Maag in, skouers terug en swaai daai arms! Jy gaan sommer ook meer positief voel, sê wetenskaplikes. Selfs al voel jy ’n bietjie af, sal so ’n regop en energieke houding jou spreekwoordelik jou kop laat optel. Lig terselfdertyd jou mondhoeke en rugsteun dit met positiewe gedagtes. Wanneer jy glimlag asof jy dit bedoel, kan jy jou breinchemikalieë verander en gelukkiger voel.
Een van die vyf vernaamste dinge waaroor sterwendes spyt is, is dat hulle nie in kontak met familie en vriende gebly het nie. Dit laat jou goed voel om tyd deur te bring saam met mense wat vir jou omgee. Studies wys hoe meer sulke verbintenisse jy het, hoe gelukkiger is jy. Vind voorts maniere om by jou gemeenskap betrokke te raak en help ’n vriend in nood. Dit verbeter jou geestelike gesondheid en welstand.