’n Tema vir ons tyd . . . Toe Ilse Salzwedel se uitgewer haar verlede jaar vra om ’n onderwerp voor te stel vir ’n boek wat in dié moeilike jaar sal werk, het die woord “veerkragtigheid” dadelik in haar kop opgekom.

Dit was ’n maklike keuse, want sy het al in haar loopbaan as joernalis met talle inspirerende mense gesels wat met bykans bonatuurlike vasbyt weer opgestaan en aangegaan het. Al het hoeveel terugslae hulle getref.

“In daardie tyd was daar reeds baie berigte oor mense wat hul werk weens Covid verloor het, ondernemings wat gesneuwel het, maar ook stories van mense wat eenvoudig nie gaan lê het nie, wat met innoverende nuwe planne vorendag gekom het . . . Ek het begin om veerkragtigheid te verken – dis net so relevant,” sê sy.

Ilse se boek Floreer: Styg uit bo terugslae en oorkom teenspoed makliker*, het pas by Lux Verbi verskyn. Sy wou iets skryf wat mense kan gebruik om hierdie moeilike tye te navigeer, eerder as ’n boek wat lesers bloot inspireer. Nou meer as ooit soek mense antwoorde, sê sy. Ilse, ’n bekroonde joernalis en radio-omroeper, moes in haar eie lewe self groot terugslae hanteer. Haar dogtertjie is op ses gemolesteer. Sy is 14 jaar gelede deur ’n moeilike egskeiding nadat haar man, ’n gerehabiliteerde alkoholis, weer begin drink het. ’n Jaar later het haar ma in haar arms gesterf toe hul gesin in ’n motorongeluk betrokke was. Sy moes daarna na haar verswakte pa omsien, finansieel kop bo water hou en twee jong kinders alleen grootmaak nadat haar eksman uit hul lewe verdwyn het.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

“Tydens die skryfproses het ek besef jy kan nie sulke lesse deel as jy dit nie self beleef het nie. Ek kon in alle eerlikheid vir mense sê: Ek weet dis dalk nou moeilik om te glo, maar dit werk regtig, jy kom sterker anderkant uit.”

Veerkragtigheid – “in ’n neutedop: om op te staan en aan te hou aanhou, ten spyte van . . .” volgens Ilse – is ’n navorsingveld wat wêreldwyd aandag geniet. Dit wat sy deur die jare by veerkragtige mense waargeneem het, en self in moeilike tye probeer het, is waarskynlik ’n diepgewortelde instink wat die menslike ras gehelp het om tot hier te oorleef, sê sy.

In haar boek lys sy die karaktereienskappe wat sulke mense deel – hulle is onder meer doeners eerder as klaers, hulle kan situasies ontleed, is hul eie rasieleiers, hulle is empaties, realisties en bly kalm in stresvolle situasies, om maar enkele te noem.

As sy egter net drie dinge moet uitlig wat veerkragtige mense gemeen het, sou dit wees: hoop, ’n doelbewuste poging om hulself of hul situasie te verbeter en ’n geloof in iets groters – of dit nou ’n god of ’n doelwit is. Sy verduidelik:

“Veerkragtige mense bly hóóp, selfs in situasies wat die meeste van ons sou verpletter. Die Soedanse vlugteling Aher Arop Bol met wie ek in 2010 oor sy boek The Lost Boy gesels het, het dit versinnebeeld. Tydens die Soedanse burgeroorlog het hy as driejarige in ’n vlugtelingekamp beland. Deur die jare het hy hongerte en vele gevare trotseer, en stoksielalleen van kamp tot kamp en land tot land geswerf, maar hy het elke dag met nuwe hoop begin en sonder ophou probeer om sy familie op te spoor en geleerdheid te kry. Hy het vandag ’n meestersgraad en is met sy familie herenig.”

Yolande Korkie, wat 558 dae lank deur die terroristeorganisasie Al-Kaïda in Jemen aangehou is, het haar situasie verbeter deur alle Bybelverse wat sy en haar man, Pierre, kon onthou, neer te skryf – op enige fl entertjie papier wat sy in die hande kon kry, vertel Ilse. “As diep gelowige het sy besef  sy moet aan haar geloof vashou, dus het sy ’n soort Bybel geskep wat hulle deur die swaar tye sou dra.”

Ook die Suid- Afrikaner Stephen McGown, wat deur dié groep ontvoer is en in 2017 vrygelaat is, vertel in sy boek Six Years with Al Qaeda hoe hy steeds fiks gebly en klein dingetjies gedoen het om in die Sahara sin aan sy dag te gee en sy kop reg te hou – al het hy nie eens geweet of iemand vir sy vrylating onderhandel nie.

