Dilemma 2
Ek en my man het nie kinders nie. Mense maak dikwels onsensitiewe opmerkings soos: “Julle weet nie wat julle mis nie,” of vra vrae soos: “Gaan die kleintjie dan ooit kom?” Of: “Wanneer maak julle nou vir tannie Sarie ’n ouma?” Soms ken ons die mense nie eens baie goed nie. Hoe gemaak?

Esmari Huysamen, leser, sê:

As jy aan die ontvangkant van die vrae of opmerkings is: Besluit wat jy bereid is om te deel en met wie. Jy kan dit as ’n geleentheid gebruik om ander op te voed oor kinderloosheid of jy kan sê dat jy verkies om nie daaroor te praat nie. Sê dan byvoorbeeld: “Dis ’n baie persoonlike vraag, ek deel dit nie met almal nie.” Of: “Ek en my man hou dit tussen ons.” Wanneer iemand aanhou vra en jou druk om te antwoord, kan jy ook die “plaat wat haak”-metode gebruik. Herhaal net dieselfde eensin- antwoord. Jy gaan dit dalk selfs vier of vyf keer moet doen. Soms hou iemand so aan dat jy voel jy moet maar iets sê, en dan raak jy onwillekeurig by ’n gesprek ingetrek, wat jy juis nie wou doen nie. Jy kan dit voorkom deur jou antwoord te herhaal. As jy wél besluit om jou storie te deel, onthou dat nie almal gaan verstaan nie en jy kan jou vingers verbrand. Tog kan jy daaruit leer. Opmerkings oor my kinderloosheid het my laat besef ek moet eerder gesels met iemand wat die pyn en hartseer van infertiliteit verstaan en erken – so het ek by ’n sielkundige en ondersteuningsgroep uitgekom. As jy die vrae vra: Onthou, ons ken nie almal mekaar se stories nie. Jy weet nie waar iemand op hul pad is om ouers te word nie. Net soos jy nie weet hoekom ’n paartjie besluit het om nie kinders te hê nie. Hou dit in gedagte, dit sal jou help om nie ondeurdagte opmerkings te maak nie. Infertiliteit word dikwels deur onsensitiewe opmerkings as onbenullig afgemaak, asof dit “nie so erg” is nie. Dit is ’n mediese toestand wat nie byvoorbeeld deur ’n vakansie “genees” kan word nie. Infertiliteit het my gewys hoe belangrik dit is om te luister en met empatie te reageer op ander se stories.