Collet Ngobeni was in matriek toe sy die eerste keer ’n regte olifant, leeu, renoster sien. Dit terwyl sy naby Bosbokrand, ’n hanetree van die Krugerwildtuin, grootgeword het. Maar vir haar kinders, Ntsakelo (10) en Oscar Jr. (5), is dit anders. Wilde diere was van kleins af deel van hul ervaringsveld. Hulle leer by hul ouers hoe belangrik dit is om ons kosbare wild te bewaar. (Pa Joel Sithole werk by die bewaringsorganisasie Elephants Alive in Limpopo.)

En dís hoe die stryd teen stropers gewen gaan word. Nie met gewere en koeëls nie, maar in die klaskamer. Só sê Collet, en sy behoort te weet. As lid van die Swartmambas, ’n teenstropingseenheid van net vroue in Limpopo, is bewaring haar passie én brood en botter.

Maar baie van die stropers kom uit haar gemeenskap, dis haar mense. Hul kinders sit saam op die skoolbanke. “Daar is groot verdeeldheid in die gemeenskap oor stroping, baie mense sien nie enigiets verkeerd daarmee nie,” som sy op.

Die Olifantwes-streek van die Balule-natuurreservaat is onder meer die habitat van die bedreigde witrenoster. FOTO GETTY IMAGES/GALLO iMAGES

Voorheen werkloos, was sy in 2013 een van die eerste ses vroue wat as Swartmambas opgelei is. Vinnig, sterk, nes die reptiel wie se naam hulle dra, is hulle ’n wapen in die veldtog teen wildstropers: die Olifantwes-streek van die private wildreservaat Balule, deel van die groter Krugerwildtuin, se weergawe van sigbare polisiering. Soos die Britse bobbies dra hulle nie vuurwapens nie.

Tans patrolleer 36 Mambas die gebied se grense. Hul teenwoordigheid het voorvalle van stropery – onder meer met vangstrikke – in die reservaat met tot 76% laat afneem.

Die eenheid was die idee van Craig Spencer, eens hoofbewaarder van Balule en nou hoof van Transfrontier Africa NPC, onder wie se vaandel die Mambas tot stand gekom het. Craig het besef die groot ekonomiese en kulturele gaping tussen die ryk wildreservate en plaaslike arm gemeenskappe moet tot elke prys oorbrug word. Dat dít is wat stropery gedeeltelik dryf. Want hoe nou as dit vir  jou kinders kos op die tafel sit?

Lerato Selepe, sersant Goodness Mhlanga en Collet Ngobeni. FOTO 3DE STUDIOS

Sterk vroue, sterk gemeenskappe. ’n Sterker en veerkragtiger Groter Krugerpark. Vroue kan ’n positiewe rol speel: Nie net in die beskerming van wild nie, maar ook in hul gemeenskap. Hulle word nuwe vaardighede geleer en verseker van ’n werk sodat hulle vir hul gesin kan sorg. Terselfdertyd ontwikkel hulle selfvertroue. Trots, waardig in hul netjiese uniform, kyk jong meisies op na hulle, sien hulle as rolmodelle.

As toesighouer beman Collet deesdae die bedryfskamer met sy groot skerm. Die Mambas is bewapen met pepersproei en radio’s. Hulle is op die uitkyk vir strikke, voertuie, stemme of geweerskote, enige verdagte aktiwiteite. As hulle stropers gewaar, kruip hulle weg en vra versterking, die manne met vuurwapens moet kom help. Hulle is nie deel van die hinderlae om die stropers te vang nie. “Ons glo as ons vuurwapens dra en op stropers skiet, gaan hulle ook op ons skiet. Ons wil nie weduwees, weeskinders in ons gemeenskappe sien nie.”

Sersant Felicia Mogahane, ’n lid van die Swartmambas, en haar jongste seun in die huis wat sy in ’n tradisionele dorpie naby Acornhoek bou. FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES

En Craig: “Hoe plaas jy die lewe van ’n dier bo di van iemand uit jou gemeenskap? Sonder die luukse van traumaberading en ondersteuningsgroepe kan hierdie vroue potensieel die stres na hul gesin verplaas. Vroue is die hoofversorgers van hul gemeenskap. Ons wil liefs die ideaal koester van ma’s wat hul kinders saans in die bed sit, wonderlike stories oor olifante en bokkies vertel. Van die skoonheid van die Afrikabos. Eerder as dood en vuurwapens en angsversteurings.”

Hulle maak dus staat op hul opleiding en spanwerk om hul werk te doen. Om vir draadstrikke te vee en die verwydering daarvan is een van haar gunstelingdinge om saam met die Mambas te doen, vertel Valeria van der Westhuizen, skakelbeampte van Transfrontier Africa NPC. “Ons tree in ’n ry aan en word aangesê om agter ons skaduwee aan te loop.

Nie ’n maklike taak nie. Waar die  struikgewasse dig is, moet jy ’n pad vind maar steeds rigting hou. Die bos is baie doringrig, jy haak elke twee of wat treë daaraan vas. Al het ons sesuur die oggend begin om die son se byt te ontsnap, raak dit vinnig warm. Die twee eenliterbottels water in my rugsak is gou op. Jou aandag is die hele tyd by die bos. Van ver af lyk die drade wat in strikke gebind en aan die bome geheg word, soos dun takke. Elke strik wat jy mis, beteken ’n dooie dier. Gelukkig kry ons dié dag net een strik en dis ’n oue.”

Een dier minder wat gevang gaan word en ’n aaklige dood sterf.

Sersant Cute Mhlongo rapporteer terug aan die radiokamer ná ’n voetpatrollie. FOTO GETTY IMAGES/GALLO IMAGES

Dis die wilde diere se domein en elke  dag is daar onverwagte ontmoetings met leeus, luiperds, renosters, olifante . . . Collet se mees vreesaanjaende oomblik was toe sy deur ’n olifant gejaag is. Maar verreweg die grootste uitdaging is die warm son, volgens haar.

Die Mambas het al verskeie toekennings ontvang. In 2015 was hulle wenners van die Verenigde Nasies se toekenning Omgewingskampioene van die Aarde in die kategorie Inspirasie en Aksie. Collet het dit namens die span in New York ontvang. “’n Besige plek,” beskryf sy dié wêreldstad.

Sy spreek gereeld internasionale en plaaslike groepe toe oor die Swartmambas se werk. Hulle besoek ook skole en vertel die leerders hoe belangrik die beskerming van die wilde diere is.

“Die gemeenskap is oningelig. Dus voed ons hulle op, veral jong kinders, en hulle vertel weer hul ouers.”

En vir mense wat dink dis nie ’n vrou se soort werk nie? Collet sê pront: ‘‘Alles is moontlik. Jy moet net toegewyd en lief vir jou werk wees. Ons groepie vroue het die regte houding, daarom is ons suksesvol.”

Besoek blackmambas.org, @blackmambasapu op Facebook, @theblackmambas op Instagram.