Inteendeel, die invloed wat haar pa, Keith, op haar lewe het is onmeetbaar.

Hy het altyd tyd vir haar gehad, al was sy entrepreneur-brein besig om aan te hou innoveer. Simone onthou, steeds dekades later, haar vakansies as klein dogtertjie. “Dis een van daai herinneringe wat ek altyd koester. Om in die bosveld te kamp, terwyl ons deur die lande Zimbabwe, Botswana en Zambië gereis het.”

En oor die jare het hy ook as klankbord gedien vir al haar sake-idees. Ja, nes pa Keith is Simone ook ’n entrepreneur in murg en been. “Vir ’n beter rolmodel kon ek nie gevra het nie.”

Simóne saam met haar rolmodel en pa, Keith Musgrave. FOTO Verskaf

Maar hy is nie die enigste man wat ’n invloed op haar gehad het nie. Haar ontslape oupa, Maurice Boon Musgrave, was nie net hardwerkend nie, maar veerkragtig ook.

In 1949 het hy Engeland gegroet en saam met sy gesin, wat ’n baba ingesluit het, per skip na Afrika gereis. En hoewel hy ’n geheelonthouer was, het sy veerkragtigheid en reise deur Afrika as inspirasie gedien vir Simone se suksesvolle jeneweer-besigheid, Musgrave Spirits, wat in 2015 gestig is. “Sy veerkragtigheid het my ook persoonlik geïnspireer om my drome na te jaag, al was dit moeilik tydens die pandemie.”

En hoe sal sy jeneweer en tonikum vir haar pa bedien? “Hy is klassiek en verkies dit tradisioneel. Ek sal vir hom dus die Musgrave Original gee saam met Indiese tonikum. Maar wat hy wel geniet is ’n stylvolle, jeneweer-glas met ’n lang steel. So dié drankie gaan in ’n mooi glas bedien word.” Met ’n dankie, natuurlik!