Die groenoog-monster het al baie verhoudings vernietig. Maar jaloesie is nie altyd sleg nie. Daardie vlietende onsekerheid of kommer herinner ons daaraan dat ons nie ons lewensmaat as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Dit kan weer nuwe lewe in die liefde sit . . .

Ongesonde jaloesie, daarenteen, wyk nie en kan ontaard in impulsiewe, obsessiewe gedrag wat deur paranoia gevoed word. Dit kan later selfs tot fisieke, verbale en/of emosionele mishandeling lei, sê Anri van den Berg, spesialis-welweesberader van die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria-Oos.

In kort: Gesonde jaloesie bou ’n verhouding, ongesonde jaloesie breek dit af.

Anri en dr. Elize Morkel, kliniese en voorligtingsielkundige van Somerset-Wes, ontleed twee lesers se briewe hieroor.

Linda se verhaal*

“Linda het lank met my broer Piet uitgegaan. Sy was sy ideale vrou – aantreklik en sportief. Maar sy was besitlik. In alle billikheid teenoor haar, hy wás huiwerig om te trou en dit kon haar onseker laat voel het. Sy sou hom dikwels soms grappenderwys voor almal beskuldig dat hy na ander vroue kyk of dat hy dink hulle is meer begeerlik. As hulle ernstig vassit, sou sy goed sê soos: ‘Gaan nou maar na Santie [sy buurvrou met wie hy goeie vriende was], ek weet dis wie jy eintlik wil hê.’ 

“Linda sou my gereeld vra of hy vir my iets gesê het oor Santie en of ek dink sy is mooi. Sy het pal op Instagram of Facebook gekyk saam met wie hy tyd deurbring. Toegegee, my broer is baie sosiaal en lief vir mense, maar hy het haar nie rede gegee om jaloers te wees nie. Dit was asof sy dit nie kon verhelp nie. As hy moes laat werk, sou sy dikwels by sy kantoor verbyry om te kyk of hy wel daar is. Een of twee keer was sy sekretaresse se motor daar – toe was sy vir ’n ruk onrustig oor háár. Tot dié verloof geraak het. 

“Piet was mal oor Linda, maar sy het hom net te veel uitgevra oor ander vroue (soms met ’n ompad, ander kere reguit) of op vreemde tye gebel omdat sy ‘iets by hom vergeet’ het. In ’n stadium het hy die verhouding verbreek. ’n Ruk later het hulle weer probeer en selfs kortstondig verloof geraak. Totdat hy besef het hy het nie eens die vrymoedigheid om ’n vrouekollega se naam te noem nie, want hy wil Linda nie ontstel nie. Ironies het Piet toe wel daarna ’n verhouding met Santie aangeknoop. Dit was vir Linda ’n ‘bevestiging’ dat hy al die tyd wél op Santie verlief was. 

“Linda se ouers is vroeg geskei, haar pa trek al by sy derde vrou, maar sy het ’n liefdevolle ma met geen hangups nie.”

Anri van den Berg verduidelik:

Linda toon beslis tekens van ongesonde jaloesie. Geen mens weet wat in iemand anders se gedagtewêreld aangaan nie, maar sy beskuldig Piet daarvan dat hy dink ander vroue is mooier en soek bevestiging daarvan by die mense om haar. Sy kyk met ’n valkoog na sy sosiale media en soek verskonings om by sy huis of werk op te daag, met die verwagting om hom op heter daad te betrap. Later kon hy nie meer openhartig met haar kommunikeer nie.

Bygesê, Piet het ’n verantwoordelikheid gehad om Linda gemaklik en veilig te laat voel. Maak nie saak hoe plat ’n pannekoek is nie, dit het twee kante. Hy kon dalk wel oorvriendelik teenoor ander vroue opgetree het en dit kon bygedra het tot haar onsekerheid in die verhouding. 

