Ek het so ’n gekompliseerde verhouding met my ma,” het aktrise Drew Barrymore al gesê.

Sy is nie alleen nie. Vele Hollywoodsterre, onder wie Jennifer Aniston en Brooke Shields, het al openlik bely hulle stoei daarmee.

Verhoudings tussen vroue en hul ma is dikwels broos. En dít is een van die temas wat ontgin word in Netwerk24 se aanlyn sepie, Duiwelspoort. Die uitvoerende vervaardiger en skrywer, Handrie Basson, sê: “Ek wou universele temas aanspreek. Die ma in die sepie, Antoinette Aucamp (Jana Kruger), en haar dogter, Alexia Aucamp-Deetlefs (Lea Vivier), se verhouding is kompleks en intens. Albei is sterk vroue.”

Die storie gaan oor die sondes van die ouers wat die kinders teister.

“Dit was interessant om die verhouding tussen ma en dogter in Duiwelspoort te ondersoek,” sê Handrie. Op die oog af lyk dit na die perfekte gesin, maar daar skuil ’n geheim. “Ons wou lig in die donker krake van die ma en dogter se verhouding laat skyn. Dit is hier waar boeiende stories wegkruip wat die kyker konfronteer met haar eie lewe.

“Die stryd tussen die leuen en die waarheid, donker en lig, word ondersoek in ’n sappige familiedrama.”

Dit bring ons by Help! Ek haat my ma, ’n vertaling van die Amerikaanse werklikheidsreeks Fix My Mom wat onlangs op Via te sien was. In dié reeks is vyf ma-en-dogter-duo’s gevolg wat hul sukkelende verhouding wou red. Die vroue het tydens die maak van die reeks saam in een huis gebly en moes uitdagings en aktiwiteite voltooi wat die oorsprong van hul probleme geïdentifiseer en getakel het. Dogters het byvoorbeeld gekla dat hul ma baie krities is, nie dáár was vir hulle nie of verwag dat húlle “ma” moes wees.

“Verhoudings is die lewensaar van Via,” verduidelik Robert Kaden, junior opdraggewende vervaardiger van Via. “Ons het nog nie voorheen ’n program uitgesaai wat spesifiek op die ma-en-dogter-dinamika fokus nie. Dié verhouding kan baie uitdagend wees. Die kykertalle was gesond.”

Portrait of a mature mother with her teenage daugh
FOTO Getty Images/Gallo Images

Volgens ’n studie in die Journal of Neuroscience in 2016 stem die deel van die brein wat emosies beheer by ’n ma en dogter méér ooreen as wat die geval is by byvoorbeeld dogter en pa of ma en seun. Dít beteken ’n ma sal haar dogter beter verstaan as sy byvoorbeeld ontsteld is omdat sy haar in haar skoene kan voorstel. Dit kan ook verklaar waarom hulle stry kry. Twee ooreenstemmende pole van ’n magneet stoot mekaar immers weg.

Navorsing dui ook daarop dat sterk ma’s se verhouding met hul dogter die dogter op die lange duur positief óf negatief kan beïnvloed. Dogters van ma’s met wie hulle ’n sterk, volwasse band gehad het, het ontwikkel in selfversekerde jong vroue, teenoor dié met interafhanklike verhoudings, wat ’n swak selfbeeld as volwasse vroue gehad het (sciencedirect.com).

Jana Kruger sê Antoinette, haar karakter in Duiwelspoort wat ’n mini-regeerder van haar eie ryk is en deur die huishulp (June van Merch) grootgemaak is, het ’n verwronge siening van status en mag.

“Antoinette het dus ’n onvolwasse verhouding met albei haar kinders. Haar eie bedrog en onvolwassenheid, en haar seer en selfverwyt, weerhou haar daarvan om met Alexia, haar dogter, ’n verhouding te hê en haar te aanvaar vir wie sy is. En haar seun, De Waal (Pascual Wakefield), streel haar ego. Sy span hom as buffer tussen haar en haar dogter in.”

In Jana se eie lewe doen sy die teenoorgestelde, en volg die weg van deursigtigheid.

As ma van twee dogters en ’n seun meen sy die verhouding tussen ’n ma en haar kinders is onvoorwaardelik.

“Ek glo die verhouding tussen ’n ma en dogter het dié ingrypendste effek op jou volwasse lewe. ’n Ma wys hoe om vir haarself en ander om te gee. Dít is die boustene vir ’n gesonde selfbeeld,” meen Jana.

Dini Grobler, ’n Suid-Afrikaner wat verhuis het na Orlando in die Amerikaanse staat Florida, en haar dogter, Celesté van Staden, wat ook met haar gesin daar woon, stem saam. Celesté sê: “My ma is fun en niks was ooit te veel moeite vir haar nie. Al my skoolmaats wou altyd by ons kom speel. Ons huis in Linden, Johannesburg, was gesellig, daar was altyd lekker en baie kos, my ma was gemaklik en ontspanne. Sy het die lieflikste klere vir my gemaak, my toegelaat om my eie ding te doen en my onvoorwaardelik liefgehad. Ek het álles vir haar vertel.”

Dini het vir Celesté vertel jy´ leer ander mense hoe om jou te behandel. “Dís ook wat ek en my man, Theunis, vir Lara, ons dogter leer.” Celesté meen as jy jou dogter leer om in haarself te glo, dan is dit makliker vir haar om later in haar lewe goeie besluite te neem in romantiese verhoudings, by die werk en in vriendskappe. “Ek is, net soos my ma, altyd betrokke by Lara, maar gee haar baie vryheid. Sy moet nie voel ek wil haar lewe oorneem nie, dít maak baie dogters rebels,” glo sy.

