Geheimsinnigheid, verneukery, mishandeling ... almal weet mos wat die simptome van ’n toksiese verhouding is. Maar dan is daar ook daardie baie subtiele gewoontes en gedrag wat dalk vir jou en jou maat normaal lyk, wat ook kan dui op die begin van ’n toksiese verhouding. Een teken, of selfs soms ’n paar tekens, beteken nie noodwendig jou verhouding is giftig nie (sien kassie onder), maar as dit gereeld in jou verhouding voorkom, en dit ’n patroon raak, moet julle dit aanroer voordat dit te laat is.

Wees op die uitkyk vir dié sewe kwessies.

1. JULLE IS PASSIEF-AGGRESSIEF

Op die oppervlak lyk dit nie asof daar probleme is nie, want julle baklei skaars. Maar dit is eintlik omdat julle konflik vermy en daardie negatiewe emosies dan op ’n leliker manier kop uitsteek. Voorbeelde hiervan is stilstuipe, om kritiek as komplimente te verbloem (“jy vaar baie goed vir iemand sonder ’n graad”) en opmerkings soos “ek is nie kwaad nie” in dáái stemtoon.

Wanneer is dit ’n probleem? Paula Quinsee, ’n verhoudingsafrigter van Johannesburg en skrywer van Embracing Conflict (2017) en Embracing No (2019), sê dit voel dalk asof passief-aggressiewe optrede minder stryery tot gevolg het, maar eintlik veroorsaak dit ’n konstante negatiewe omgewing. “Dit breek kommunikasiekanale af en julle verloor dan respek vir en vertroue in mekaar.”

Werk daaraan: Dit gebeur dikwels omdat een of albei van julle nie aan mekaar se emosionele behoeftes voldoen nie – jy voel dalk hy waardeer jou nie, of asof jy nie ’n prioriteit is nie, sê Paula. En jy besef óf nie dat dit die eintlike bron van jou frustrasie is nie, óf jy weet nie hoe om dit te kommunikeer nie, en jy gee dan uiting aan jou emosies wanneer onverwante probleme opduik. Dink na oor wat jou werklik omkrap en bespreek dit eerlik met jou maat sodat julle daaraan kan werk.

2. JULLE BAKLEI SOOS OSCAR-WENNERS

Sommige paartjies floreer op drama. En jul bakleiery is dalk dramaties, dink jy, maar die opmaak is tog ook. Konflik, sê Paula, is ’n gesonde en nodige manier om as paartjie te groei. Maar as julle al hoe gereelder en leliker vassit, en dit jou emosioneel gedreineer laat voel, is dit ’n slegte teken.

Wanneer is dit ’n probleem? Gesonde individue kan na terugvoering luister en hul optrede aanpas. Maar as ’n herinnering om daardie nat handdoek op te tel in ’n groot stryery ontaard, moet die gevaarligte flikker. Jul verhouding behoort ’n bron van ondersteuning en koestering te wees en as julle aanhoudend kopstamp, breek dit daardie fondasie af – selfs al maak julle weer op, sê Paula.

Werk daaraan: Word nuuskierig oor konflik. Beskou dit as ’n geleentheid om jouself en jou maat beter te leer ken en verstaan, eerder as om net uiting aan jou emosies te gee, sê Paula. Probeer kalm bly en luister na jou maat. Werk uit wat jul onderskeie rolle in die konflik was, wat dit veroorsaak het, en wat julle daaruit kan leer om mekaar voortaan beter te verstaan en ondersteun.

3. JULLE MAAK TE MAKLIK (NEGATIEWE) AFLEIDINGS

Jy doen die dag ekstra moeite met jou voorkoms en jou maat sê niks. Dadelik dink jy hy het jou moeite raakgesien, maar verkies om niks te sê nie. Of dat hy nie meer in jou belangstel nie. Jy kla dan dat hy onsensitief en ongevoelig is of jou selfs onaantreklik laat voel.

