urinêre retensie beteken jy ledig jou blaas nie heeltemal nie. Dit kan weer eens antihistamien se uitwerking op asetielcholien wees. Nes met die ingewandspiere, kan dit die blaasspiere affekteer, wat dit moeilik maak om van al die uriene ontslae te raak.

HELP NIE MEER

Kenners is nie presies seker hoekom ’n spesifieke middel later nie meer werk nie. Bou ons ’n weerstand daarteen op? Of raak ons simptome erger? As jy oor-die-toonbank-medikasie gebruik, is die oplossing maklik. Neem ’n ruk lank iets anders en val later weer terug op die oorspronklike staatmaker. Die weerstand is nie altyd permanent nie.

* Eerste-generasie-voorbeelde: Allerhist®, Allergex®, Daralix®, Lenazine®

* Tweede-generasie-voorbeelde: Zyrtec, Clarityne, Deselex, Telfast, Allerway

BRONNE webmd.com, allergyfoundation.co.za, self.com