* Die storie het oorspronklik in SARIE se November/Desember 2020-uitgawe verskyn.

Toe Deirdré Visser sowat vier dekades gelede sien hoe maklik haar “Kobie” by die komplekse Barnard-familie inskakel, het sy geweet hy’s die man vir haar.’n Flegmatiese Jin teenoor haar emosionele Jang. En sedert sy sewe jaar gelede met Parkinson se siekte gediagnoseer is, is sy gelykmatigheid nodiger as ooit.

Tydens sy militêre opleiding by die SA Vloot se duikskool op Simonstad is dit by hulle ingeprent: As jy diep onder die water is, iets loop verkeerd en jy raak paniekerig, is jy dood. Staan terug en dink. Neem die beste besluit wat jy op daardie oomblik kan en dra die gevolge. Dit het deel van sy leefwyse geword.

“Dood” net maar verskillende vorme van negatiwiteit, of jy nou letterlik of figuurlik jou kop stamp.

Só het Kobus Visser ook Deirdré se siekte benader. Aanvaarding het moeilik gekom vir dié dogter van die hartchirurg prof. Chris Barnard, op haar dag ’n Springbok-waterskiër.

Ná haar diagnose is sy van “dié dokter na dáái kwak toe”. Totdat Kobus later halt geroep het. “Kom ons wees realisties: Hoe beheer ons dié siekte na die beste van ons vermoë?”

Parkinson is ’n snaakse ding, vertel hy.

“Daar is die siektetoestand en gepaardgaande bewerigheid. Maar ook die angs en depressie, wat soos ek verstaan, hand aan hand daarmee loop. Dis wat haar die hardste slaan: Die angs. En dit kom en gaan, dit vat en los jou. Soms sê ek, jong, jy soek net rede om angstig te raak. Ek weet wat hier gebeur, ek weet nie presies wat al die mediese aspekte is nie, maar ek weet sy’s nie gesond nie. Nou moet ’n mens net die beste daarvan maak. Dis soos as jy kaartspeel, brug. Jy word ’n hand gedeel en dis waarmee jy moet werk. Jy kan in sak en as sit, maar dit gaan niemand help nie.”

Praat jy met haar oor jou gevoelens, of met iemand anders?

“Jy moet versigtig wees hoe intens en in diepte jy so iets met jou wederhelfte deurpraat, juis weens die paniek wat hulle slaan. Nee, daar is nie tans iemand met wie ek daaroor kan gesels nie. Ek’t netnou vir haar gesê dit sal seker een of ander tyd in my eie belang wees om dit te doen. Mans is nie natuurlike delers van hul diepste gevoelens nie. Wat my help: Ses maande voor my aftrede [as professor en dekaan: fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK)] het ’n oorgangsafrigter my gehelp om totsiens te sê vir wat was en hallo vir wat kom. Om oor die stormagtige tyd van aftrede te kom. Dit help my ook met Deirdré se toestand. Dis belangrik om ’n balans te probeer skep tussen myself as toesighouer, verpleër, chief cook en bottle washer. En ook om my onafhanklikheid te behou, om nie heeltemal deur haar toestand ingesuig te word nie. Dit gaan oor my eie welwees, emosioneel, fisiek, geestelik. Net dan is jy sterk genoeg om die ander een so sinvol moontlik te help. Voordat ’n vliegtuig opstyg, hoor jy as daar moeilikheid is, moet jy die suurstofmasker vat en jouself eerste help. Want as jy eers die mens langs jou probeer help, is jul albei kapoet. Ander (nie in ons huishouding nie) kan dalk dink jy is selfsugtig en sonder jouself af. Nie so nie. Dis om die suurstofmasker vas te vat, jouself heel te maak voor jy in staat is om die ander een hulp te gee.”

7 verhoudingswenke as jou maat ’n chroniese siekte het

FOTO Unsplash

1. Jy doen reeds jou bes in die omstandighede.

2. Jy kan nie daar wees vir jou geliefde as jy nie daar is vir jouself nie.

3. Julle het albei nodig om met iemand te praat. Soek professionele hulp en moenie opgee as jy nie dadelik gemaklik voel of baat vind by een of selfs meer as een terapeut nie.

4.  Dit sal help as die terapeut ervare is in die behandeling van trauma in die verlede en die effek op emosies, liggaam, denkpatrone en gedrag.

6.  Daar is verskillende toepassings van hipnoterapie wat holisties kyk na die verband tussen emosies, liggaam, denke en gedrag, en trauma se effek verminder. Dit bevorder ’n aandagtige (mindful) leefstyl en help met angs.

7.  Doen gereeld dinge wat julle vreugde verskaf. Deel en luister na mekaar se vrese, hartseer en frustrasies. Dit laat die brein en liggaam ontspan en versterk intimiteit. Gedeelde smart is halwe smart, gedeelde vreugde is dubbele vreugde.

BRON: James de Villiers, Kaapse sielkundige en hipnoterapeut, 082 374 9871, jamesdv@iafrica.com