Wanneer is dit ’n probleem? Dit is weinig dat so ’n emosionele afleiding positief is – ons probeer onsself instinktief beskerm deur na gevare te soek en maak dus negatiewe afleidings wanneer ons bang is om seer te kry. Maar jou maat is dalk heeltemal onskuldig. Dalk is sy gedagtes by ’n besige werksweek en nou het jy ’n berg van ’n molshoop gemaak. Agterdog en negatiwiteit steel jou energie. En weens jou reaksie steel dit ook jou maat s’n.

Werk daaraan: Emosies voel soms soos ’n instinktiewe reaksie waaroor ons geen beheer het nie, maar dit is die produk van jou verwysingsraamwerk en opvattings, sê Janine Myburgh, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg. As jy dikwels terugval op negatiewe opvattings, oefen om alternatiewe, positiewe interpretasies te oorweeg. En as jy onseker is, vra jou maat (sonder om te verwyt!) hoekom hy op ’n sekere manier opgetree het. Só leer jy meer oor hom, en begin jy ’n nuwe verwysingsraamwerk bou.

4. JULLE MISBRUIK SKULDGEVOELENS

Jy het ’n besige week en vergeet om iets te doen waarvoor jou maat gevra het. Op die oppervlak ondersteun jou maat jou terwyl jy onder soveel druk is, maar herinner jou dan aan jou glips en hoe baie hulle jou mis. En jy voel dadelik skuldig.

Wanneer is dit ’n probleem? Om op iemand se skuldgevoelens te speel is ’n vorm van manipulasie – veral as dit as “ondersteuning” verbloem word. Dit is ’n destruktiewe patroon, sê Janine: Jou maat is terselfdertyd jou redder én vervolger en jy word dus emosioneel in ’n hoek gedruk. Nog ’n algemene voorbeeld is aanmerkings soos: “Ek maak heeltyd skoon en jy sê nooit eens dankie nie” – jy het ’n opoffering gemaak waarvoor daar nie gevra is nie (redder), en jy laat jou maat skuldig voel om sy optrede te probeer verander (vervolger).

Werk daaraan: Weer eens is oop, eerlike kommunikasie die antwoord, sê Janine. Verwyder emosie uit die situasie en pak die probleem as ’n span aan. Sê: “Ek wil graag met jou praat oor die huiswerk en kyk of ons dit regverdig kan verdeel”. Of: “Ek is jammer ek het vergeet om jou te help, maar ek het die week te veel verantwoordelikheid by die werk en het jou hulp en ondersteuning nodig.” Só sal jou maat meer geneig wees om te luister en saam na ’n oplossing te soek.

5. JULLE TERG MEKAAR

Dis dalk oulik op die oppervlak – julle is dan so na aan mekaar dat julle mekaar kan terg en dit maklik aflag. Maar daar is ’n fyn lyn tussen tergery en verkleinering, sê Robyn Andrade Toms, ’n lewensafrigter en stigter van Bella Donna Life Skills & Finishing Classes in Kaapstad.

Wanneer is dit ’n probleem? Om iemand se been te trek is dikwels deel van flirtasie in die begin, maar wanneer dit ’n patroon word, is dit ’n slegte teken. “Sarkasme is een manier om uiting aan emosies te gee sonder om reguit oor die probleem te praat. Dalk is jy bang vir konflik, of jy wil nie jou maat se gevoelens seermaak nie. Maar sonder dat jy dit besef, kraak jy eintlik jou maat af en knou jy hul selfvertroue.”

Werk daaraan: As jy sukkel om eerlik te kommunikeer, begin klein, sê Robyn. Sê vir jou maat dit is vanaand sy beurt om skottelgoed te was, eerder as om met ’n oogknip en glimlag te sê: “Ja, lekker lui, nè?” Volgende keer kan jy dieper delf en gesels oor hoe julle take in die huis verdeel, of dat jy uitgebrand voel en hulp nodig het. Wees versigtig wanneer iemand jou aanhoudend terg of spot, veral voor ander mense – dis dikwels ’n teken van narsisme en ’n manier om mense af te breek en te beheer, waarsku Robyn.

