Aan die begin van 2020 het ons bewus van Covid-19 geword. Gou het dit ons bestaan handomkeer verander. Frases soos “sosiale afstand”, “handreiniging” en “maskerdra” het oornag deel van ons woordeskat geword.

FOTO Unsplash

Al het ’n nuwe jaar aangebreek, voel dit vir baie van ons asof dit net ’n verlenging van 2020 is. In ’n onlangse meningspeiling op ons Facebook-blad het talle lesers hiermee saamgestem. Die ware gevoel van ’n nuwe jaar het die pandemie óók onder ons neuse kom steel. 

Volgens ’n mediaverklaring van Clere is dit juis nou die tyd om daarop te fokus om goedhartigheid en liefde teenoor ander te wys. ’n Onlangse studie van die Universiteit van Sussex in Engeland bewys dat wanneer ons goedhartigheid teenoor ander beoefen, dit ’n positiewe impak op ons eie gemoed en welstand tot gevolg het. Breinskanderings van ’n 1000 deelnemers waar hulle breine ophelder, het dit bewys.

Boonop kos dade van goedhartigheid niks. En ons almal het dit nou meer as ooit van te vore nodig. 

Beoefen op ’n veilige wyse die dade:

1. “Sosialiseer” met vriende en familie 

Tegnologie maak dit moontlik om by ons naastes “in te loer” en in kontak te bly. Dis belangrik om steeds sosiaal te verkeer en kan vir beide partye baie voordelig wees en eensaamheid teenwerk. 

FOTO Unsplash

2. Maak ’n masker vir iemand

As jy lus het om kreatief te wees en ekstra tyd het, maak ’n masker vir iemand. Krap bietjie rond daar in jou kas of knip daai ou hemp op. Daar is talle videos aanlyn beskikbaar wat jou stap vir stap kan touwys maak. Deel die masker aan ’n behoeftige by die robot uit.

3. Verras iemand met aandete

Bestel aandete vir jou ouers, grootouers of ’n vriendin en laat dit by hulle huis afgelewer word. So spaar jy iemand die moeite om self kos te maak en ondersteun ’n plaaslike besigheid in jou omgewing.

4. Doen iemand se inkopies namens hulle

Ken jy dalk ’n bejaarde persoon of iemand wat sieklik is? Vra of jy namens hulle hul inkopies kan doen sodat hulle nie onnodig die huis moet verlaat en moontlik blootgestel kan word nie.  Bel hulle en los die inkopies by die deur om onnodige kontak te vermy.