Ek verstaan tot vandag nie hoekom my vriendin ons vriendskap kortgeknip het nie, want sy het nie verduidelik nie.

Maar dalk moet ek eers die aanloop tot ons vriendskap skets.

Waarom sy juis daardie dag op my gefokus het, weet ek nie, want ek was die vaal teenpool van haar sofi stikasie. My onopvallende, ou klere is bymekaar gegooi vir gemak eerder as om stylvol te lyk. Sy was fyn uitgevat, modieus, die klere ooglopend duur.

Ons was lede van dieselfde kultuurgroep. As ’n “inkommer” het die groep my aanvanklik verwar. A het my teen haar gewaarsku. Sy het my weer teen B gewaarsku. C het teenoor my geïnsinueer dat iemand in die groep, D, “agter haar lyf aan” is. Dit was so belaglik dat ek my vervies het en dit gesê het. Omdat ek in elk geval nie juis ’n groepsmens is nie, het ek my nie veel aan al dié strominge gesteur nie.

Op ’n dag, ná ’n byeenkoms, het sy voor my gestaan en gesê: “Vandag het ek presies niks hier gekry nie.”

Ek het ook so gevoel en my irritasie was waarskynlik duidelik. Ek was gevlei dat sy my uitgekies het om daaroor  te praat. Wanneer ek nou die “vriendskap” probeer naspeur, is dit vir my asof sy daardie dag ’n hoek uitgegooi het. Ek het gebyt. Toe het sy my begin inkatrol. Bietjie vir bietjie.

Daar was die dag toe sy oor die straat geloop het om met my te kom gesels. Die keer by die kultuurklub toe sy dadelik na my gekom en gesê het sy wil ’n foto van ons twee saam neem. En die keer toe sy my ná my aanbieding amptelik bedank het met vleiende woorde wat ek self besef het ’n bietjie oordadig is.

En toe, die groot “deurbraak”. Die “vangs”? Sy het my genooi om in die vakansie ’n paar dae by haar te kom kuier.

“Ons kan movies kyk, gesels en mekaar leer ken. En ons kan baie stap en baie lag.” Ek het die uitnodiging aanvaar. En ons hét gesels en gestap en gelag. Dit was heerlik. Sy was ’n voortreflike gasvrou wat my op verskeie maniere bederf het: geskenkies, komplimente, beloftes. Geleidelik het ek egter agtergekom dat sy traag is om oor haarself te praat. Sy het klaarblyklik nie ’n maklike lewe gehad nie – onder meer twee mislukte huwelike. Ek was wel ongemaklik oor party van haar politieke uitsprake, maar het niks gesê nie. Ek wou, lafhartig genoeg, nie die risiko loop om met haar te bots nie.

Hoe ook al: Ek het baie gewillig in die vriendskap ingekatrol geraak. Gedink dat sy my as ’n spesiale vriendin beskou en verwagtinge gekoester. Ek wou hê sy moet van my hou en alles wat ek doen, goedkeur. So het ek begin om vir haar van my skryfwerk te wys, en ek wou hê sy moet daarvan hou. Nadat ek eenkeer (met vals nederigheid?) gesê het ek het nie veel om te bied nie, het sy gesê: “Jy hét iets om te bied. Dít. Ek beny jou.” Ek was gevlei. Sy was belese met ’n goeie oordeel. Ons het WhatsApp-boodskappe uitgeruil. Grappies per e-pos aangestuur. En video’s, veral van diere. Sy het geweet ek is katbedonnerd.

“Nou ja,” het ek ná een kuier gesê toe ek vertrek. Snaaks hoe dikwels dié woorde aandui dat iets tot ’n einde kom en iets nuuts begin. Dit was hierdie keer ook ’n groet aangesien ek op pad was Kaap toe vir ’n klein operasie. Dit het onverwags ’n ingrypende ses uur lange opvolgoperasie tot gevolg gehad. Ek was dae lank in pyn of swewend op morfien. Uiteindelik was ek byna tien dae in die hospitaal. Sy het kort nadat ek by die huis gekom het, kom hoor hoe dit gaan. Steeds warm en vriendelik. Vir ’n lang tyd het alles vir my net om myself en my gesondheid gedraai. En dis waaroor my boodskappe gegaan het. Dit wás seker sieldodend om te lees. Dit het die keerpunt ingelui.

Die kommunikasie het ’n ander toon begin aanneem en minder geword. Misverstande het begin insluip. Eenkeer het sy die woord “jammerlik” gebruik, wat ek vertolk het as kritiek op my. Ek het ’n verduideliking gevra. Sy het half geïrriteerd geantwoord. Dis toe dat ek in ’n brief aan haar gebieg het dat haar opinie vir my baie belangrik is. Ek het verskoning gevra vir dié eis wat ek aan haar stel.