6. JULLE HET ’N ‘TELKAART’

Elke verhouding het naderhand ’n telkaart – jy het iets verkeerd gedoen, toe het jou maat, toe weer jy ... Maar as jy aanhoudend probleme uit die verlede oprakel, raak dinge toksies, sê Robyn.

Wanneer is dit ’n probleem? Wanneer jy ou “oortredings” gebruik om nou jou ontsteltenis te regverdig, slaan jy jou maat met ’n dubbele hou. Eintlik manipuleer jy jou maat, jy vererger skuldgevoelens en veroorsaak bitterheid. Dis belangrik om ou probleme uit te sorteer en dan te laat gaan, sê Robyn.

Werk daaraan: ’n Telkaart gaan gewoonlik meer oor jou as oor jou maat se optrede, sê Robyn. “As jy byvoorbeeld jou maat herinner aan daardie tekkies wat hy laas maand gekoop het wanneer jy wil hê hy moet jou uitneem vir ete, is die probleem dalk dat jy voel hy ignoreer jou of dat jy bekommerd is oor jul geldsake. Dink na oor wat jou eintlik pla en gesels met jou maat – probeer saam aan oplossings dink.”

7. JULLE DOEN ALLES SAAM ... OF GLAD NIE

Julle is so afhanklik van mekaar dat jy nee sê vir ’n vrouedag of ’n manne-naweek omdat jou maat nie genooi is nie. Of julle is so onafhanklik dat jul vriende ná maande saam steeds nie jul nuwe liefde ontmoet het nie.

Wanneer is dit ’n probleem? Elke mens is anders, sê Robyn, en sommige mense wil gereelde kontak hê terwyl ander meer vryheid waardeer. Maar as jy nie meer besluite op jou eie neem nie, of nie voel jy het die finale sê in besluite wat net joune behoort te wees nie (soos om ’n nuwe stokperdjie te begin), kan dit ’n teken van oorafhanklikheid of beherende gedrag wees. Of as jy of jou maat so onafhanklik is dat julle nie op mekaar kan staatmaak nie, of as jy selfs enkellopend voel omdat julle so min saam is, breek dit die vertroue in die verhouding af.

Werk daaraan: Voorkeure oor onafhanklikheid en afhanklikheid is gewoonlik ’n karaktertrek, dus is eerlike kommunikasie die enigste manier om daaraan te werk. Jy moet vir jou maat sê as jy meer vryheid nodig het of as jy meer tyd saam met hom wil deurbring. “Dit gaan ’n kompromie wees en waarskynlik nie oornag gebeur nie, want jy kan nie iemand se karakter verander nie – en jy moet dit ook nie van jou maat verwag nie. Maar in ’n gesonde verhouding sal twee mense na mekaar se behoeftes luister en aanpassings wil maak,” sê Robyn.

Wanneer stap jy weg?

Selfs in gesonde verhoudings tree een of albei mense soms toksies op. Maar wanneer dit ’n patroon raak en julle dit nie bespreek en iets daaraan doen nie, word dit ’n toksiese verhouding.

As jy aanhoudend uitgeput voel of katvoet loop in die verhouding, moet julle dringend daaraan werk – of wegstap. Janine sê daar is nog hoop om probleme uit te sorteer as jou maat, en jy, “teenwoordig” (m.a.w. betrokke) is in die verhouding.

“As julle nog nie opgegee het nie en bereid is om aan julself en die verhouding te werk, is alles nie verlore nie. Wanneer twee mense bereid is om te erken dat geen mens en geen verhouding volmaak is nie en julle saam na oplossings soek, kan julle die toksiese patrone breek.”

Maar as een of albei van julle nie meer belangstel om aan dinge te werk nie, of nie bereid is om te kyk hoe julle bydra tot die toksiese patrone nie, is dit tyd om aan te beweeg, sê sy.