LESER SE DILEMMA

Ek is al 22 jaar getroud met ’n liewe en sagte maar baie negatiewe man. Hy tjommel oor oudword, geld (dat ons gebrek gaan ly op ons oudag omdat die ekonomie mos gaan ineenstort), die swaar verkeer, vriende wat te veel kom kuier, die wind wat te veel waai . . . Ek sien lig aan die einde van die tonnel, hy sien ’n trein. Hy kan eenvoudig net nie in die oomblik lewe nie. Ek verstaan dit nie, ek is baie positief en kan oor die kleinste dingetjies opgewonde raak. Eers het ek ferm gesê: As jy nie positief kan wees nie, wil ek dit nie hoor nie. En dan het die vonke gespat. Deesdae draai ek net om en loop. Is dit verkeerd?

KENNERS GEE RAAD

Marlize Heppell, kliniese sielkundige van Klerksdorp, antwoord:

Dit klink asof jou man nog altyd die lewe deur ’n negatiewe lens gesien het en jou vorige pogings om hom daarop te wys nie goed ontvang is nie. By sommige mense is dit ’n gewoonte om van kleins af in die halflëe glas vas te kyk en hulle raak geïrriteerd met meer positiewe siele. Waarskynlik was sy voorbeeld sy ma of pa wat net so negatief na alles gekyk het. Jy verdien ’n kloppie op die skouer dat jy nog nie deur sy negatiwiteit ingesluk is nie. Dit klink asof jy ’n sterk en nugter persoonlikheid het om steeds die mooi in klein goedjies raak te sien. Jou plan om net om te draai en te loop klink na ’n goeie besluit. Jy kan ook probeer  om wanneer hy meer ontspanne is, vir hom te s jy is bekommerd oor sy gemoedstoestand. As hy so negatief na alles kyk, kan hy later depressief raak. Wys hom daarop hoe belangrik dit is dat hy onderskeid tref tussen waaroor hy beheer het (spaargeld vir jul oudag) versus dit waaroor hy nie beheer het nie (die land se ekonomie). Dat julle dankbaar moet wees vir vriende wat steeds kom inloer en omgee. Julle kan nie die verkeer en wind verander nie, maar dinge doen om minder daaraan blootgestel te wees. Dis belangrik dat hy die gevare van so ’n negatiewe ingesteldheid besef en dat hy besig is om perspektief te verloor. Hy moet ook die ander kant van die munt probeer raaksien ter wille van sy eie psigiese gesondheid. Só ook jul verhouding asook sy welstand is vir jou belangrik en daarom moet jy met hom daaroor gesels.

LOURENTIA DE KOCK, VOORLIGTINGSIELKUNDIGE VAN PRETORIA, ANTWOORD:

Sommige mense het nou eenmaal ’n meer positiewe uitkyk op die lewe; ander ’n meer kritiese, analitiese of veroordelende benadering. Ons het albei kante nodig vir ’n geheelbeeld. Maar ja, die lewe is vir seker ’n beter plek as ons die silwer randjie om die donker wolk kan raaksien. Die bril wat jy opsit, spruit dikwels uit jou blootstelling in jou kinderjare en die voorbeeld wat jou ouers gestel het. Die goeie nuus: As ’n negatiewe mens lank genoeg in ’n positiewe een se geselskap is, kan hy hopelik die rooskleurige bril begin opsit. Jy, as die positiewe een, moet net waak om nie negatief te raak, of toelaat dat hy jou aftrek in ’n depressie-gat nie. Goeie raad is om eerder weg te loop as om die ander een te herinner aan sy negatiewe gedagtes, wat onnodige konfl ik kan veroorsaak.

Wat ook help, is ’n positiewe respons op elke negatiewe opmerking. Soos:

  • “Jy kan dit ook só sien . . .”
  • “Ek hoor wat jy sê, maar ek beleef dit as . . .”

Jou mening is net so belangrik soos jou lewensmaat s’n. Maar wees versigtig om nie syne te ignoreer of af te maak as negatief nie. Probeer soms sy mening in ag neem en albei kante van die muntstuk bekyk. Dalk kom jy agter die negatiewe opmerkings is nie altyd so negatief nie. Dit kan jou help om wyer oor die saak te dink en selfs voorkomend op te tree.