Ja, sulke gelukkige verhoudings tussen ma’s en dogters is moontlik, meen Bettie Rall, ’n sielkundige van Kaapstad, en tog kan verskeie dinge maklik tot wrywing lei.

“Verhoudings kan ingewikkeld raak wanneer ma’s emosioneel té intens dinge met hul dogter wil beleef. Dit is soos wanneer jy na jouself in die spieël kyk met jou neus teen die glas. Jy sien net ’n deeltjie van jou gesig en mis die geheelbeeld. Jy is oorbetrokke by jou dogter se lewe, sukkel om terug te staan en reageer op ’n beperkte prentjie, en dán maak jy dikwels foute en oorreageer.”

Affectionate smiling mother and daughter facing ea
FOTO Getty Images / Gallo Images

Jy hoor byvoorbeeld jou kind wil verhuis as gevolg van ’n nuwe werksaanbod. Dadelik is jy ontsteld dat jy´ jou kind nou minder gaan sien, dalk ook nie meer jou kleinkinders so gereeld sal kan oppas nie. Nou wil jy jou sin hê en begin ’n stryery. Hoekom waardeer jou dogter nie haar werk nie? Besef sy nie watter goeie ondersteuningstelsel sy het met jou en haar pa wat altyd daar is om na die kinders te kyk nie? “Maar miskien is jou dogter se nuwe werk op die lange duur baie beter vir haar loopbaan en dalk is sy´ lus vir ’n waagstuk. Onthou, dit gaan nie oor jóú wense nie,” sê Bettie.

Dit gebeur ook dikwels dat ’n mens negatiewe emosies uithaal op die mense by wie jy veilig voel. Ons is dus leliker met ons ma (of dogter) as met ons beste vriendin of die haarkapper, maan Bettie.

“Jy weet mos jou ma of dogter sal daar wees, ten spyte van wat jy sê of doen. Terselfdertyd is ons baie versigtig en hoflik teenoor mense van wie ons nie so seker is nie.”

’n Ma sal nie sommer haar beste vriendin kritiseer oor haar grimering of haarstyl nie, en haar dogter sal selde ’n kollega trompop loop en sê sy hou nie van haar skoene nie, sê Bettie.

Volgens haar ontstaan die grootste konflik tussen ma’s en dogters as ma’s reken hulle moet die “agente” van hul gemeenskap word, wat allerlei verwagtinge op hul dogter se skouers laai. Sy verduidelik: “Volgens die samelewing is vroue nooit goed genoeg nie. Ons is nie maer, mooi, slim genoeg of wat ook al nie. Dogters kom in opstand teen hul ma wat dikwels, volgens hulle, die boodskapdraers van hierdie sogenaamde norme van ‘vrouwees’ is. Hulle wíl nie daarvan deel wees nie. Praat daaroor. Uiteindelik moet jy en jou dogter daarin slaag om ’n span te wees wat weerstand bied teen die norme, sodat julle saam jul ideale najaag, eerder as om te konformeer met allerlei sosiale verwagtinge wat ‘hulle’ stel.”

Is dit ooit te laat om jou verhouding met jou ma te verbeter?

Bettie maan dit help nie jy wag tot jou oudag nie. “Werk doelbewus aan dié belangrike verhouding.”

En, sê sy, ma’s is die primêre vrou in dogters se lewe en moet besef dit is ’n ongelooflike voorreg. “Vermy slaggate soos om haar nie vryheid te gun nie of haar oormatig te kritiseer. Moet ook nie jou eie drome deur jou dogter probeer verwesenlik nie.”

Sy stel voor dat ma’s eerder probeer uitvind wat hul dogter interesseer. “Hou op fokus op wat sy dóén.”

Is dit so erg as sy hard lag, stry met seuns, eerder in die tuin werk as kosmaak en haar broer vra om skottelgoed te was? “As jy so ’n ophef van haar gedrag maak, sal jy nooit verstaan hoe haar kop werk nie. Vra haar waaroor sy droom, wat voel sy oor dinge, en moedig haar aan om haar eie opinies te vorm.”

Om enige verhouding te laat werk vra samewerking van albei partye.

Lea, wat die rol van die dogter, Alexia, in Duiwelspoort vertolk en ook die ma-dogter-dinamika interessant gevind het, sê in haar eie lewe moes sy ook aan haar verhouding met haar ma, Adri Troskie Vivier, werk. Sy is dankbaar oor hul goeie verhouding.

“’n Mens moet régtig leer om te luister na mekaar, want slegs dan kry jy empatie vir die ander een. Julle moet mekaar leer waardeer, sonder vooroordele, verwagtinge of kritiek. En soms moet julle oor ongemaklike kwessies gesels, sodat jy nie dinge opkrop en emosionele bagasie saamdra nie.” Deur te bou aan haar verhouding met Adri leer Lea meer van die lewe en haarself. “Deel van my menswees is immers gesetel in haar.”

Die verhoudings tussen ma’s en dogters sal ons altyd aan die wonder hou. En op die internet is daar hierdie snaakse aanhaling wat veelseggend van die dinamika is: “My dogter gaan die wêreld verander. Ek moet dit net eers oorleef om haar groot te kry.”

Luister die interessante Tedx-gesprek deur Gayle Kirschenbaum: