Water én wind – hetsy ’n briesie of stormsterk. Karo van Tonder van Langebaan kan nie genoeg kry nie. Dis élke keer anders, dis wat seilplankry so verslawend maak, sê sy.
“Soms loop die wind en gety saam en die strandmeer by ons is blinkglad ... Jy kan jou oë toemaak terwyl jy oor die water vlieg en na die seemeeue luister. Ander dae steek so ’n sterk noordwester op dat jy met jou seilplank soos ’n cowboy oor groot golwe spring terwyl die adrenalien pomp!”
Op die water is Karo altyd gelukkig, en as dit boonop met ’n uitdaging gepaardgaan, skop haar kompetisie-instink en dryfkrag in.