1. DIE GROOT STILTE

Ouers vrees dikwels veroordeling en selfs ’n vorm van stigmatisering. Hulle probeer die selfdood doodswyg weens emosies soos vrees vir verwerping deur die gemeenskap, skaamte en skuldgevoelens. Daar word net nooit oor die trauma gepraat nie en dit kan die rouproses in die wiele ry. Belangrike emosionele ervarings word nooit verwerk nie en daar is geen positiewe groei om sin te maak van die gebeure nie. Dié stilte kan die gesin van die res van die gemeenskap (en ook mekaar) isoleer.

2 SKULDGEVOELENS

Dít weens ’n gevoel van aandadigheid aan die selfdood. “Hoekom het ek dit nie sien kom nie?” “Sou dit dalk nie gebeur het as ek anders opgetree het nie?” Daar is ’n onwillekeurige behoefte om iemand te blameer en dikwels pak ouers die blaam op hulself. Dis mos jóú verantwoordelikheid om jou kind fisiek en psigies te versorg, beskerm en ondersteun. Jy kan selfs voel jy het as ouer misluk.

3 HOEKOM

Die behoefte om te verstaan hoekom dit gebeur het, is baie meer intens as wanneer ’n geliefde as gevolg van enige ander oorsaak sterf. Iemand wat sy eie lewe beëindig, is dikwels ’n slagoffer van depressie. Dié wat agterbly, kan egter voel hulle word verwerp. “Was ek dan nie genoeg om voor te bly lewe nie?” Daar is gevoelens van frustrasie en woede wat dalk nooit verwoord word nie, maar skuldgevoelens veroorsaak.

4 DEPRESSIE

Kry jy nie professionele hulp nie en verwaarloos jy die  verwonding, is die kans goed dat jy depressie sal ontwikkel. Dis nodig om sinvol deur die rouproses te werk en weer sin van die lewe te maak – binne die konteks van jou geliefde se selfdood.

5 PSIGIESE EN FISIEKE GESONDHEID

Verhoogde vlakke van stres en depressie kan fisieke simptome soos maagpyn, ’n verlies aan eetlus en slaapversteurings veroorsaak. Sommige kan dalk ook selfdood oorweeg. Hartvatsiektes, eetversteurings, hoë bloeddruk en diabetes kan mettertyd ontwikkel weens angs, onderdrukte gevoelens van pyn en opkrop van die trauma.

6 IMPAK OP GESIN

Huwelike oorleef dikwels nie ’n kind se selfdood nie. Die hele dinamika binne die gesin word geaffekteer, met gevolge vir die oorblywende kinders se emosionele ontwikkeling en gehalte van die ouer-kind-verhouding. Ondersteuningsgroepe binne die gemeenskap en gesinsterapie is daarom baie belangrik.

EN DIE SIBBE?

Hulle kan geïsoleer voel. Dalk omdat hul ouers hulle teen die seer probeer beskerm deur gesprekke oor die trauma te vermy. Die teendeel is egter eerder waar. Sodra die kind die pyn kan voel en verwoord, kan verwerking (en genesing) plaasvind. Sibbe kan ook voel hulle word misgekyk aangesien al die aandag op die ouers uitgestort word. “Ek was platgeslaan,” sê ’n vrou oor haar suster se selfdood. “Maar elke keer wat ek iemand raakloop, het hulle gevra hoe dit met my ma gaan. Asof dit nie ook vir my´ ’n verpletterende slag was nie.”

Lees ook: Die rimpeleffek van selfdood: Familie, vriende, gemeenskap

Kontak vir Dr. Beatrix Jansen van Rensburg: 

082 779 5293, beatrixvr@mweb.co.za, hugscaretherapy.co.za