Dilemma 1:
Wanneer ons uiteet saam met vriende en kennisse, is party gaste baie vinnig om te sê: “Ons verdeel [split] sommer die rekening gelykop.” Ek kom dikwels sleg tweede omdat ek gewoonlik lig eet of nie wyn drink nie, maar dan is daar byvoorbeeld mildelik wyn “vir die tafel” bestel. Ek wil ook nie met die rekening sit en elke item afmerk en optel nie – dit lyk so kleinlik. Maar ons inkomste is nie wat dit was nie. Hoe nou?

Nataniël, etiketkenner, sê: 

Twee woorde: eerlikheid en vooraf. Wanneer jy genooi word na ’n situasie wat jy wéét tot ongemak en frustrasie gaan lei, bespreek dit onmiddellik met die betrokke persoon of persone. Maak dit duidelik dat jy gereeld in soortgelyke situasies beland, dat jy nie drink of rooivleis eet of wat ook al die geval is nie, en dat jy ná die ete by die toonbank jou deel sal vereff en. Moenie wag totdat die rekening opdaag nie, gaan rustig en sonder ’n aankondiging na die betaalpunt wanneer jy klaar geëet het, of vra die kelner om jou deel as ’n aparte rekening te bring. Sodoende sit gaste nie met mekaar se probleme nie. En weet dat jy nie ál een is nie, ander is te bang om te praat. Weet ook dat kelners groot tafels verpes, want daar is dikwels nie ’n fooitjie nie. Gee jou fooitjie direk aan die kelner.

Courtenay Kleu, direkteur en medestigter van The School of Etiquette, sê:

Wie ook al die rekening hanteer (waarskynlik die persoon wat die ete gereël of voorgestel het), behoort te vra: “Is almal gelukkig as ons die rekening gelykop verdeel?” As jy nié is nie, sê dan: “Ek sou verkies om te betaal vir wat ek bestel het, omdat ek nie regtig soveel geëet/gedrink het nie.” Alternatiewelik behoort ’n “gasheer” wat sosiaal gekonfyt is en dalk opgelet het dat Jan en Sara nie soveel soos die ander gehad het nie, te vra: “Sal ons die rekening verdeel? Jan en Sara, trek julle net af wat julle bestel het en ons sal die res verdeel omdat julle nie soveel gehad het nie. Is julle gelukkig daarmee?” Die persoon wat die rekening hanteer, moenie ’n ophef daarvan maak as party gaste wil uitwerk wat hulle geëet/gedrink het nie. Mense se inkomste verskil en om almal se aandag daarop te vestig, kan hulle ongemaklik laat voel. Goeie etiket is juis daar om mense gemaklik te laat voel.

Riandi Conradie, stigter en besturende direkteur van The SA Etiquette Academy, sê:

Finansiële bedagsaamheid is belangrik, veral nou. Hanteer verwagtinge reeds vóórdat julle na die restaurant gaan, dan is dit uitgesorteer en is daar geen ongemaklikheid wanneer die rekening kom nie. As jy die gasheer is (wat die ete reël), stel dinge baie duidelik wanneer jy die afspraak maak. Soos: “Kom ons gaan eet Woensdagaand iets, sommer vir elkeen se eie rekening.” As iemand jou nooi (jy is die gas), kan jy weer sê: “Baie dankie, dit klink heerlik. Covid-19 het fi nansies moeilik gemaak, as jy nie omgee nie kan ons sommer elk ons eie deel van die rekening betaal.” ’n Laaste sê oor rekening-etiket: Indien die ander persoon wel aanbied om jou rekening te betaal, kan jy dit met grasie aanvaar. Sê baie dankie en bied aan om die kelner se fooitjie (as jou bydrae) te betaal. Met meer as twee gaste is dit ook goeie maniere om altyd vooraf vir die kelner te noem dat julle teen die einde die rekening gaan verdeel.