Veerkragtigheid is nie net ’n blindelingse aksie nie, dit vereis ’n anker, iets wat jou rig, geloof in ’n groter saak. “Die Pick n Pay-grootbaas Raymond Ackerman is op 35 deur die hoofbestuur van Checkers as besturende direkteur van 85 winkels afgedank omdat hy ‘moeilik’ was – hy wou groter afslagpryse op sekere produkte gee en wou nie weekliks pryse vasstel soos ander kettingwinkels nie. Hy het nie toegelaat dat ander se opinies sy drome laat sterf nie en sy eie besigheid begin. Hy het altyd ’n ongelooflike geloof in Suid-Afrika gehad, omgegee vir die gemeenskap en vir sy klante. Dít kom eerste, daarsonder is sukses nie moontlik nie, het hy geglo.”

Veerkragtigheid word soms as “terugbons” omskryf, maar prakties gesproke is dit dikwels net een treetjie vorentoe, of selfs twee treë vorentoe, drie treë terug. Soms moet jy elke dag weer van voor begin, sê Ilse. Sy onthou nog die subtitel van ’n boek wat sy ná haar egskeiding by haar broer gekry het: Just enough light for the next step. “Die geheim is om nie te bly lê nie – staan op en probeer nog ’n keer.”

Tydens haar navorsing het die term “posttraumatiese groei” gereeld opgeduik. Dis die nuwe gonswoord vir daardie groei wat jou help om ’n volgende situasie beter te hanteer.

“Elke mens wat ’n oorlog, depressie of resessie oorleef het, kan getuig van dié groei, dit het nou net ’n naam gekry.”

Met elke ramp wat haar getref het, het Ilse ondervind dat sy meer voorbereid was op die volgende een. Sy kon die lesse wat sy byvoorbeeld tydens haar egskeiding geleer het, weer toepas toe haar ma oorlede is.

Haar oorlewingspiere het ál sterker geraak.

Die grootste les wat sy in krisistye geleer het:

Moenie opgewerk raak oor goed waaraan jy niks kan verander nie. Hou jou emosionele energie vir nuwe planne, nuwe geleenthede, nuwe mense. “Ek moes kies of ek energie gaan mors om my eksman aan te vat in die hof vir geld wat hy nie het nie, of eerder my energie gebruik om ’n boek te vertaal of nog ’n artikel te skryf om geld te verdien. Ek het die tweede opsie gekies.”

’n Tweede les:

Aanvaar jou situasie. Dit beteken nie jy moenie treur en kwaad raak nie – gaan deur al die fases van rou, anders haal dit jou later emosioneel in op ’n tyd wat jy dit nog minder kan bekostig. Maar aanvaar dan die gegewe. En werk van daar.

Derdens:

Behou perspektief. Wees dankbaar vir wat jy wel het. Tel jou seëninge. (Toe die vrouetydskrif rooi rose in die grendeltyd gesluit het, het sy heelwat vryskutwerk verloor en haar dogter was haar pos as digitale assistent kwyt. Ilse se eerste reaksie was om haar dogter te herinner aan wat hulle wel het, soos ’n dak oor hul kop, genoeg ander werk . . .)

Vierdens:

Humor is ’n goeie teenvoeter vir moedeloosheid en woede, en gee jou meer emosionele energie om jou uitdagings aan te pak. “Laat jouself toe om te lag – selfs midde-in die moeilikste tye.”

Uiteindelik gaan veerkragtigheid ook oor ’n positiewe ingesteldheid. Jy is die een wat moet kies om meer veerkragtig te wees, sê sy. Haar manuskrip was reeds klaar toe sy The Choice deur dr. Edith Eger, ’n oorlewende van ’n Nazi-konsentrasiekamp, lees, maar sy móés dit eenvoudig as naskrif gebruik, want dit bevestig nogmaals hoe sterk die menslike gees kan wees, mits jy die keuse maak. Dr. Eger, ’n sielkundige wat in posttraumatiese stres spesialiseer, se boodskap:

We can’t erase the pain. But we are free to accept who we are and what has been done to us, and move on.”

Ilse weet haar eie verhaal is nie halfpad so erg soos dié van Yolande Korkie nie en dat sy ook nooit die binnekant van ’n konsentrasiekamp sal sien nie, maar sy glo elkeen van ons kan goed voel oor wat ons in ons eie lewe oorkom het.

“Ek hoop mense sal my boek lees, na hul eie lewe kyk en daardie buzz word, die ‘posttraumatiese groei’, in hul eie lewe herken. En hulself op die skouer klop oor hoe ver hulle al gekom het.”

KYK: Veerkragtig met SARIE

SARIE se boekeredakteur, Phyllis Green, en skrywer Ilse Salzwedel het die afgelope maand vier gesprekke opgeneem om veerkragtigheid te definieer en aan te leer. Kyk dié episodes hier.

Wat is veerkragtigheid?

Veerkragtigheid en dankbaarheid

Veerkragtigheid en stres

Praktiese wenke om veerkragtigheid aan te leer