Rook, oral rook, jy kan byna nie die vlamme sien nie. Die roet kom in jou oë, waar ook al dit ’n gleufi e of gaatjie in jou beskermende klere kry. Dit jeuk, brand. Jy kan dit daarna aan jouself ruik, jy stink. En die hitte, dis soos ’n gloed.

Op 18 April vanjaar het ’n verterende vlammesee in en rondom die Tafelberg Nasionale Park mens en dier bedreig. En uit die rook, as en puin het ’n nuwe groepie helde gestap. Die Juliet Crew, Suid-Afrika se eerste brandbestrydingspan met slegs vroue. Juliet, die enigste vrouenaam in Navo se fonetiese alfabet.

Almal is helde wat die inferno onder beheer help bring het, beklemtoon Dean Ferreira, besturende direkteur van die omgewingsbewaringorganisasie NCC Environmental Services, wie se idee só ’n vrouespan was. Tog is dit hierdie jong vroue uit voorheen benadeelde gebiede rondom Kaapstad wat mense se verbeelding aangegryp het.

Klik. Buhle Tebekwana, ’n deeltydse model wat s sy het ’n “passie” vir brandbestryding. “Dit het my lewe verander. Ek kan nou my skuld afbetaal en vir my gesin sorg.”

Klik. Sharn Maritz, petite, haar uniform ontwerp met ’n man in gedagte en ’n bietjie groot.

Maar fiks, hoor. Klik. Kaylin Davidson se familie het aanvanklik nie verstaan wat die werk behels nie. “Nou, nadat hulle gehoor het wat ons alles moet trotseer, gons my selfoon van die boodskappe telkens as daar ’n brand is: ‘Kom veilig terug.’ ‘Kyk mooi na jouself.’ ”

Klik, klik, klik. Elkeen van die tien vroue het ’n storie, maar as hulle voor daardie vuurpoel te staan kom, vorm hulle ’n eenheid. Jy is nooit alleen nie, deel van ’n span. En daarin lê jou veiligheid.

Charl Steenkamp, NCC se handelsmerkbestuurder, het hul vordering met foto’s gedokumenteer. “Ek onthou hul eerste wegholveldbrand.” Soos ’n trotse ouboet. “In Januarie 2020 het hulle in Kommetjie ’n klein brand help blus. Ek het foto’s geneem en ons het gesels. Daar was ook ’n groot veldbrand by Noordhoek. Ons kon dit sien, die helikopters wat water gooi. Skaars ’n uur later word al die spanne soontoe geroep.

Die huidige Juliet Crew (van links, agter): Tarren-Lynn January, Buhle Tebekwana, Anathi Galada, Vuyiseka Arendse, Sharn Maritz en Yanga Yoywana. Voor: Thozama Matabata, Kylie Paul, Zimasa Khana en Kaylin Davidson. FOTO Charl Steenkamp

“Hulle was gespanne, die tjoppers vlieg, gooi water en as dit jou tref, is jy sopnat. Jy probeer uit die pad daarvan beweeg, jy kan seerkry. Jy word geleer hoe om te staan (of hurk) as daai water reg van bo op jou val. Maar jy probeer dit vermy. Die emosies was gemeng, hulle weet nie wat om te verwag, wat voorlê nie. Toe skop hul opleiding, kameraadskap in.”

Charl het gesien hoe hul selfvertroue in ’n kort tydjie toeneem. Van so skaam, hulle kan jou skaars in die oë kyk.

Interessant: Hulle gebruik meestal nie water nie. Slaan voet oor berg en dal met toerusting wat sowat 15 kg weeg. Uithou, aanhou. Die helikopters blus die brand en hulle kom agterna met handwerktuie, sny die suurstof af sodat die brand nie weer opvlam nie. Met skoffelharke (rakehoes) en “plakkers” (beaters of flappers), iets soos ’n besemstok met rubbervingers.

Dean veg om die span lewensvatbaar te maak. Sy oogmerk: Nie mans- en vrouespanne nie. Maar uiteindelik een span. Hulle het genoeg ervaring om skouer aan skouer saam met die manne brand te slaan. Maar ’n gebrek aan die regte toerusting hou hulle terug. Só moes Kylie Paul, die superintendent, drie jaar lank met ’n nommer 6-stewel sien en kom klaar, toe ’n nommer 5. En uiteindelik, haar grootte, ’n nommer 4. In die proses het sy albei haksenings verrek.

Die brand by Noordhoek is so te sê geblus. FOTO Charl Steenkamp

“Beweeglikheid is belangrik. ’n Uniform wat goed pas, help dat ons ons werk meer doeltreffend kan doen. Soms moet ons ook vinnig uit ’n gevaarlike situasie kom, deur digte bosse en rook beweeg,” sê sy.

Hoewel hul salaris deur die NCC betaal word, maak hulle op skenkings en borgskappe staat vir toerusting, uniforms en voertuie. Hulle benodig ook dringend ’n basis van hul eie, ’n “huis” weg van die huis. Dis nie ’n 9-5-werk dié nie, hulle werk skofte, 24/7. Hulle kan nie vroualleen alle ure van die dag en nag met swaar toerusting na hul eie huise toe worstel nie. NCC se Vergelegen-basis op Somerset-Wes, met kwartiere vir die mans, bied ’n tydelike uitkoms. Kyk na hul breë glimlagte op Facebook (@NCCEnviron) en Instagram (@julietcrew) n die Tafelberg-brand.*

“Om dan nog te glimlag . . .” sê Charl. En hoor vir Kaylin: “Ons is sterk, pragtige vroue wat verdien om ons drome na te jaag.” Sela.

* Dag 1 was hul skof 24 uur lank, dag 2 het hulle gerus en dag 3 was dit 12 uur.

KONTAK: 021 702 2884, ncc-group.co.za