Augustus is ’n besonderse maand. Natuurlik ruim ons dié maand ekstra tyd in om te besin oor die wonder van vrouwees, maar dit is die warrelwinde van Augustus wat my so fassineer. 

Party van ons raak regtig opgewonde oor die gedagte dat dinge anders gaan wees. As die proses van verandering intree by jou verhoudings, sowel as die lewensfase waarin jy jou bevind, kan dit egter ’n gevoel van ongemak wees wat in jou hart kom blyplek soek. Beïnvloed al hierdie dinge boonop jou geldsake, raak jy behoorlik bekommerd oor dit wat die toekoms kan inhou.

Warren Buffett, die suksesvolle beleggingskenner, het heel tereg genoem dat die kuns nie daarin lê om reën te voorspel nie, maar eerder om ’n ark te bou. Ons het natuurlik nie beheer oor hoe dinge in ons lewe verander nie, maar ons het wel inspraak op hoe ons dit hanteer. 

’n Verandering in verhoudings het in baie gevalle ’n groter impak op ons finansies as wat ons besef. Dié van ons wat deur die trauma van ’n egskeiding gekonfronteer is, of ’n geliefde moes afstaan aan die dood, kan met gesag getuig oor die verreikende gevolge wat dit vir jou geldsake het. Die uitkoms wat jy vir jouself visualiseer het, lyk meteens anders, dalk minder rooskleurig.   

Kom ons wees eerlik met mekaar. Ons sien nie altyd kans om in die middel van ’n lewensveranderende proses boonop met gesprekke oor finansies gekonfronteer te word nie. Die realiteit is egter dat dít juis een van die belangrikste aspekte is wat aandag moet kry. Jou finansiële adviseur kan jou bystaan met die nagaan van belangrike elemente in jou finansiële portefeulje wat noodgedwonge hanteer moet word. Dit sluit in jou aftreebeplanning, jou risikodekking, korttermynversekering, mediese fonds, sowel as jou boedelbeplanning. Vra jou adviseur om spesifiek aandag te skenk aan begunstigdes van polisse en annuïteite. Maak seker jou beleggingsprodukte is korrek geposisioneer en dat jou bydraes genoeg sal wees sodat jy uiteindelik met finansiële vryheid kan aftree. Wanneer laas het jy jou testament hersien? Dit is aspekte wat ’n invloed het op jou toekoms. Jy het ’n verantwoordelikheid teenoor jouself sowel as die mense in jou lewe om seker te maak jou geldsake is in orde.

Net soos die Augustus-winde die voorkoms van bome dramaties verander en ons bewus maak van die nuwe seisoen wat op pad is, ervaar ons ook seisoensveranderings in ons persoonlike omstandighede. Wees katvoet vir die gedagte dat dit slegs in uitsonderlike gevalle nodig is om jou finansiële roetekaart te hersien. Soos ons ouer word, verander ons perspektiewe oor dit wat vir ons belangrik is. Gesels met jou finansiële adviseur oor jou doelwitte, veral as dit nie meer dieselfde lyk as ’n paar jaar terug nie. 

Wanneer jou lewe ’n nuwe rigting inslaan, het jy nie ’n kompas wat jou in die regte rigting lei nie. Ons het egter wel rolspelers wat ons kan bystaan om die slaggate te vermy en te verseker dat ons uiteindelik by ons beplande bestemming uitkom. Net soos die lentebloeisels weer in die lente verskyn, skep verandering die geleentheid vir vernuwing.

Ons stap almal ’n unieke lewenspad, vol kinkels en kabels, maar elkeen het ’n verantwoordelikheid teenoor hulself om seker te maak hulle bereik hul beplande eindbestemming met grasie. 

Soek jy raad met geldsake? Stuur vir ons ’n boodskap op Facebook of kontak PSG vir professionele en persoonlike advies.

Volg vir PSG op Facebook en Twitter. Geaffilieerdes van die PSG Konsult Groep is gemagtigde finansiële diensverskaffers. Vir meer inligting, gaan na www.psg.co.za