Die wortels van ongesonde jaloesie lê egter eintlik in ’n ander emosie: Vrees. ’n Mens wat ongesond jaloers is, het ’n diep vrees dat sy iets of iemand gaan verloor wat vir haar belangrik is. Dié vrees kan onder meer spruit uit ’n vorige trauma, waar sy verwerp is of ’n verlies gely het, of dit het dalk met iemand belangriks in haar lewe gebeur. Sy tree as’t ware uit selfbeskerming op.   

Ons weet nie genoeg van Linda se vorige verhoudings (of die een met haar pa) nie, maar dit kan dalk ’n rol speel. As haar ouers geskei het weens ontrou, kan haar vrese moontlik ook hieruit spruit. Die jammerte is dat Linda uiteindelik die werklikheid wat sy gevrees het, veroorsaak het – die sg. selfvervullingsprofesie. Hoe groter iemand se agterdog, woede, aantygings, konflik of pogings tot beheer, hoe meer onttrek haar maat hom – fisiek en emosioneel. En hoe meer die persoon onttrek, hoe groter die vrees en hoe meer raak die selfbeskermende gedrag. 

Dit lei gewoonlik tot een van twee uiteindes: Die een aan die ontvangkant van die jaloesie probeer al hoe meer om nie die jaloerse persoon te ontstel nie, óf hy ontsnap en beëindig die verhouding. Soos Piet gedoen het. Of soms raak ’n persoon se hele doen en late gefokus daarop om nie die jaloerse maat rede tot agterdog te gee nie en daarom word hulle maklik kluisenaars, te bang om ’n voet verkeerd te sit. 

Iemand wat jaloers is, kan nie haar lewensmaat vertrou nie. Óf weens vorige verhoudings en trauma óf weens iets wat in die verhouding gebeur het. As Linda byvoorbeeld per ongeluk op onvanpaste kommunikasie tussen Piet en Santie afgekom het, was haar wantroue geldig. 

Ek twyfel of Piet en Linda se verhouding sonder objektiewe, kundige hulp sou kon werk – ongeag die oorsprong van haar jaloesie. Vertroue is een van die hoekstene van ’n gesonde verhouding en wanneer dit eers verbreek is, is dit ontsaglik moeilik om te herstel. 

As Linda besef dat haar verhoudings herhaaldelik dieselfde patroon volg, moet sy dalk eerder aan haarself of haar keuse van lewensmaats werk.

Bets se verhaal*

“Ek was geskok toe ek my vriendin Bets by ’n troue in Gauteng sien. Sy het die hele aand styf teen haar nuwe kêrel gesit. Om haar middel het sy ’n serp gedra – die punt het hy styf vasgehou; sy kon nie opstaan as iemand haar vra om te dans nie. Toe ek haar later in die kleedkamer vra of sy my gaan voorstel, het sy amper paniekerig gesê: ‘Moet net nie iets oor Ben sê nie.’ Ben was letterlik járe gelede haar kêrel.“

Bets (48) was nog altyd selfstandig en suksesvol, met ’n groot vriendekring. Die afgelope jaar het sy weinig my whatsapps beantwoord, maar ek het dit toegeskryf aan die deurmekaar Covid-jaar. Boonop woon ek in Natal, sy in Gauteng. Maar ná ’n gesprek met haar boesemvriendin by die troue, het ek besef dat selfs háár boodskappe onbeantwoord bly of kripties beantwoord word. Wanneer sy bel, sou Deon antwoord of Bets sou nie ‘tyd’ hê vir gesels nie, want ‘Deon was daar’. 

“Die vriendin het Bets eendag raakgeloop en gekonfronteer: Dit blyk toe hy hou nie daarvan dat sy soveel kontak met haar vriende het nie. Hulle het haar vir jare geniet, hy wil haar ’n slag vir homself hê, was sy verweer. Toe sy sê dis snert, het Bets hom verdedig en gesê dis omdat hy haar so liefhet. Hy was sjarmant, het haar op die hande gedra en bederf. 

“Sy het wel later erken dat sy Deon al betrap het dat hy haar whatsapps lees. In die begin het hy haar ewe belangstellend oor ou kêrels uitgevra, en sy het eerlik geantwoord omdat dit regtig ou koeie is. Maar nou beskuldig hy haar kort-kort (veral as hulle vassit) dat sy nog kontak en/of gevoelens vir van hulle het. Dan moet sy mooipraat en ‘bewys’ dat dit nie so is nie. 

