Daniel Goleman en Paul Ekman, befaamde Amerikaanse sielkundiges, identifiseer drie soorte empatie.

1. Kognitiewe empatie

Kognitiewe empatie is wanneer jy “net weet” hoe die ander een voel en dalk dink. Jy plaas jouself in die skoene van jou vriendin wat haar werk verloor het en weet sy is waarskynlik hartseer en angstig. Kognitiewe empatie hou jou egter emosioneel op ’n afstand. Om haar regtig te laat voel jy sit langs haar in die gat, moet jy haar gevoelens deel. Steun jy te veel op kognitiewe empatie en balanseer dit nie met die tweede soort, emosionele empatie, nie, kan dit jou verbintenis met mense stram maak. Die psigopaat en narsis gebruik dié soort empatie om ander te manipuleer – hulle kan jou goed “lees” – maar voel vere vir jou gevoelens.

2. Emosionele empatie

Emosionele empatie is wanneer jy sáám met iemand voel, asof haar gevoelens aansteeklik is. Dit kan ook fisieke sensasies insluit, nes jy ineenkrimp wanneer iemand haar toon stamp. Jy kyk na binne en identifiseer ’n situasie waar jy eweneens angstig oor die toekoms was. Die situasie hoef nie dieselfde te wees nie omdat ons almal verskil. Wat belangrik is, is dat die emosies ooreenstem wat uitdie situasie voortspruit. Dit kan egter “gevaarlik” wees as jy nie weet hoe om grense te stel nie en jouself “deurdrenk” met ander se swaarkry, volgens Goleman. So voordelig en waardevol soos empatie kan wees, kan te veel daarvan nadelig wees vir jou psigiese en fisieke gesondheid en verhoudings met ander. Dit vereis van jou om grense te stel en goed na jouself te kyk.

3. Deernis-empatie

Een manier om te verhoed dat jy deur ander se emosies opgeslurp word, is om die oormaat empatie in dade om te sit. Pleks dat jy op hol gaan as ’n vriend ontsteld is, haal diep asem, staan in jou kop ’n tree terug en sê: “Og, dit klink verskriklik. Is daar iets wat ek kan dóén?” Dit dan is Goleman en Ekman se derde soort empatie. Met deernis-empatie (compassionate empathy) verstaan jy nie net iemand se verknorsing en voel saam met haar nie, maar reik ’n helpende hand uit, indien nodig. Die balans tussen kognitiewe en emosionele empatie stel jou in staat om op te tree sonder dat gevoelens jou oorweldig, of dat jy impulsief, kop eerste, induik om alles te probeer regmaak.

“Ware deernis beteken jy voel nie net iemand se pyn nie, jy doen ook iets om te help,” volgens Goleman.

Ons almal ondersteun byvoorbeeld eindelose veldtogte op sosiale media met ’n “hou van”, deel dit met ander, of teken aanlyn petisies. Ons zoem in op ontelbare probleme in ons samelewing. Maar ons sien nie altyd die probleme nader aan ons eie voordeur raak nie. Kognitiewe empatie is gepas in die werkplek, of as jy ’n dokter is wat ’n pasiënt oor ’n dodelike siekte moet inlig. Emosionele empatie is dalk jou eerste reaksie met kinders en geliefdes. Met deernis-empatie handhaaf jy ’n balans tussen die twee.

Soos dr. Imtiaz Sooliman, stigter van die humanitêre organisasie Gift of the Givers, gereeld in die nuus vanweë hul goeie werk en hulpverlening wêreldwyd. Sy empatie lê diep, maar hy is byna onemosioneel as hy daaroor praat, gefokus. Hy neem koelkop besluite wie gehelp kan word en wie nie, want hy kan immers nie almal help nie, vertel kollega Marguerite van Wyk wat ’n onderhoud met hom vir SARIE gevoer het. Volgens hom is empatie ’n gevoel, maar verg dit ook optrede. Dit hoef nie groot gebare te wees nie. Selfs al praat jy net ’n weduwee moed in, omhels ’n hartseer kind, of bel ’n alleen-mens.

En altyd moet jy weet waar om die streep te trek, vir jou eie oorlewing. Die radiojoernalis Suna Venter is in 2017 aan sogenaamde gebrokehartsindroom dood. Sy was saam met Gift of the Givers op sendings na Libië, die Gazastrook, Egipte en Sirië. Dr. Sooliman sê in die onderhoud: “Sy was amper té betrokke.”

Terapie kan meer balans bring tussen die drie soorte empatie, maar een of twee van die drie gaan steeds dominant wees, na gelang van jou persoonlikheidstipe. ’n Praktiese, realistiese denker/gevoelsmens is die doener. Die intuïtiewe, rasionele denker die een wat met insig en verduideliking wil help. Die intuïtiewe gevoelsmens sal luister en meeleef, volgens James de Villiers, sielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad.