Nou gaan jy wraggies te ver, Joan! Dié woorde (en variasies daarvan) het Joan Louwrens al dikwels vir haarself gesê wanneer sy nogmaals op pad is, iewers na die uithoeke: Tristan da Cunha, die Australiese Outback, Antarktika, die Svalbardeilandgroep in die Noordpoolsirkel . . .

Deur die jare het sy as medikus op van die wêreld se mees afgele plekke gaan werk. Soms met ’n hart wat wild klop, soms met haar twee jong dogters op tou, ander kere op kort kennisgewing . . . en dikwels met vriende en familie wat kopskuddend van haar afskeid neem.

“Wat kan ek sê? Ek raak ongemaklik in my gemaksone,” sê Joan, wie se boek oor haar avonture, A Wilder Life: Journey of an Adventuring Doctor, einde verlede jaar verskyn het. Die wildernis het nog altyd tot haar gespreek. Haar huis naby Knysna, waar sy tydens ons Zoom-onderhoud gesels, is geleë op ’n ongerepte stuk grond met ’n woud en ’n uitsig op die rivier.

Eerste treë op Antarktika. FOTO Verskaf

As kind in die destydse Rhodesië sou sy gereeld ná skool op pad huis toe iewers in die bos gaan lê en droom – dit was ’n driekwartier per fiets – voordat sy verder ry. Op Ikeys het sy oor naweke die Kaapse berge uitgeklim.

Sy is uiteindelik getroud met ’n man wat ook gehou het van avontuur, vertel sy. “Ek was die waaghalsige een, Pete [Haw] was die ‘stem van rede’ . . . hy het my so op sy mooi manier beteuel as ek oorboord wou gaan.”

Pete het juis sy bedenkinge gehad toe sy opsluit die strawwe Annapurnastaptog in die Himalajas in Nepal wou doen – mét hul 18 maande oue baba.

Ná 10 500 km op ’n fiets vanaf Istanboel. FOTO Verskaf uiteindelik in Beijing.

“Ons werkkontrak in Swaziland was pas klaar, en ’n vlug daarby ingesluit. Ek wou nog altyd Himalajas toe gaan. Pete het gesê ek gaan alle geloofwaardigheid by sy ouers verloor, ek het gereken ek het waarskynlik reeds! Die sjerpas kon Mary help dra . . . hoe moeilik kon dit wees? Ons het die staptog in die hartjie van die winter voltooi. Ek is so bly ons kon dit saam doen. Pete is ’n paar jaar later, in 1984, op 32 aan breinkanker oorlede. Mary was vier en ons baba, Anna, vyf maande.”

Sy het ’n belangrike les geleer wat sy dikwels in haar lewe as riglyn sou gebruik: Moenie wag vir die perfekte tyd om iets te doen nie. Dit kom dalk nooit nie. Sê ja as ’n geleentheid hom voordoen. Dis presies wat sy gedoen het toe sy sewe jaar later hoor dat daar ’n pos vir ses maande op Tristan da Cunha, ’n vulkaniese eilandjie in die Atlantiese Oseaan, is – as enigste dokter. Die ander dokter het op die laaste oomblik kop uitgetrek.

In daardie stadium was haar selfbeeld baie broos – sy was pas geskei n ’n mislukte huwelik van anderhalf jaar. (Dit was ’n fout om weer te trou, sê sy.) Toe die kinders se skoolhoof toestemming gee dat sy Mary (12) en Anna (8) vir ses maande uit die skool neem, het sy gespring. Sy moes binne tien dae onder meer weer leer hoe om ’n blindederm uit te haal, ’n baba te vang, en daai angstige stemmetjie probeer onderdruk: “Sê nou een van my dogters kom iets oor en ék is al dokter?”

Hoe anders as op fietse. Anna vier haar graad in veeaartsenykunde, en Mary haar meesters in ingenieurswese. FOTO Verskaf

Maar sy wou nog altyd die eiland besoek, sedert sy in 1961 as 10-jarige op TV die vulkaan sien uitbars het. “Ek het destyds in my atlas gaan kyk waar dit is – ’n kolletjie in die middel van die oseaan. Dis presies wat dit is: ’n kolletjie. Daar woon net 300 mense. Dis fassinerend dat die mens so met die elemente in die natuur kan saamleef.

“Ek kon dalk nie alles doen soos ons op mediese skool geleer is nie, maar ek kon dinge maak werk. My groot doel was om van diens te wees.”

Die verblyf op die eiland was deel van haar heling, en ook ’n soort keerpunt. Voor dit het sy haar drome en planne ingekort en “soms net gemik om aan die einde van elke dag uit te kom”. Maar daar het sy besluit sy gaan nog sulke geleenthede aangryp. ’n Jaar of wat daarna het sy op die eiland St. Helena gaan werk.

Wegwyser op die eiland. FOTO Verskaf

Dié avonture het by haar kinders nuuskierigheid gekweek. “Hulle het soveel van die lewe geleer, soos hoe mense van plek tot plek verskil, en dat jy enigiets in ’n positiewe ervaring kan omskep. Tristan het van Anna ’n vegetariër gemaak – sy kon nie aanskou hoe hulle hul beeste skiet en die bebloede diere by hellings uitsleep nie. Dit was ook deel van haar dryfveer om ’n wildlewe-veearts te word.”

Ná haar man se dood het sy besluit om haar dogters baie onafhanklik groot te maak, vertel sy. “Ek wou h hulle moet vry wees en hulle nie kwel oor wat hul ma doen nie. Hulle moes hul eie besluite kon neem. Toe ek later vir nog ’n skof na St. Helena is, het Mary, toe in graad tien, gekies om eerder in die koshuis in Kaapstad te bly. Sy was ambisieus en wou goed vaar. Dit was swaar om haar agter te laat, maar ek moes dit aanvaar, dis hoe ek haar grootgemaak het!”

