Môre, Donderdag 9 Augustus, is Nasionale Vrouedag. Die dag sal reg oor Suid-Afrika gevier word ... miskien met koek of vonkelwyn, en party van ons gaan langnaweek hou. Maar wat beteken Vrouedag en hoe het dit ontstaan?
Meer as 60 jaar gelede, in 1956, het sowat 20 000 dapper vroue op hierdie dag in Pretoria ’n vreedsame optog teen die destydse apartheidsregering gehou. Sedert die aanbreek van demokrasie in 1994 word daar op dié dag hulde gebring aan ons nasie se sterk vroue.
Die vroue het hul stem dik gemaak oor die paswatte wat die regering strenger wou maak. Die optog het by die Uniegebou tot stilstand gekom waar die vroue 30 minute lank in stilte gestaan het. 14 000 petisies is by die deur van die destydse eerste minister, J.G. Strijdom, gelos. Die optog is deur Helen Joseph, Lilian Ngoyi, Rahima Moosa en Sophia Williams gelei om vroue van alle rasgroepe te verteenwoordig. Die optog het vroue laat besef hulle hét ’n stem. ’n Kragtige stem.