Die klein prentjies verklap meer as wat jy dalk besef. Dit kan maatskappye en digitale platforms help om ’n beter idee te kry van hoe jy voel – veral oor handelsmerke – en selfs gebruik word om jou deur spesifieke advertensies te teiken. Een voorbeeld is ’n 2018-veldtog vir die Toyota Camry met dosyne weergawes van ’n advertensie. Watter emoji jy onlangs op Twitter gebruik het, het bepaal watter weergawe jy sien. Dus: Deur die gebruik van emoji op ’n aanlyn platform oorhandig jy as’t ware netjies verpakte, sappige inligting oor jou emosies en belangstellings aan maatskappye. Terwyl ’n rekenaar dit moeilik kan vind om die toon van ’n teksboodskap te verstaan, kan emoji ’n algoritme ’n lekker wenk gee.

Só invloedryk is dit, maatskappye ding mee om hul produkte op emoji-sleutelborde te laat verskyn. Ford het in 2019 ’n stille veldtog gevoer om die Unicorn Consortium te oorreed om ’n bakkie-emoji goed te keur. Dié behoort reeds op ons toestelle te wees, hoewel sonder die Ford-handelsmerk. Taco Bell, die kitskosrestaurant, het sy gewig agter ’n petisie vir ’n taco-emoji gegooi, wat suksesvol was. Maar nie Durex se veldtog vir ’n kondoom-emoji nie. Bron: vox.com

FOTO Unsplash

Die sielkunde daaragter

Emoji help ons om tussen die lyne te lees en verryk dus kommunikasie. Dit staan vir veelseggende knikke, die ironiese rol van oë en ’n tong stewig in die kies. Dinge wat nie altyd maklik in teks oorgedra word nie. Sowat 72% van jong volwassenes druk emosie makliker met behulp van emoji eerder as net in woorde uit, volgens Vyvyan Evans, Britse linguis en skrywer van The Emoji Code. “Wat ons sê, is dikwels nie wat ons bedoel nie, dus letterlik met ons woorde oordra nie.” Dit is die vinnigste groeiende “taal” in die geskiedenis en word deur 92% van die aanlyn bevolking gebruik, volgens digitalinformationworld.com.

Die webtuiste Emojipedia word ’n allemintige 33 miljoen keer per maand besoek. Dit bevat onder meer ’n argief wat die visuele evolusie van elke karakter volg. Oxford Dictionaries het in 2015 die gesig met vreugdetrane as “woord van die jaar” aangewys. Nie sleg nie vir ’n foefie wat in die 1990’s afgeskop het om Japannese tieners se aandag te trek. (Die woord “emoji” is van Japannees afgelei en beteken rofweg “prentjie” en “karakter”. Die ooreenkoms met die woord “emosie” is toevallig.)

Nou lewe ons egter in ’n multikulturele samelewing en die interpretasie van ’n emoji kan van mens tot mens en kultuur tot kultuur verskil. Een emoji kan letterlik “’n duisend woorde” verteenwoordig. Dit kan jou in ’n groot verleentheid plaas, selfs die polisie op jou spoor sit. Na gelang van jou eie subjektiewe opvatting kan sommige emoji geïnterpreteer word as rassisties, beledigend, kultureel onsensitief en homofobies. Só is “duim op” ’n teken van goedkeuring in Westerse kulture, maar obseen in Griekeland en die Midde-Ooste. In Brasilië is die “oukei”-handgebaar (duim en wysvinger bymekaar om ’n “o” te vorm) die ekwivalent van jou middelvinger wys. “Klappende hande” dui op lof en gelukwensing in die Weste; in China is dit ’n simbool vir liefde maak.

Boonop is emoji nie heeltemal universeel nie. Die Unicode Consortium verskaf ’n algemene stel “kodepunte” – soos ’n geraamte – vir elke emoji. Maar die verskeie maatskappye wat emoji-sleutelborde aan hul gebruikers voorsien, trek na goeddunke “klere” vir die geraamte aan. Baie van die groter verskaffers sit die laaste paar jaar koppe bymekaar, maar daar is steeds verskille. ’n Mielie wat na regs kantel en nie links nie, ’n roeiboot wat deur onstuimige pleks van kalm water vaar. Só was Facebook se ontwerp van die handwapen-emoji eers ’n taamlik realistiese rewolwer. Dis in 2018 verander om soos ’n neongroen waterpistool te lyk. Apple het sy ewe realistiese pistool-emoji reeds in 2016 met een uit die speelgoedkas vervang.

FOTO Unsplash

VAN WAAR, GEHASI?

Scott Fahlman, ’n professor in rekenaarwetenskap aan die Carnegie Mellon-universiteit in Pittsburgh, Pennsilvanië, gebruik in 1982 (toe al!) die eerste teksgebaseerde emotikons – :) en :( vir ’n glimlaggende en ’n hartseer gesiggie – in ’n e-pos. Al het hy daarmee die eerste, beskeie treetjie in die rigting van die emoji gegee, laat dit hom koud. Hy het al gekla dis “lelik” en “verbeeldingloos”.

In die laat 1990’s kom twee Japannese selfoonmaatskappye, SoftBank en NTT Docomo, elk met ’n stel prentjie-agtige karakters op hul selfone vorendag. SoftBank was eerste, maar Docomo kry meestal die krediet vir die skepping van emoji soos ons dit vandag ken.

Dié stel van 176 ikone, ontwerp deur Shigetaka Kurita, is baie eenvoudig in vergelyking met vandag se emoji. Dit het meestal alledaagse items ingesluit, soos ’n kar en sambreel, sowel as simbole, insluitend syfers en musieknote.

Dis sedertdien uitgebrei om meer velkleure in te sluit, gender-inklusief en verteenwoordigend van die gestremde gemeenskap te wees. In 2015 het die 15-jarige Rayouf Alhumedhi byvoorbeeld ’n suksesvolle veldtog gevoer vir ’n emoji van ’n vrou met ’n hijab. Die Unicode Consortium sê hulle oorweeg elke voorstel, hetsy deur ’n individu of maatskappy, sorgvuldig.

Bronne: vox.com, labourguide.co.za

FOTO Unsplash

Tjoekie toe!

’n Emoji is ’n spelerige, prettige toevoeging tot ’n informele boodskap, nè? Maar sal jy dit so vinnig by ’n teksboodskap voeg as jy weet dit kan as ’n dreigement beskou word? Of ’n kontrak bindend maak wat jy nooit eens formeel onderteken het nie? Glo dit of nie, daar is ’n groeiende aantal regsake wêreldwyd – Brittanje, Nieu-Seeland en Frankryk ingesluit – waar howe emoji as getuienis moes interpreteer.

’n Paar jaar gelede voer die polisie ’n klopjag uit op die huis van ’n tienerseun in Brooklyn, New York. Sy misdryf: Hy het ’n reeks emoji op Facebook geplaas – juis toe gemoedere hoog loop nadat twee polisiemanne doodgemaak is. Die emoji, ’n polisieman en drie (toe nog realistiese) handwapens, was genoeg om hom in die tjoekie te laat beland op aanklag dat hy ’n “terreurdreigement” gemaak het. Sy borgtog was ’n allemintige $150 000 (sowat R2,3miljoen), maar ’n jurie het later besluit om hom nie te vervolg nie.

’n Israeliese paartjie weer is in 2017 deur die hof beveel om ’n woonsteleienaar skadevergoeding te betaal. Tydens onderhandelinge oor die huur van ’n woonstel stuur hulle vir hom emoji van ’n bottel sjampanje, ’n eekhoring en ’n dansende vrou. Die eienaar besluit hulle stel duidelik belang en haal dit van die mark af. Laaste sien van die blikkantien. Die hof het later bevind die emoji stuur die boodskap van “optimisme” en suggereer hulle het ter kwader trou opgetree.

Die emoji waaroor die meeste hofsake gemaak word, is die gewone ou “smiley”, gevolg deur die “knipogende” en “hartseer” gesiggie. Die redes wissel van kindertoesig en teistering by die werk tot moord.

“Dis nog betreklik nuut in die Suid- Afrikaanse reg, maar daar is baie internasionale presedente wat vir ons howe die pad vorentoe belig,” skryf Judith Griessel van Griessel Consulting in The South African Labour Guide (labourguide.co.za).

Sonder enige bemarking, aktivisme en wetgewing, sonder trompetgeskal, het die nuwe “taal” stilletjies ons alledaagse lewe ingesluip. Omhels dit maar as jy in die toekoms aanlyn doeltreffend wil kommunikeer en ’n emosionele respons wil ontlok. Mense wat emoji in aanlyn boodskappe gebruik, is meer suksesvol om ’n huweliksmaat te vind, volgens peilings op afspraakwebtuistes soos match.com.

Hul lus hang ook meer uit om voor die kansel te staan!

SÓ VRIENDELIK!

Ons gebruik emoji verskillend na gelang van ons persoonlikheid, volgens Britse navorsing. As jy meer tegemoetkomend is, is jy geneig om sosiale en emosionele seine in die regte lewe te gebruik om met ander te kommunikeer. Soos deur te glimlag en aanmoedigend te wees. In ’n sekere mate word dit in die virtuele wêreld weerspieël deur die keuse van glimlaggende emoji. Die navorsers spekuleer as jy jouself as tegemoetkomend sien, gaan jy moeite doen om daardie deel van jou persoonlikheid (deur die gebruik van glimlaggende emoji) oor te dra. Gee jy daarteenoor nie eintlik om wat mense van jou dink nie, is jy dalk gemakliker om al jou emosies te wys, insluitend hartseer (en dus ook hartseer emoji). Emoji word voorts as ontoepaslik in ’n meer professionele omgewing beskou. Dit verklaar waarskynlik waarom respondente sê hulle gebruik dit minder in e-posse as ander teksboodskappe en op sosiale media, volgens die navorsers.

Bron: cnn.com, conversation.com