LESER SE DILEMMA:

My man het sy korporatiewe werk gelos en sy eie onderneming begin. Nou voel hy hy kan sy mening vrylik op sosiale media deel en “net homself” wees. Dit sluit kommentaar in op vriende se plasings van ’n politieke aard – dikwels op ’n afbrekende manier. Hy moet soos ’n egoïstiese veelweter lyk. Hy het ook al kru en onvanpaste aanmerkings aanlyn gemaak. Toe ek die saak aanroer, het hy gesê dis ’n grappie en “tog net Facebook”. Hoe laat ek hom verstaan hoe dit my ontstel? En kan ek hom “unfriend” of gaan ek net dinge vererger?

FOTO Unsplash

KENNERS SE RAAD:

Marlize Heppell, kliniese sielkundige van Klerksdorp, antwoord:

Jou man is naïef oor die rol van sosiale media. Hoewel hy dink hy maak onskuldige opmerkings, kan dit op lang termyn vir julle almal gevolge inhou. Jy en jul kinders kan op grond van sy opmerkings geëtiketteer word. Probeer om rustig met hom te gesels en te verduidelik sosiale media kan gevaarlik wees. As hy ’n vrye sê het oor netelige kwessies soos ras, kan hy byvoorbeeld by die Menseregtekommissie aangekla word.

Hy moet verstaan hy kan nie alles op Facebook sê wat hy voel of dink nie. Almal voel nie dieselfde nie en mense is sensitief oor sekere sake. Hy moet beter oordeel aan die dag probeer lê en sensitiewe kwessies eerder tydens persoonlike gesprekke met sy nabye vriende bespreek. Probeer ook agterkom wat die rede is vir sy behoefte om homself so sterk op sosiale media uit te druk. Indien hy gefrustreerd voel omdat hy al die jare binne ’n korporatiewe omgewing moes stilbly, kan hy op ander maniere ’n uitlaatklep vind. Sosiale media kan ook ’n wig tussen julle dryf en hy moet verstaan dit maak jou ongelukkig as hy kru en blatante opmerkings maak. jy wil jou tog nie vir hom skaam nie. Net soos jy nie onvanpaste foto’s van jouself op Facebook sal plaas nie, verwag jy van hom om te dink aan die gevolge van sy uitlatings.

Lourentia de Kock, voorligtingsielkundige van Pretoria, antwoord:

’n Mens moet ’n paar vrae vra om agter die kap van die byl te kom:

  • Hoekom het iemand die behoefte om sulke “grappies” op Facebook te plaas?
  • Is hy verveeld?
  • Voel hy onvervuld?
  • Het hy ’n behoefte aan erkenning of aandag?
  • Beleef hy ’n middeljarekrisis?
  • Voel hy afgeskeep of onseker van homself?

Om aan iemand voor te skryf wat hy moet doen, maak die persoon dikwels opstandig en kwaad en versterk destruktiewe gedrag. Laat hy liefs self agterkom dat sy gedrag vir die samelewing onaanvaarbaar is. Ander mense se mening gaan hom in elk geval meer raak en laat dink as joune. Jy as sy lewensmaat het die reg om te sê wat jy dink en voel, maar jy kan nooit verantwoordelikheid vir sy keuses aanvaar nie. Hy moet dit self doen en die gevolge dra. Jy het egter die reg om te sê sy gedrag is vir jou onaanvaarbaar en om jouself daarvan te distansieer.

Onthou, mense evalueer jou nie op grond van die dinge wat jou man doen en sê nie. As hy verkeerd optree, is dit sy beeld wat benadeel word. Mense sien jou vir wie jy is – en hom vir wie hy is. Julle is elkeen ’n individu met ’n unieke persoonlikheid, belangstellings en behoeftes. Gee hom dus die ruimte om homself te wees en laat jouself toe om net jouself te wees.