
Die finansiële adviseur: Magdeleen Cornelissen, finansiële adviseur by PSG Wealth Menlyn
Voor jy sommer net wegspring en jou geld in die eerste die beste produk belê, dink na oor wat jy met jou belegging wil bereik. Niemand bou ’n huis sonder ’n weldeurdagte plan nie, net so kan jy nie ’n belegging maak as jy nie weet wat jou uiteindelike doelwit daarmee is nie. Sodra jy dít kan visualiseer, kan jy die verskillende boublokke van jou belegging in plek kry. Dit sluit in die keuse van die beleggingsproduk, die diensverskaffer en jou blootstelling aan die verskillende bateklasse, wat alles deel gaan uitmaak van jou uiteindelike belegging.
Daar is baie maniere om jou geld te belê, maar nie almal gaan aan jou behoeftes voldoen nie. Jy is dalk op soek na ’n produk om geld weg te sit vir jou troue oor twee jaar, waarvoor iets soos ’n uittree-annuïteit nie geskik is nie omdat daar beperkings op onttrekkings is. Moet daarom nie skaam wees om die hulp in te roep nie van ’n gekwalifiseerde finansiële adviseur wat jou sal kan bystaan om jou geld effektief te belê.
Almal wil ’n huisie by die see hê, maar nie almal van ons kan dieselfde grootte huis bekostig nie. Hoe groter die geldwaarde van jou uiteindelike doelwit, hoe groter die bedrag wat jy sal moet wegsit om dit te bereik. Die waarde van die belegging wat jy uiteindelik realiseer, sal bepaal word deur ’n hele aantal faktore, insluitend: beleggingstermyn, die bedrag wat jy insit, asook die groei van die portefeulje. Indien jy weet wat die eindwaarde moet wees, kan jy met gemak bepaal wat jou maandelikse bydrae moet wees, gegewe dat jou beleggingstermyn bekend is.
Beleggers wat vroeg begin en gedissiplineerd is, word gewoonlik beloon vir hul goeie gedrag, mits die groei van die belegging goed was. Indien jy reeds op 25 begin om maandeliks ’n bedrag van R2 500 weg te sit en die bydrae jaarliks met 6% verhoog om met inflasie tred te hou, kan jy op 55 meer as R9 miljoen uitkry mits die belegging jaarliks met 10% gegroei het. As jy eers op 35 of 45 begin, sal jy soveel meer per maand moet insit om dieselfde te bereik. Sommige beleggingsinstansies vereis ’n minimumbedrag van tussen R500 en R1 000 per maand waartoe jy jou moet verbind voor jy kan begin belê.
Indien jy reeds geld wegsit in ’n pensioenfonds of in ’n bankrekening, is jy reeds ’n belegger. Oor die algemeen praat ons van “spaar” wanneer jy jou hardverdiende geld nie dadelik uitgee nie en in ’n bankrekening of ander rentedraende rekening plaas. Verskuif jou fokus egter na die langer termyn en jy is bereid om ’n mate van risiko te neem om ’n beter opbrengs te verseker, sê ons jy belê. So gesien is kapitaal wat in ’n pensioenfonds bestuur word, ook ’n belegging. Die kapitaal word belê in verskillende bateklasse, wat verskillende risiko’s inhou en verskillende opbrengste kan oplewer. Gewoonlik word ’n belegger op die langer termyn met groei beloon vir die risiko wat geneem is.
Daar is verskeie beleggingsprodukte beskikbaar, wat insluit effektetrusts, aandeleportefeuljes, pensioen- en voorsorgfondse, asook uittree-annuïteite en belastingvrye spaarplanne. Enigeen wat die aanwending van hul kapitaal uitstel en dit eerder in ’n produk plaas in die verwagting dat die eindwaarde meer sal wees as die oorspronklike kapitaal, is ’n belegger.
Dit is uiters belangrik om die vlak van risiko van ’n belegging te verstaan, en te verseker dat jy gemaklik is daarmee. Hoe groter die risiko van die belegging, hoe meer hoe meer wissel die waarde (hoe groter die op-en-af-bewegings). Kies jy ’n meer riskante belegging, moet jy jou regmaak vir ’n wipplankrit. Praat openhartig met jou finansiële adviseur en vra hy moet die toedeling van jou geld aan die onderskeie bateklasse in jou portefeulje duidelik uiteensit. Niemand gaan gimnasium toe in hul hoëhakskoene nie, net so moet die bateklasse ingesluit in jou belegging geskik wees om jou doelwit te bereik.
Weereens kan ’n finansiële adviseur jou help om die regte besluit te neem.
Nog vrae? Stuur vir ons ’n boodskap op Facebook of kontak PSG vir professionele en persoonlike advies.
Volg vir PSG Wealth op Facebook en Twitter