
Jy kan dit skaars glo. Net nou die dag was jou kind nog ’n baba en nou gaan sy al ‘grootskool’ toe – ’n wêreld wat vir jou en haar ewe vreemd is. Hier is wat Juffrou wil hê jy moet weet.
Liewe gr. 1-ma – dís wat jy moet weet
Ons is ’n span: ek, jy en jou kind. Nes jy, wil ek net die beste vir haar hê.
Ons moet gereeld met mekaar kan praat. Hoe anders sal ons weet wat ons van mekaar kan verwag?
Jy is baie welkom om met my te kom gesels oor enigiets wat pla. Maak net vooraf ’n afspraak vir ’n gesprek ná skool – in skooltyd ontwrig dit die klas en kan ons nie rustig gesels nie.
Ek verwelkom enige inligting wat my kan help om jou kind, haar gedrag en skoolprestasie beter te verstaan, selfs haar spesiale belangstellings, buitemuurse aktiwiteite en hoeveel tyd/energie dit verg.
Lig my in as sy gesondheidsprobleme het, dan is ek voorbereid daarop. Sê my as sy met aandagafleibaarheid of ’n ander probleem gediagnoseer is, want dit beïnvloed haar gedrag en konsentrasie.
Vertel my ook meer oor haar persoonlikheid. Dalk is sy baie skaam. Of miskien het sy by haar kleuterskool woedebuie gehad en is jy bang sy gaan daarmee voort. Dis beter dat ek daarvan weet voor dit ’n groter probleem word.
Ek sien moontlik nie alles raak wat ek moet nie. Laat my dus weet as sy emosionele trauma beleef (siekte tuis, egskeiding, as ’n troeteldier sterf), want dit raak haar gedrag, en ek sal dan makliker kan verstaan. Ook enige veranderinge soos as jou eks-man dalk weer trou of ’n nuwe baba gebore word.
Jy en jou man moet ook verkieslik albei die oueraande bywoon, veral as julle geskei is, sodat jul besluite konsekwent kan wees.
Dit sal goed wees as jy my versoeke kan toepas. Soos as ek jou vra om dissipline tuis te versterk of om jou kind van ’n voorreg te ontneem omdat sy byvoorbeeld nie in die klas luister nie. Dis goed vir haar om te sien dat haar ouers en juffrou saamwerk.
Onthou dat ek professioneel opgelei is. Ek weet wat ek doen en ek is lief vir kinders. As ek byvoorbeeld remediërende klasse voorstel, is dit gegrond op kennis en omdat ek weet wat jou kind kan help.
Skat my na waarde, maar weet ook ek is menslik. Moenie my voor haar afkraak of kritiseer nie, al stem jy nie saam met my nie. Leer haar eerder om my te respekteer, nes ek haar sal respekteer.
Moenie summier kinderpraatjies glo en my beskuldig nie. Stel eers vas wat die feite is, en praat dan met my sodat ons die problem kan oplos, eerder as wat jy direk na die grondslagfase- of skoolhoof gaan.
Wees realisties. Ek weet dis moeilik om te glo, maar alle kinders is soms ongehoorsaam. Joune (en myne) ook.
Moenie dadelik ’n sindroom of medikasie vir jou kind se optrede blameer nie. Sy moet ook verantwoordelikheid vir haar optrede kan dra.
Baie ouers is gespanne oor tuiswerk. Dis die maklikste om daagliks in haar tuiswerkboek te kyk vir my boodskappe.
Die opdragte is baie duidelik. Vra uit oor haar dag en wat sy geleer het. Hersien nuwe werk tuis. Stel belang. Leer haar ook op ’n informele manier. As sy tafel dek, kan sy uitwerk hoeveel eetgerei nodig is. Moedig haar ook aan om te teken en/of te skryf. Dis ’n goeie manier om haarself uit te druk en ons sal kan sien as iets pla.
Daar is baie wat jy jou kind by die huis kan leer sodat ons die beste in haar na vore kan bring: Dring tuis daarop aan dat sy die eerste keer luister. Luistervaardighede is ’n groot probleem in die klas.
Gee aandag aan haar leefstylgewoontes en higiëne. Kinders is wreed. As jou kind oorgewig is of dalk sleg ruik, sal sy gespot word. Daardie letsels bly lank. Gee haar liewer die beste kans.
Leer haar maniere, soos om dankie te sê en stil te bly wanneer Juffrou praat, en om ander te respekteer. Juffrou het baie ander dinge wat haar aandag verg.
Wees konsekwent en stel ’n voorbeeld. Leer jou kind om oor haar emosies te praat sodat sy haar gevoelens behoorlik kan uitdruk. Dis goed vir emosionele ontwikkeling.
Handhaaf roetine tuis, dit laat kinders geborge voel.
Om te weet:
Doen moeite om die klasvergadering in die begin van die jaar by te woon– baie vrae, kwellinge en besonderhede word daar uitgesorteer.
Bly op hoogte deur die skool se aanlyn-nuusbrief of omsendbriewe.
As julle soggens groet, sê vinnig tot siens en ek is lief vir jou, maar moenie rondhang nie.
Dis die begin van baie trane. Die onderwyseres probeer jou kind struktuur en roetine leer en sy sal moeilik fokus as Ma sukkel om afskeid te neem.
Sorg dat jou kind elke dag betyds is. Alle aandag en dissipline is daarmee heen as die laatkommer-ma klop en wil gesels.
Laai jou kind betyds op. Jong kinders raak baie ontsteld en onseker as hulle alleen buite moet wag. Laat weet die onderwyseres of sekretaresse wanneer reëlings verander. Sorg dat jou kind weet wie haar kom haal.
As julle geskei is, lig die onderwyseres in oor wie wanneer toesig oor jul kind het.
Hou by opstaan- en slaaptye. Kinders verloor bedags fokus as hulle nie uitgerus is nie.
Leer haar dat haar optrede gevolge het. Belonings werk goed, maar sy moenie verwag om vir elke ding wat sy doen, beloon te word nie.
Moenie jou kind met haar broers of susters of maats vergelyk nie, dit sal haar moed breek. Moet ook nie onnodig navraag doen oor ander kinders in die klas nie. Vra haar wel elke dag hoe haar dag was, sonder om nuuskierig te klink of negatief te wees. Wys jy stel belang.
Neem asseblief my terugvoer of raad ernstig op. Ek sal haar nie afskeep of onnodig laat werk nie. Soos jy, wil ek hê dat sy haar volle potensiaal bereik
Beperk die tyd wat sy televisie kyk. Waak ook teen te veel rekenaarspeletjies, moedig eerder oefening aan. Gee jou kind ’n keuse: Gaan ons vanaand fietsry of om die blok stap?
Moedig haar aan om te sosialiseer en ook deel te neem aan sport. Só leer sy dat dit oukei is om ook te verloor.
Kortliks: neem asseblief my terugvoer of raad ernstig op. Ek sal haar nie afskeep of onnodig laat werk nie. Soos jy, wil ek hê dat sy haar volle potensiaal bereik.
Klik hier vir 'n gratis werkskaart om jou kinders voor te berei vir terug gaan skool toe.