Of dit nou ’n handgemaakte wolskapie is, knus ingepak langs die sagste sybokhaar-en-wolkombersie of iets unieks vir die kombuis, soos ’n roosterkoek-rooster spesiaal geskep deur draadkunstenaars van Cradock . . . elke item in ’n Karoo Farm Box word met ewe veel sorg gemaak en verpak.

En die wêreld kan nie genoeg kry nie.

Dit is so lekker om mense trots te maak – die beste goed in Suid-Afrika kom immers uit die Karoo, sê Louzel Steyn, bemarkingsbestuurder van hierdie inisiatief.

Die bokse het eintlik uit “nood” begin toe haar ma, Lani Lombard, weens die inperking vir eers die deure van True Living, haar bakkery, geskenk- enkoffiewinkel op Cradock, moes sluit. Lani vertel nadat sy ’n “groot beklemming van niksdoen” begin kry en ’n diepe bekommernis oor haar personeel ervaar het – baie van hulle die broodwinners in hul huishoudings – het sy begin plan maak om die voortbestaan van haar winkel en sy mense te verseker.

“Ons kom ’n lang pad saam, hulle is my mense. Ons is lief vir mekaar, ons bid saam, lag saam, huil saam.”

Sy het kos in bokse begin aflewer –  ’n noodsaaklike diens. Toe dink Lani en skoonseun Louis, wat met Louzel getroud is, aan ’n plan: Hoekom nie ook topgehalte-Karooprodukte in ’n boks verpak en met die res van die wêreld deel nie?

Aanvanklik het hulle net twee luukse bokse gehad – ’n winterboks vir mans en ’n modeboks vir vroue, maar mettertyd het nuwes bygekom so vinnig soos Lani, Louis en Louzel kon dinkskrum: vir baba, die kombuis, die jagter . . .

Van links is Hanlie Steyn, Lops Steyn, Louis Steyn, Louzel Lombard Steyn, Wentzel Lombard en Lani Lombard. FOTO VERSKAF

In dié familie is almal deel van die besigheid. “As ek en my ma saam is, kan ons nie anders as om planne te maak nie,” sê Louzel. Sy verpak ook al die bokse – ’n kuns op sigself. Louis, ’n genetikus wat van die huis af vir ’n internasionale maatskappy werk, is in beheer van die logistieke en tegniese sy (hy het die webwerf ontwerp en is ’n e-handel-boffin). En Lani weet net waar om te soek vir die beste wat die Karoo bied. Elkeen het sy eie rol, maar hulle het een ding gemeen: ’n hart vir dié wêreld.

Lani, oorspronklik van die Noord-Kaap, het ná haar troue kom woon op Cradock, waar haar man, Wentzel, met angorabokke boer. Hier het sy die Karoo se inwoners leer ken as mense wat nie sommer gaan lê nie. Hulle druk deur en maak planne, vertel sy.

“Dis boervroue wat agter hul man staan deur droogtes en swaar tye soos ons die afgelope tyd beleef het. Dorpenaars wat omgee vir mekaar. Entrepreneurs en ondersteuners. Warm mense met liefde vir ander. Karoomense deel graag hul lewens en goeters. Daar was soveel van my klante met oop hande wat geld in True Living se rekening inbetaal het vir my mense in die grendeltyd,” sê sy.

Die Karoo Hunter’s Box. FOTO Verskaf

Sy het haar winkel nog altyd gebruik as ’n vertoonvenster vir die gemeenskap en wou van die begin af dieselfde met dié projek doen.

“Toe ek pas getroud is, het ek letterlik al my talente ingespan om te probeer geld verdien. Naaldwerk gedoen, geplant, gebak en heelwat gebrou! Ek het geleer as jy op ’n plaas ver van die dorp woon, moet jy iets doen vir ’n inkomste. Die pad wat ek geloop het, het my ’n hart gegee vir ander wat ook so ’n bestaan probeer maak. Daar is vir my niks lekkerder as om te gaan soek na mense met besonderse produkte en niks so bevredigend soos om iemand te sien groei en blom nie.”

Die kriteria is eenvoudig: Óf die rou produk óf die maker moet uit die Karoo kom.

Haar soektog het haar al by interessante mense uitgebring.

Die meisie wat die skapies maak, is ’n haarkapper op Oudtshoorn, maar sy hekel skapies dat dit klap vir ’n ekstra inkomste. (Haar gewilde “Japie” kom in die Baby Heirloom Box.)

Die Baby Heirloom Box met Japie die skapie.

Die boervrou wat hul wolpantoffels maak, het in die grendeltyd reuse-uitdagings gehad met die looiery wat gesluit, oopgemaak en toe weer toegemaak het soos mense positief vir die virus getoets het. Maar sy is ’n ystervrou wat vir haar plaasmense werk verskaf en tot in die vroeë oggendure woeker om in die oorweldigende aanvraag te voldoen. Haar pantoffels is meesterstukke, sê Lani.

Ook die draadkunstenaars van Cradock, bekend vir hul windpompe, trek swaar sonder toeriste, maar het met hul innoverende roosterkoek-roosters ’n plek in ’n Karooboks vir kokke gekry. Ander draadwerkers op die dorp het vorendag gekom met ’n draadkar wat kan opvou – vir hul nuwe seuntjie-boks.

Die immergewilde Gents Luxury Winter Box met hemelblou sybokhaar-en-wolkombers en ligbruin wolpantoffels

By die Boundless Creative Workspace vir gestremdes op Graaff-Reinet kry die span weer die mooiste shweshwevoorskote.

Dis die span se visie om aan te hou om die Karoo en al sy mense te ondersteun en om mense opgewonde te maak oor wat dié streek alles bied, sê Louzel. As dit vervaardig is in die Karoo, kan jy maar weet dit gaan hou.

En dis altyd met liefde gemaak.

Karoo Kitchen Box. FOTO Verskaf

- Karoofarmbox.co.za; @karoofarmbox op Instagram