Storie het oorspronklik in 2019 verskyn.

Jy het ’n kafeïen-skop nodig om soggens aan die gang te kom en vergryp jou aan suiker, stysel. Dalk baklei jy met kollegas, familie, ander motorryers. Of jy wil net op jou bed lê en sepies kyk, heeldag, aldag. Miserabel, depressief en moedeloos, bevraagteken jy moontlik elke lewenskeuse wat jy ooit gemaak het. Of jy is net so moeg – liggaam en siel.

Die vele gesigte van uitbranding. In Mei 2019 word dit as ’n diagnose erken word, volgens die internasionale klassifikasie van siektes (ICD-11), die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se handboek vir dokters. Dit word geklassifiseer as ’n “sindroom wat ontwikkel weens chroniese stres by die werkplek wat nie suksesvol beheer word nie”. Dus word die diagnose tot die werksomgewing beperk.

Die tentakels daarvan reik egter verder en wyer, volgens Judy Klipin, ’n Martha Beck- gesertifiseerde lewensafrigter van Johannesburg en skrywer van Recover from Burnout: Life Lessons to Regain Your Passion and Purpose (Bookstorm, 2019).

Van huisvrou tot hoofbestuurder, enigeen kan uitbrand. “Uitbranding het uit die raadsale beweeg tot in elke hoekie en gaatjie van die samelewing,” sê Judy. Dít is weer eens by haar tuisgebring ná ’n radiopraatjie waaraan sy deelgeneem het. Mans, vroue, jonk en oud, het ingebel om hul storie te deel. Huisvroue, studente, jong volwassenes, onderwysers, polisiebeamptes, verpleegsters, dokters, maatskaplike werkers . . . al die vlakke van die samelewing.

SIMPTOME:

  • Elke dag is ’n slegte dag
  • Dit voel na ’n mors van energie om na jou take by die huis en werk om te sien
  • Jy is altyd moeg
  • Die grootste deel van jou dag bestee jy aan take wat jy as oorweldigend of sieldodend ervaar
  • Jy voel hulpeloos, vasgevang en alleen
  • Jy voel asof niks wat jy doen, waardeer word nie
  • Jou immuniteit is swak, jy is dikwels siek en het gereeld skete en pyne
  • Jou eet- en slaappatroon het verander

Bron: www.helpguide.org

oseaan
FOTO Unsplash / Alister Hitchcock

HERSTEL VAN UITBRANDING:

Judy het ’n 7-punt-plan om jou lewenskrag ná uitbranding terug te kry en te handhaaf, die SPANNER.

S= Self

Vind en koester jouself met selfsorg, selfliefde, selfdeernis, selfgesentreerdheid (teenoor ander-gesentreerdheid) en selfverwesenliking.

P= Peace, of vrede en stilte

Ons het almal stiltetyd nodig: om te rus, ontspan, mediteer.

A= Ask, Accept, Allow

Of vra, aanvaar en laat toe. Jy kan jou lewe soveel makliker maak as jy jouself toelaat om te vra (en dit te aanvaar): hulp, liefde, raad, terugvoering en enigiets positiefs wat aangebied word.

N= Nourish, of voed

Voed jou liggaam, kop en siel met voedsame/heilsame kos, gedagtes en dinge. N = Nee! Jy voel oorweldig as jy te veel dinge op jou program het.

E = Exercise, of oefening

Met ligte oefening adem jy suurstof in en stres uit, adrenalien word weggewerk en jou bloed pomp vinniger. Jy slaap dan beter en het ’n aptyt vir gesonde kos.

R = Relationships, rest and relaxation

Verhoudinge, rus en ontspanning. Herbelê in verhoudinge wat jou voed – gee hulle die tyd, aandag en moeite wat hulle (en jy) verdien. Sorg vir genoeg slaap- en ontspanningstyd om jou batterye te herlaai. Doen al sewe elke dag en jy gaan vinnig weer mens begin voel. Die stappe hou met mekaar verband en jy hoef dus nie daagliks sewe afsonderlike dinge te doen nie. Drink soggens voor werk tee in die tuin en jy kan vrede, tyd vir jouself sowel as die behoefte vir alleentyd omarm. Jy sê boonop nee vir chaos en haas.

oseaan
FOTO Frank Mckenna / Unsplash

Wat nou?

Rus. Vra (en aanvaar) hulp en identifiseer waarvoor (en vir wie) jy nee kan sê.“Ek sê altyd vir kliënte: ‘Wat kan jy neersit om jouself op te tel?’Jy moet tyd maak om jou batterye te herlaai en die enigste manier om dit te doen, is om nie meer alles te probeer doen nie. Veral dinge wat jy nie wil doen nie en jou ongelukkig en gestres laat voel.

“Dis ’n reuse-kopskuif, veral vir ma’s. Want jy voel selfsugtig, gemaksugtig, hoe kan jy aan jouself dink? Jy kán, móét die middeweg vind tussen selfsug en selfopoffering.”

As jy uitbrand en ’n lang wegbreekkans vat, gaan dit jou help om jou kragte te herwin. Maar dis nie ’n langtermyn-oplossing as jy daarna terugkeer na dieselfde omgewing en jou ou gewoontes hervat nie. Jy gaan net weer oppak. Judy self het al vier tot vyf keer uitgebrand, maar sê sy het hopelik haar les geleer. Jy moet dieper in jouself delf, ’n begrip vorm van wat die onderliggende redes is waarom jy jouself so dryf. Dus: ’n Wegbreek gee jou kans om asem te skep, ’n opname van jou lewe te maak en hopelik slegte gewoontes te verander.

“Dikwels as jy van uitbranding lees, is die raad ontspan, moenie angstig raak nie, kalmeer ...Regtig? Hoe stop jy ’n wegholtrein? Wat wel waardevol is, is as jy weet wat jou angstig maak, hoekom dit jou angstig maak en wat jy daaraan kan doen. Kry terapie of leefstyl-afrigting om te help identifiseer watter gedagtepatrone, vrese en oortuigings (soms onbewustelik) jou tot uitbranding dryf.”

Sy glo jy brand nie uit omdat jy te veel doen nie. “Jy sien mense wat altyd besig, besig is, maar nie uitbrand nie. Want hulle beleef dít wat hulle doen, as betekenisvol. Maar sodra jy voel jou werk is nie wat jy wíl doen nie, dis nie reg vir jou nie, dat jy dit haat, tree die oorweldigende moegheid in. Jy gebruik al jou energie om iets te doen wat jy voel nie die moeite werd is nie.” Judy self het twaalf jaar gelede haar werk in strafregspleging verruil om lewensafrigter te word.

Sy is bekommerd oor hoeveel mense met uitbranding sy om haar sien. Stop, maak tyd om na te dink wat jóú behoeftes is. Dit beteken nie jy moet ophou werk nie. Maar doen elke dag 15-20 minute lank – jy kan met minder begin – net mooi niks. Gaan op ’n rustige wandeling, lê in die bad, maar sonder om met iemand te praat, iets te lees of na iets te luister. Vra jouself af wat jy voel. Hoekom voel jy so en wat kan jy daaraan doen.

“Ons brand uit as ons nie meer in kontak met onsself is nie. Luister na jou liggaam, dis die ingangsportaal na jou siel.”

Besoek: judyklipin.com