Nataniël, etiketkenner, sê:
Die geskenksituasie by troues het al jare gelede begin handuit ruk. ’n Geskenklys van ’n paartjie is daar om aan vennote, kennisse en veraf familie wat nie gereeld persoonlike kontak het nie, ’n idee te gee waarvan die paartjie hou, nie om enigeen te verplig nie. Jy gee iets wat jy as gepas, bekostigbaar, nodig of oorspronklik beskou, basta met die res. Die beste troues op aarde is uitmergelend en hoogs vervelig vir mense wat reeds verby die troustadium beweeg het; om nog reëls en belaglike eise te stel is absolute nonsens. Ignoreer die twak, doen jou plig en volg jou goeie instink. Swak smaak regeer die aarde, ontsnap nou! Ek hoop Covid sorg vir intieme, ontspanne, veilige en minder gulsige troues.
Courtenay Kleu, The School of Etiquette, sê:
’n Troue is ’n viering van twee mense se nuwe lewe saam, nie ’n dag om te wys hoeveel geld jy het nie. Die idee is dat almal gemaklik moet voel, die okkasie geniet en hulle nie oor die koste van die geskenk kwel nie. Jy het dalk al gehoor dat die waarde van jou geskenk gelyk moet wees aan wat die troue per kop gekos het, maar dit is louter snert. Jy moenie eens weet wat die koste is nie. Jy gee ’n geskenk om die geleentheid te vier. ’n Geskenkregister is ’n riglyn van dinge waarvan die paartjie sal hou, nie om jou te verplig om iets op die lys te koop nie.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET