Wanneer Lilly Otto ’n oproep kry met die nuus dat ’n dier iewers in die bos in ’n strik verstrengel is, staal sy haar instinktief vir wat op haar en die veearts wag. Sy het al álles gesien, van ’n leeu met ’n draad deur haar bek, ’n hiëna wat byna doodgewurg het, tot ’n sebra wie se poot deur ’n ál dieperwordende sny verrinneweer word.

Dis ’n hartverskeurende gesig waaraan jy nooit gewoond raak nie, sê Lilly. “Dis moeilik, maar jy moet sterk wees en deurdruk, want jy is daar om hulle te help. Die bevrediging as jy die dier wel kan help en net daar vrylaat, is onbeskryflik.”

Danksy die opbrengs uit Down to the Wire, ’n projek wat Lilly en haar broer, Troy, begin het om draadstrikke in juweliersware te omskep, kon hulle al talle beseerde diere red. Hulle sit ook alles in om mense bewus te maak van dié euwel, wat wêreldwyd tot die dood van miljoene diere lei.

Die Otto’s het in die bos grootgeword en hulle van kleins af in die skoonheid van die natuur verlustig, maar hulle het ook die lelike dinge gesien waartoe die mens in staat is, soos vergiftigde leeus en renosters wat vir hul horings doodgeskiet is. “Die meeste mense weet van dié vernietiging, maar min besef hoe skadelik en algemeen stropers se strikke is. Ons wou iets doen,” sê Lilly.

Twee jaar gelede het Troy die blink plan gekry om iets te maak met die hoop draadstrikke op hul werf – hulle woon op ’n wildplaas naby Gravelotte, ’n dorp sowat 50 km van Hoedspruit in Limpopo, waar hy die bestuurder is.

“Ons wou iets inspirerends, nuttig en mooi daaruit skep, wat ook ’n simbool van hoop is en mense bewus maak van die probleem,” vertel hy.

Die resultaat was ’n reeks unieke juweliersware met onder meer armbande, oorbelle en ringe. Nie dat hul eerste pogings (“skreeusnaaks”, is Lilly se beskrywing) iets was om oor huis toe te skryf nie – al het hul vriende hulle lojaal ondersteun!

“Nie ek of Troy het enige opleiding in juweliersontwerp nie – ek is ’n gekwalifiseerde paramedikus. Maar ons is albei kreatief en het nog altyd daarvan gehou om iets van niks te maak. Ons het eers op armbande gefokus. In die proses het ons ons hande verbrand, eelte ontwikkel, ek het ’n hele paar naels verloor en ’n elmboogbesering opgedoen. My arms was later supersterk . . . Maar ons was só gedrewe, ons wou dit laat werk. Mettertyd het ons begin besef: Sjoe, dié armband lyk nou eintlik besonder cool. En twee weke later . . . nóg beter. Die eindproduk het net al hoe mooier geraak soos ons geleer en nuwe metodes ingespan het,” sê Lilly.

Die projek het gou aftrek gekry en deesdae kry die twee selfs spesiale versoeke, soos toe ’n bruid hulle gevra het om vir al haar strooimeisies spesiale armbande te maak. “So ’n geskenk is uniek – daar is net iets daaraan om te weet jy dra ’n armband wat gemaak is van ’n stuk draad wat eintlik ’n dier sou doodmaak . . . en die opbrengs kan weer ’n ander een red.”

Omdat Troy bedags voltyds op die plaas besig is, het Lilly ’n permanente assistent wat met die harde werk help, sodat sy kan fokus op die fyner items soos oorbelle, ringe, sleutelhouers en boekmerke. Sy gaan dikwels saam met die veearts veld toe sodra hulle hoor van ’n beseerde dier. Nadat die dier verdoof is, word die draad verwyder en die wond behandel. Ongelukkig kan party nie gered word nie en ál uitweg is om hulle uit hul lyding te verlos.

“Soms stap ’n dier met sy kop reg in ’n strik in en breek dan los. Hy kan vir dae met die draad om sy nek loop wat al hoe stywer en stywer trek totdat hy sterf. Dis ’n stadige, pynlike dood.”

Hul pa, ook ’n wildplaasbestuurder, het hulle van kleins af respek vir die natuur geleer en die gesin was altyd pleegouers vir al wat ’n wesie is – sebras, ystervarkies, impalas, njalas. Lilly het ’n foto van haar as sewejarige wat met ’n vlakvarkie in die bed sit! Sy en Troy was nog altyd ’n lekker span. ’n Paar jaar terug het hulle R50 000 ingesamel vir ’n seuntjie wat aan spierdistrofie ly. Hulle het sonder enige hulp oor agt dae 50 km langs die kus van die Griekse eiland Zakynthos geswem en hul eie bootjie met al hul bagasie agter hulle aan getrek. “Ons hou van avontuur,” sê sy.

Hulle gaan gereeld saam met vrywilligers om die bos vir draad- en kabelstrikke te fynkam. Onlangs het so ’n soektog op twee groot wildplase byna 100 strikke opgelewer.

Soos die grendeltyd toerisme tot stilstand gebring het, het dit ook sy tol op hul onderneming geëis omdat kuriowinkels en lodges, waar baie van hul produkte verkoop word, gesluit was. Gelukkig het hulle steeds van reg oor die wêreld bestellings gekry danksy hul Instagram- en Facebookblaaie.

Troy beskryf die wonder om ’n dier se lewe te red as die hart en siel van die projek – iets wat hy hoop nooit sal vervaag nie. Vir hom is elke dier ’n hoogtepunt, maar ’n gunstelingoomblik was toe hulle ’n waterbok van ’n knellende draad om sy bek bevry het. “Dit was meer as 40 grade Celsius, en hy kon dae lank nie eet of drink nie. Die oomblik toe ons die draad afkry, het hy reguit water toe gehardloop en sy hele gesig daarin gedruk . . . daardie prentjie sal my altyd bybly,” sê hy.

BESOEK: down2thewire.org; @down2thewire op Instagram