Haar reaksie was kortaf: Sy sal die boek en DVD wat sy van my het, aan my terugbesorg. Ek was geskok en het gevra of ons daaroor kon praat. Sy het teensinnig ingestem. By haar huis het sy my nie soos gewoonlik in haar persoonlike leefarea ingenooi nie. Ek moes in die sitkamer sit. Sy was formeel:

“Sal jy tee neem?”

“Is dit nou die einde van die vriendskap?” het ek gevra.

Sy het niks gesê nie, net na my gekyk. “Waarom?” het ek gevra. “Wanneer daar konflik is, hardloop ek weg,” was haar enigste verduideliking. “Maar waar is die konflik?” wou ek weet. “Ek gaan nie nou hier sit en analiseer en verduidelik nie,” was haar antwoord.

Sy het toe tog uitgekom met die flou verduideliking dat ek baie negatief geword het. “Wanneer laas het jy van vreugde met jou hande bokant jou kop gedans?” Met ’n 10 cm-operasiewond en ’n stent in my nierpyp?

Toe ek daar wegry, was haar laaste woorde: “Toemaar, as ek jou weer sien, sal ek nice wees en jou mooi vra hoe dit met jou gaan. Ek wens jou die beste toe.”

Die skynheiligheid het my net nog kwater gemaak. Ek het gewonder of sy nou baie verlig met haar hande bokant haar kop dans. Die volgende was dat sy deur ’n gemeenskaplike vriendin die SARIE aan my gestuur het.

Dit was pynlik. Ek wás kwaad. Soos die beraders in die artikel voorspel het. Ek het die pyn van verwerping intens ervaar. Ek het vir haar ’n woedende brief geskryf om te sê hoe ek voel en gevra of sy werklik net vrolikheid van ’n vriendskap verwag. Sy het nie geantwoord nie.

Wat die kenners nie aangeraak het nie, is wat dit aan jou doen as jy aan die ontvangkant is. Die belangrikste is dat dit jou selfvertroue afbreek. Jy begin alle vriendskappe wantrou. Jy “ondersoek jou siel”. Snags lê jy en tob oor wat jy verkeerd gedoen het. Jy wonder of en hoe jy moet verander. Wat wou sy van die vriendskap gehad het? Wat wou sy nie gehad het nie? Jy kyk in die spieël en wonder of jou voorkoms mense afstoot. Uiteindelik het my gedagtes teruggegaan na haar beskuldiging dat ek negatief is, al dink ek eerlikwaar nie dat my “negatiwiteit” die rede was nie. My vermoede is sterk dat iemand anders my verdag gemaak het.

Wat is dus die negatiewe faktore wat sy nie meer kon verduur nie? My gesondheidsprobleme is ’n feit. Daaraan kan ek niks meer doen nie. Behalwe miskien om my mond te hou. Ek word kwaad wanneer mense valse beskuldigings maak en ek sê dit. Blatante rassisme ontstel my. My woonsituasie is nie ideaal nie en ek het dit gesê. Wat is dan wel vir my positief? Die belangrikste is: vriendskap.

Dit wat my ontroer, soos die rolprent The Mirror van Andrei Tarkovsky (sy het nie belanggestel om dit te sien nie); hoofsaaklik klassieke musiek wat die vermoë het om my op te hef. Ons het dit nooit gedeel nie. ’n Paar skrywers wat my intense genot verskaf, soos Elsa Joubert en Haruki Murakami. Kos. Ek hóú daarvan om te eksperimenteer, maar is nie ’n wafferse kok nie. Trouens, my tamatie-en-spanspeksop het haar met ’n uitroep na die soutpot laat gryp! (A! Is dít dalk die rede?) My twee dierbare katmaatjies, Roesie en Tims. Sy was nie gaande oor hulle nie. Dus: Ek reken nie jy kan my sonder meer negatief noem nie. Dit wéét ek.

Omdat ek steeds nie weet waaroor dit gegaan het nie, moet ek hard werk om “oor” die verwerping te kom. Dit is aaklig om so ’n gevoel in jou rond te dra. Gelukkig is ek bygestaan deur getroue en geliefde vriende wie se waardes met myne ooreenstem. Wat vir my positief is, is ook vir hulle positief.

Vir jou wat hier lees: Wanneer jy dit weer nodig vind om iemand uit jou lewe te sny, maak seker dat dit nie net die (ge)maklikste uitweg vir jóú is nie. Wees eerlik, openhartig, empaties. Bowenal: práát! Verduidelik waarom jy dit doen. Wees oop vir ’n bespreking. So gaan jy minder pyn veroorsaak.

Naskrif. Ons eerste herontmoeting (by die kultuurgroep) was vir my baie ongemaklik. Ons het nie met mekaar gepraat nie. Sy was vrolik, ek stug. My woede het vervaag, maar die hartseer oor die verlies van ’n vriendskap is steeds daar. Ek besef nou dat ek die tekens wat die einde voorspel het, misgekyk of doelbewus geïgnoreer het. Ek het baie geleer.

LEES DIE OORSPRONKLIKE ARTIKEL HIER.

*Skuilnaam