Die grootste deel van die tyd, toe haar kinders nog op skool was, het Joan in palliatiewe sorg, onkologie en gesinsgeneeskunde gewerk, maar toe hulle eers uit die huis is, het sy haar veral op avontuur-geneeskunde toegespits.

699 (stéil) trappe tot bo: Jamestown op St. Helen se Jacob’s Ladder. FOTO Verskaf

Haar vriende spot sy is bietjie van ’n masochis om na sulke afgeleë plekke te gaan waar sy vir enige mediese geval moes regstaan – skietwonde, aapbyte, hondsdolheid, probleem-verstandtande, gebreekte bene, katatoniese pasiënte, noem maar op.

Die “eenvoud” van so ’n lewe het haar aangestaan, die ongebondenheid, dat jy vry is van die beperkings van ’n huishoudelike bestaan. Sy hou van plekke wat jou geestelik en fisiek uitdaag, waar jy op jou innerlike krag aangewese is. “My pa het altyd geglo ’n boer maak ’n plan, en ek kán. My dogters is net sulke goeie probleemoplossers, hulle terg my net as ek heeltyd húl probleme wil oplos. Ek kan nie help nie, ek is ’n fixer!”

Sy het al op ál sewe vastelande gewerk, maar veral Afrika bly haar teruglok. Van haar lekkerste herinneringe is toe sy as dokter in die Krugerwildtuin gewerk het. Daar is net iets aan die Bosveld . . .

Sy was ook in 2013 die skeepsdokter op die SA Agulhas, waar sy moes omsien na die gesondheid en fiksheid van 55 vlootkadette van reg oor Afrika wat na Crown Bay op die ysbank van Antarktika onderweg was. Sy onthou nou nog die oomblik toe sy op die dek staan en vaskyk in ’n ysmuur wat bo hulle uittoring. Later, op die ysbank, met die loeiende wind om haar, kon sy moeilik haar kop daarom kry dat daar drie kilometer ys onder haar is – voordat jy vaste grond kry.

Ysbeer op jag in die Noordpoolsirkel. FOTO Verskaf

“Dís ’n eenmaal-in-’n-leeftyd-ervaring.” In die Noordpoolsirkel, ook asemrowend mooi, was sy skeepsdokter vir reisigers op die Akademik Sergey Vavilov. Vir haar was die groot trekpleister die ysbere, pooljakkalse en ander pooldiere en -voëls. Hulle kon twee keer per dag met ’n rubberbootjie aan wal gaan vir lang wandelings op van die eilande van Svalbard in die noorde van Noorweë. Dis baie makker as Antarktika en soveel ligter op die dokter se gemoed! As daar ’n ramp is, kan ’n helikopter jou pasiënt oppik, en jy het ook nie die onstuimige seetoestande wat jou kan tref soos op pad na die Suidpool nie. Ek het ’n slag onderweg na Marioneiland die stormwaters van die Roaring Forties [tussen 38 en 42 grade suid van die ewenaar] beleef. Dit het letterlik gevoel asof die skip in twee gaan breek,” vertel sy.

Deur die jare het sy geleer jy is nooit so voorbereid as wat jy dink nie, al is jy ook hoe goed opgelei. (Sy het bykomende kwalifikasies vir onder meer die toedien van narkose en in tropiese geneeskunde.) In 2008 was sy die ekspedisiedokter van ’n groep fietsryers op die Syroete. Die reis van Istanboel na Beijing strek oor agt lande en is sowat 10 500 km lank. Joan was topfiks, sy was vroeër daardie jaar op 56 die oudste vrou om die moordende week lange Epic-fietsren in die Kaap te voltooi. (Haar dogter Mary was haar spanmaat.)

Op dag een van hul Syroete-tog het sy opgewek saam geposeer voor die glinsterende Bosporus-seestraat in Istanboel. Sy het goed toegerus gevoel, min wetend hoe groot die potensiaal vir katastrofe is. Van gevare soos hondsdolheid en siektes tot konflik tussen spanlede – een ryer se woede-uitbarstings en toenemende onstabiliteit het amper hul reis ontspoor en sy moes plan maak. “Midde-in so iets gaan jy eenvoudig van A tot B tot C tot D . . . My man se siekte en dood het my waarskynlik gebrei om sulke dinge te hanteer, waar jy dit soms nie net dag vir dag vat nie, maar letterlik uur vir uur.”

Kamp langs die pad in China. FOTO Verskaf

Haar slagspreuk was nog altyd om positief te wees, al is die lewe hoe onseker, vertel sy. Die geheim: “Keep looking for the point of wonder.” Toe sy in 2006 met haar fi ets van Ka ro na Kaapstad gery het en daar party dae regtig niks was om oor positief te wees nie, het sy bly soek na daardie oomblik waaraan jy jou kan verwonder. En dit gee jou weer momentum.

Dis moeilik om te glo dat Joan vanjaar 70 word, en sy is nog lank nie klaar met haar doenlysie nie. Sy en haar fietsrymaat was vroeg verlede aan’t fietsry deur Patagonië – “daai kombinasie van see en berge is verruklik mooi” – toe nuus oor Covid hulle stuit. Hulle het net betyds, voor die grendeltyd, die huis gehaal.

In haar agterkop is reeds planne vir ’n fietsrit langs die Trans-Siberiese roete.

Sy vertel ’n vriend het vir haar ’n nuwe mikpunt gestel: Om die volgende dekade die beste een van haar lewe te maak. “Toe dog ek: Ja, ek gaan dit doen. As jy mik daarvoor, kan jy!”

Wegwyser op die eiland. FOTO Verskaf