In Augustus vanjaar het die skrywer Marita van der Vyver haar groot huis in Provence opgepak – die eeu-oue huis waar sy haar hande eelte gewerk het om die tuin in ’n lushof te omskep, waar sy in haar groot bad sou lê en uitkyk oor die Franse platteland.
Teen 1 September moes sy en haar man, Alain Claisse, daar uit, met net die nodigste in hul Kangoo-motor gelaai vir ’n swerfjaar op die pad.
“Dit was baie moeilik om daardie huis te verlaat waar ek gedink het ek die res van my lewe sou woon. Ek woon al 25 jaar op die Franse platteland en die laaste elf in daardie huis – die langste wat ek nog op een plek gebly het. Maar tog sien ek uit na die jaar wat voorlê,” vertel sy via Zoom vanuit ’n vriendin se gastehuis in Frankryk.