Die Paarl is by uitstek ’n skooldorp. Soos Franschhoek ’n toerismedorp, Stellenbosch ’n universiteitsdorp is. Daar is meer as 50 skole op die dorp en dis nie eens ’n baie groot plek nie, al is die hoofstraat die langste in die Suidelike Halfrond. Dis ’n gesinsgemeenskap, ’n skoolgemeenskap – almal is gedurig iewers heen op pad met kinders. Jy sou dink hiér het jy ’n vangnet, dat daar ’n groter bewustheid is van kinders. As jou kind straataf loop en val, sal ’n ander mamma dit sien, haar ophelp. Dan besef jy dis nie goed genoeg nie . . .” It takes a village to raise a child. Maar ná die selfdood van twee Paarlse tieners einde verlede jaar “is die hele gemeenskap ’n klein bietjie gebreek”, vertel Nina*, ’n ouer. Jade Gouws en Zara Malherbe, albei 17 en in graad 11 aan die prestigeryke Hoër Meisieskool  La Rochelle, het hul eie lewe geneem – 48 uur uitmekaar.

Nina bly anoniem omdat sy haar dogter se gevoelens in ag neem. Zara was in haar vriendekring en ten tyde van die gesprek was sy nog baie broos. “En die skade aan jou kind is waarskynlik vir altyd. So ’n ingrypende gebeurtenis gaan jy net nooit vergeet nie. Dalk hoe jou matriekafskeidrok gelyk het, ja. Maar die trauma wat jy op skool beleef het, is blywend, vir altyd. Gesels met mense en hulle herroep dit: ‘Dit het gebeur toe ek op skool was . . .’”

Selfdood, dis soos ’n klippie wat jy in ’n poel gooi. Dit kring verder en verder uit. Die eerste rimpels naby, intiem – mense wat diep vir die oorledene omgee en met rou gevoelens en die knellende vraag “hoekom?” agterbly. Dis skielik, onverwags, soms gewelddadig. Die polisie is betrokke, die media dalk ook. Soms ontwikkel naasbestaandes posttraumatiese stresversteuring (PTS).

Verder, wyer, sprei die rimpels. Die kind se onderwysers, ander leerders, haar hele ondersteuningstelsel . . .

Nes daai klein klippie in ’n poel, kan dit uiteindelik ’n hele gemeenskap verander. ’n Beraamde 115 mense word blootgestel aan een selfdood, met 1 uit 5 wat verklaar dit het ’n verpletterende impak gehad, volgens Amerikaanse navorsing.

Nina: “Soos ek aan my meisiekind verduidelik: Die gemeenskap hou hande vas en nou word een reg van voor deur ’n bus getref. Dié langs haar kry baie seer, baie swaar. Maar selfs die mense wat ver daarvandaan staan, word geraak.” Jy gaan dalk nie op dieselfde manier rou as die familie en vriende nie, maar dit kan sterk emosies en vrae ontlok.

Tog kry die treurende familie dikwels minder ondersteuning. Dis vir hulle baie moeilik om uit te reik – en ander is onseker hoe om te help. Daar kleef steeds ’n stigma aan selfdood. Al neem 22 Suid-Afrikaners daagliks hul eie lewe en is dit in die ouderdomsgroep 15-24 die naasgrootste – en vinnigs groeiende – oorsaak van dood, volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-enangsstoornisgroep (Sadag).

Die skaamte kan daarom jare daarna bly kleef, sê M’Lani Basson, ’n Paarlse traumaberader wat spesialiseer in tienerselfdoodvoorkoming met neuroterugvoertegnieke (NLP).

“’n Tienerseun by my in berading raak woedend as mense sê die twee meisies is nou in die hemel. Dis nie só nie, sê hy. Ek sien dit baie, dat selfdood as sonde beskou word.”

Skinderstories, stertjies wat aangelap word, vergroot geliefdes se isolasie, volgens M’Lani. Haar kinders is onderskeidelik 7 en 10 jaar en die tienjarige reeds baie bewus van wat aangaan.

“Mamma, jy gaan nie glo wat die ander kinders sê nie . . .”

En dan volg ’n storie soos ’n swak TV-riller. “Wat is nou waar?” wil hy daarna kordaat weet. “Jy’t ’n keuse: Jy kan stertjies bylas omdat jy nie regtig weet nie, maar ingelig wil lyk.

