Kansel toe? 6 Verkeerde redes om ja te sê

akkreditasie

Jy staan op trou, die koek is versier, die gaste genooi. Hokaai! Dink eers mooi: is jy seker jy trou om die régte redes?

Al jou vriendinne sweef in ’n waas van tulle en kant die kerkpaadjie af. En jy brand vir jou beurt. Net môre gaan jy ja sê vir jou kêrel . . . Hokaai! Kyk net nog ’n slag na die man wat voor die kansel aan jou sy gaan staan. Jy gaan die volgende vyftig jaar of wat elke oggend langs hom wakker word. Hoe laat dit jou voel? Onthou, in SA skei twee uit elke vyf paartjies en jy wil nie deel van die statistieke wees nie. Leoni Moolman, sielkundige van Bloemfontein, en Kobus van der Merwe, Imago-huweliksterapeut van Pretoria, gee raad.

Voor jy 'n Pinterest-bord skep, moet jy eers besluit of trou die regte stap is:

• Maak seker jy is om die regte redes saam met hom, dat jy saam met hom oud wil word. Is die basiese grondslag vir die huwelik daar? Intimiteit, kommunikasie, respek, gedeelde belangstellings, dieselfde waardes? Wat is jou redes?

• Moet nooit dink hy is die enigste vis in die see nie. Dan gaan jy vir seker by hom bly.

• Maak lysies van die voor- en nadele van jul verhouding.

• Leer om jou intuïsie te vertrou. As jy in jou hart twyfel of jy met hom moet trou, moenie dit ignoreer nie.

• Vrees kan nooit jou motief vir enige gedrag of besluite wees nie. Dit is negatief.

• Soms is dit nodig om vir perspektief met ’n sielkundige of berader te gaan praat. Hier's ’n paar trou-valstrikke:

1. Ek brand om my troue te beplan, sien myself van kindsbeen af in ’n wit trourok, weet al hoe die koek en kaartjies moet lyk

SLAGGAT Leoni Jy fantaseer oor hoe jou trourok, hare, blomme en onthaal vir die groot dag gaan lyk. Klink of die bruidegom bysaak is. ALTERNATIEF Kobus Dit is wonderlik om verlief te wees, ewig trou aan mekaar te sweer en beslis iets om te vier. Die harde werk begin onmiddellik daarna. Ja, dit verg moeite om met iemand anders saam te leef. Leoni Dis nie verkeerd om oor jou troudag te droom nie. Maar beter om jou energie te gebruik om ’n gesonde en gelukkige verhouding met die man in jou lewe te bou. Dís wat die res van jou lewe gaan raak, nie die seremonie nie.

2. Al jou vriende is al getroud

SLAGGAT Leoni Een van ons primêre menslike behoeftes is om te behoort; nie net aan iemand nie, maar ook aan ’n groep. As jy die enigste ongetroude een in jou vriendekring is, kan jy maklik uit voel. En dink daar is iets met jou verkeerd. ALTERNATIEF Leoni Leer om jou selfbeeld te verbeter. Besef jy is ook menswaardig, al is jy op die oomblik uit pas met die groep. Gee uiting aan jou emosies pleks daarvan dat jy dit opkrop. Anders kan negatiewe gevoelens jou emosioneel en fisiek aftakel.

3. Jou ouers/familie oefen druk uit

SLAGGAT Leoni Dis baie moeilik om nie toe te gee aan die verwagtinge van mense na aan jou nie.

ALTERNATIEF Kobus Dit is waarskynlik nie die eerste keer dat hulle jou vertel wat om te doen nie. As jy vier jaar oud is en hulle kies jou roomys vir jou, is dit dalk verstaanbaar. Maar dit gaan nou oor die res van jou lewe. Hulle gaan nie soggens langs hom wakker word nie Leoni Jy is jou eie mens en kan nie leef volgens ander se vereistes nie. Probeer om met jou familie daaroor te praat. As dit nie werk nie, kry ’n tussenganger om met so ’n gesprek te help. Luister hulle steeds nie, leer om meer selfgeldend te wees en jou grense te stel. Jy hoef nie deur ander in ’n rigting gedwing te word nie.

4. Ek word 35 (of 45 of 55)

SLAGGAT Leoni Jy wil nie alleen oud word nie. Jy wil betyds in ’n wit rok voor die kansel staan. Behalwe vir jou eie behoeftes, is daar ook druk van die samelewing dat jy moet trou. En dalk tik jou biologiese klok boonop.

ALTERNATIEF Leoni Jy het nie ’n huwelik nodig om gelukkig te wees nie. Leer om op jou eie gelukkig te wees. Kobus Leer eers om vir jouself lief te wees en moontlike pyn van die verlede te besweer. As jou kop eers uitgesorteer is, sal jy wel die regte maat na jou toe aantrek.

5. Hy het my met so ’n groot gebaar gevra om te trou, ek kon eenvoudig nie nee sê nie

SLAGGAT Leoni Jy wil nie sy gevoelens seermaak nie. Dalk was dit onverwags en jy het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Daar was nie tyd om te dink nie. ALTERNATIEF Kobus Maak nie saak hoe wonderlik die gebaar is nie, die seer van nou se “nee” is baie kleiner as om saam met die verkeerde man te leef. Leoni Dit is nie te laat om openlik met hom te gesels nie. Dit raak die res van jou lewe – jy het die reg om daaroor te dink. Daar is ook ’n moontlikheid dat hy jou op só ’n manier gemanipuleer het om ja te sê.

6. Ek wil graag kinders hê

SLAGGAT Leoni Dit klink asof jy ’n spermskenker wil hê. Jou behoefte aan kinders is sterker as die behoefte aan ’n gesonde verhouding. ALTERNATIEF Kobus Voorheen het mense getrou hoofsaaklik om kinders te kry. Deesdae kies jy iemand teenoor wie jy romanties aangetrokke voel. ’n Goeie huwelik skep ’n veilige en stabiele omgewing waarbinne julle emosioneel gesonde kinders kan grootmaak. Leoni Jy behoort nie kinders in ’n slegte of liefdelose huwelik groot te maak nie. En dis jou verantwoordelikheid om vir hulle ’n goeie pa te gee. As jy nie die voorreg het om kinders te hê nie, wees dan jou familie se gunsteling-tannie.

*Hierdie artikel het oorspronklik in SARIE se April 2015-uitgawe verskyn. 

JONGSTE UITGAWE

NOVEMBER/DESEMBER 2021

JONGSTE UITGAWE
SARIE is dié glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika.
Begin lees
Nuusbriewe: Registreer gratis

Registreer vir ons nuusbrief en bly op hoogte van die jongste SARIE-nuus.

Klik vir nuusbriewe
SLIMMER MET SARIE

Tuiskokke, raak slimmer met SARIE!

SLIMMER MET SARIE
Skerp jou vaardighede op met Herman Lensing se kookkursus.
Sien meer
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
SARIE BRUID: (VER)KOOP MY ROK EN ANDER DIENSTE
Splinternuut! Nou kan jy ander bruide inspireer met jou trourok, -produk of -diens. Of inspirasie vir jou droomtroue binne die SARIE-wêreld kry.
Begin lees