Ek is ‘n gewone Mamma, nes jy ...

Ek het so baie onsekerhede en vrae gehad voor swangerskap, tydens swangerskap, en met geboorte. Boonop verander die onsekerheid en vrae op elke nuwe ouderdom wat ons kinders bereik! Een les het ek wel al geleer: 

“Elke seisoen het sy eie uitdagings. Bid vir môre, vergewe gister, lewe in vandag."

Ma-wees is die mees onselfsugtige rol wat 'n mens kan vertolk. Stem jy saam?

Vandat daardie lyfie in jou binneste begin groei en vorm, leer jy as vrou om jou eie belange agter toe te skuif en hierdie afhanklike lyfie eerste te stel. Na geboorte en met elke ouderdom bly dit. Selfs as ek dink aan my eie ma (wat nogal 'n oulike Ouma is) is dit waar. Sy sal haar alles vir haar kinders gee en doen – onselfsugtig. Vanuit die wêreldse perspektief voel dit asof jy jouself kan verloor in hier enorme groot taak van Ma-wees. Tog is dit die grootste voorreg om daardie lyfie groot te kan maak en te kan leer van die lewe.

Ek wil jou inspireer om net jou perspektief te vernuwe: Hoekom teen dit skop? Hoekom jouself wil vind op ander maniere wanneer jy saam met hierdie lyfie kan groei na 'n nuwe jy.  Hoor my mooi: daar is 'n fyn balans tussen jouself in jou kind se lewe in te leef teenoor 'n bewustheid van al die groei wat in jou karakter plaasvind soos wat jy toelaat dat die lyfie 'n onafhanklike volwassene word.

Sodra daardie lyfie begin loop en vra om te speel, gaan sit plat op die mat en wees jy sommer ook kind. 

Wanneer jou kind vra vir ‘n roomys, koop vir hom en vir jou een. Geniet dit saam met hom. Vergeet vir 'n oomblik van jou dieet - vanaand kan jy weer jou hoenderslaai eet!

Ek preek hier vir myself ook, hoor. Omdat ek so gefokus is, is dit maklik om die tye te mis waarin ek net moet wéés. Dis al wat ons kinders van ons vra. Net om saam met hulle te leef en te wees. So sit bietjie jou foon neer, trek jou skoene uit en hardloop vir 'n slag saam met jou kinders oor julle gras.

Geniet vandag saam met hulle, want vandag is die enigste waarborg wat jy het.

*Nicqie Robinson is die SARIE Voorbladgesig 2020. Sy woon in Kimberley, Noord-Kaap, waar sy haar eie onderneming as identiteitsstileerder bestuur. Sy is ma van twee kinders, Ninette (5) en Joshua (3).