Of sê: ‘Ek weet nie . . .’ En leer jou kind dit ook, dis baie bemagtigend,” sê sy.

FOTO Unsplash

Nou kan sommige ouers huiwer om met hul spruite daaroor te gesels om hulle teen die harde werklikheid te probeer beskerm. Is dit dan nie selfs vir húlle moeilik om daarmee te cope nie? “Daar is nie tyd om dit te verwerk nie en hulle gaan outomaties in ’n mamma-en-pappasone. Dan soek die kinders êrens anders inligting,” sê sy. Dis ook welbekend dat selfdood “aansteeklik” is, dat “na-aap”- voorvalle soms in ’n tros gebeur. Toe M’Lani se ma, Malané Bosman, in die 1990’s misdaadverslaggewer by die Paarl Post was, was daar ’n ongeskrewe reël: Hulle skryf nie oor selfdood nie.

“Deesdae is ons realiteit natuurlik heel anders met sosiale media. Dáár is ’n uitstorting van verdriet. Die skool is in rep en roer en ’n kind kan dink: ‘Ek wil ook so ’n huldeblyk hê.’”

Ouers kan ook (uit sommige kinders se perspektief) tot satwordens toe daaroor praat. Is Boetie of Sussie oukei? Daar is die praters en dié wat stilbly, sê M’Lani. As jou kind nie daaroor praat nie, is dit dalk bloot nie voorop in sy gedagtes nie. “Die meeste tieners en pre-tieners (sowat 95%) wat die laaste paar weke by my was, wou oor ander dinge gesels. Die vakansie, eksamen.

Interessant is die irritasie wat baie van hulle ervaar omdat grootmense heeltyd daaroor praat. ‘Hoekom dink almal dit affekteer my?’ ‘Dink hulle ek’s nié oukei nie?’

“Die ander 5% het die onderwerp self aangeroer, gevra of hulle vrae kan vra. Daar was ook dié wat sê: ‘Ek het gedink hoe ék dit sou gedoen het.’ Dan hande in die lug gegooi: ‘Nie dat ek dit ooit sal doen nie!’ Maar dis iets waaroor hulle wil praat. En dikwels nie met hul ouers kan bespreek nie omdat dit hulle nog meer sal laat stres.” (Sy is ervare genoeg om te onderskei of daar rede tot kommer is of nie.)

Nina het op dag drie al agtergekom haar kind wil nou hê sy moet ophou aangaan daaroor. “Ek het gesê ek as ouer moet dit ook verwerk en dis my´ manier. Dit kon netsowel my kind gewees het. Met my ouer kinders kon ek google as daar ’n probleem opduik: Hoe hanteer ek nou dit of dat? Maar selfdood? Jy besef dis iets wat van voor af bekyk en bepraat moet word. En jou tiener wil nie praat nie.

“Almal sê praat met die kinders . . . praat . . . praat. Hulle wil egter aanbeweeg, het reeds een of ander soort helderheid gekry. As kinders copehulle dalk vinniger. Aan die een kant sit hulle dalk regop, is geskok. Aan die ander kant is daar ook ’n verwydering. Jongmense dink mos hulle gaan vir ewig leef.”

FOTO Unsplash

Dis moeilik vir ’n ouer.

Wanneer los jy, hou jy vas? Gee jou kind die geskenk van ’n objektiewe klankbord, sê M’Lani. Iemand wat nie op ’n knop gejaag word en wonder nie: “Gaan sy dit ook doen?” Maar wat dinge sonder oordeel saam met jou kind kan uitpak en ontleed. “Dalk is sy nog nie reg om iets vir jou te sê nie, bang sy breek jou hart. Maar as die berader laat blyk dis oukei, nie die einde van die wêreld nie, is dit dalk makliker vir haar om die saak met jou aan te roer.”

Daar is ’n frase: “Do not ask for whom the bell tolls, it tolls for thee.” Aangepas uit ’n gedig van John Donne, 16de eeuse Engelse skrywer en digter.

Moenie vra wie word begrawe as die kerkklok beier nie, want ook ’n deeltjie van jóú het gesterf. Ons is almal deel van die mensdom, ’n ragfyn draadjie in ’n brose spinnerak. Een se dood ’n verlies vir almal. En uiteindelik is dit ook jou lot.

LEES OOK: Die rouproses as geliefde eie lewe neem