“Stilstuipe volg . . . vir dae. Ons kon skaars gesels by die troue en het afgespreek om koffie te drink voor ek terugvlieg. Daar gekom, is Ta sowaar by. Ons kon nie een private woord deel nie. Sy het eintlik onnatuurlik opgetree en net oor sy prestasies gesels.”

Dr. Elize Morkel verduidelik: 

Baie mense sal Deon se gedrag as jaloesie beskryf. Hier is egter gevaarligte wat op magsmisbruik dui. As ons na sy gedrag en die effek daarvan op Bets kyk, is “jaloesie” (selfs patologiese jaloesie) ’n té onskuldige en misleidende benaming. Sy is waarskynlik nog by hom omdat sy dink hy is net jaloers. Sy voel gevlei dat hy so “gek” is na haar dat hy haar net vir homself wil hou en haar so onweerstaanbaar vind dat hy bang is ander mans sal haar afrokkel.

Saam met sy jaloesie is daar nóg tekens wat dui op ’n sterk moontlikheid van emosionele mishandeling en selfs geweld in die toekoms. Soos sy besitlikheid: Hy glo sy behoort nou aan hom. Hy is selfs jaloers oor hoe mans jare gelede “sy” meisie kon bemin, en sy hulle. Hulle is ’n bedreiging. Hy wil alles beheer wat sy doen en met wie sy kontak het – selfs koffie-afsprake en oproepe. Hy wantrou haar só dat hy haar whatsapps lees. Hy neem haar onder kruisverhoor, beskuldig haar valslik, en sy moet die teendeel bewys. Hy ontmagtig haar, want hoe bewys jy jou intensies? Hy isoleer haar sodat sy van hom afhanklik raak en nie haar ervarings by ander kan toets nie. Dit klink asof sy bang is om hom te ontstel.

As die verhouding nét sleg was, sou sy wegstap, maar die aantrekkingskrag is duidelik groot. Soveel van haar behoeftes word bevredig – hy is liefdevol en bederf haar en dit verblind haar vir die erns van dié waarskuwingstekens. Ek hoor dit dikwels in verhoudings waar daar misbruik is – “hy is eintlik wonderlik, dis net dit of dat wat dit moeilik maak”.

Dit lyk asof Bets se lewe verskraal tot net die een verhouding en asof sy baie prysgee, soos haar privaatheid en ’n lewe buite hul verhouding. ’n Verhouding is gebaseer op wedersydse respek, dit moet jou geborge en veilig laat voel. As sy eerlik met haarself is dat sy gedrag onaanvaarbaar is, kan sy hom konfronteer as dit veilig genoeg is – en haar grense trek.

Met terapie – ’n lang pad – kan Deon insig in sy gedrag kry. Die uitdaging is om hom te oortuig dat daar ’n probleem is en dat hy daarvoor verantwoordelik is. Dis ’n begin as hy bereid is om dit te erken, en hopelik oortuig kan word om professionele hulp te kry. As die verhouding egter só voortgaan, sal hy dinge waarskynlik eskaleer. Hy kan Bets so afbreek dat sy selfs kan glo dat sy die oorsaak van hul probleme is. Hoe meer geïsoleer sy is, hoe minder opsies het sy om uit die verhouding te kom.

Wat lê moontlik agter sy gedrag? Ons samelewing skep ’n klimaat vir mans om vroue te domineer en hul mag te misbruik, met oortuigings soos “die man is die hoof van die huis” pleks van maats met ’n gelyke sê, invloed en mag. Dalk het Deon vroeg die gedragspatroon by sy pa aangeleer. Soms hou besitlikheid en jaloesie ook verband met ’n vorige verhouding – ontrouheid kan diep wonde laat en vertroue skend. Ander trauma kan ook bydra tot ’n oordrewe vrees dat jou maat jou gaan verwerp of verlaat.                                     

* Skuilname is deurgaans gebruik.