Lynette Wilkinson FOTO verskaf
Lynette Wilkinson FOTO verskaf

Lynette Wilkinson, finansiële adviseur by PSG Wealth Sandton Grayston

Is jy in jou laat 40’s of vroeë 50’s? Hoe maak jy seker of jy op koers is om gemaklik te kan aftree? Eerstens het jy ’n finansiële beplanner nodig wat jou leiding kan gee om ’n aftreeplan op te stel. Die plan moet in detail na die volgende aspekte kyk:

  • Hoeveel inkomste jy elke maand benodig;
  • Hoeveel geld jy moet belê om daardie inkomste tot ná jou aftrede haalbaar te maak;
  • Wat die risiko’s/wisselvalligheid is wat met die aanbevole portefeulje gepaardgaan;
  • Hoeveel jy nog moet spaar om jou aftreedoelwit te bereik; en
  • Wanneer jy kan aftree en die potensiële risiko’s wat jou aftreeplan kan laat ontspoor.

Jy moet weet wat jy uitgee, en watter uitgawes jy waarskynlik nog ná jou aftrede gaan hê. Die sukses van jou plan sal afhang van hoe duidelik jou begroting is en of jy daarby hou. 

Soos ons ouer word, aanvaar ons dikwels ons blootstelling aan risiko’s behoort af te neem en ons beleggingstrategie moet dit weerspieël. Die realiteit is dat jou aftreebates jou vir nog 20 tot 30 jaar sal moet onderhou wanneer jy die dag aftree. Jou beleggings moet inflasie met verloop van tyd klop om ’n jaarlikse verhoging van jou inkomste moontlik te maak. Aangesien jou beleggingsopbrengs direk aan jou batetoewysing gekoppel is, moet jou portefeulje saamgestel word met inagneming van jou beskikbare aftreebates asook die inkomste wat jy uit daardie bates moet kry. 

Hoekom batetoewysing saak maak

’n Aftreeportefeulje wat inflasie met 4% of 5% per jaar wil klop, sal gewoonlik ’n kombinasie van aandele, kontant, eiendom en effekte insluit, met 25% tot 30% blootstelling aan buitelandse bates. Tussen 60% en 75% van die portefeulje sal in aandele wees, wat tussen plaaslike en buitelandse aandele verdeel is. Hierdie batesamestelling en internasionale blootstelling help om diversifikasie en langtermyngroei te verseker wat waarskynlik inflasie ná belasting sal oortref. Wanneer jy vasgestel het watter opbrengs jy nodig het, sal die portefeulje se teikenopbrengs gedurende jou aftreejare nie baie verander nie, tensy jou persoonlike omstandighede of behoeftes verander.

Die portefeuljebestuurder sal op grond van heersende marktoestande die portefeulje herbalanseer of die batetoewysing verander, maar die teikenopbrengs bly gewoonlik dieselfde. Hoe hoër die opbrengs wat jy nodig het, hoe hoër sal die toewysing aan aandele wees, en die risiko en onbestendigheid styg dan saam met die potensiële beloning.

Soos die grafiek hier onder toon – hoe ouer jy is, hoe meer moet jy spaar om dieselfde einddoel te bereik. Wanneer jy weet hoeveel inkomste jy maandeliks nodig het, kan jy uitwerk hoeveel kapitaal jy moet opbou.

Bron: PSG Wealth

Vir elke R4 000 se inkomste wat jy vandag benodig, sal jy ongeveer R1 000 000 kapitaal nodig hê, met die aanname dat jy ’n opbrengs van 5% per jaar bo inflasie kry. Soos die grafiek wys, kan jy, as jy R10 000 000 gespaar het, ’n inkomste van R40 000 per maand trek wat elke jaar met inflasie toeneem. 

Dit sluit nie kapitaaluitgawes, soos die koop van motors, reise, betaling vir troues of ander onverwagte uitgawes, in nie. ’n Mens moet ook in gedagte hou dat siekefondsbydraes geneig is om met 9% of 10% per jaar te styg, en nie met inflasie nie. Hierdie uitgawe sal waarskynlik uiteindelik meer van jou kapitaal verg.

Hoe vroeër jy aftree, hoe langer moet jou kapitaal jou onderhou, en hoe minder tyd het jou kapitaal om te groei. As jy twee jaar langer werk, kan dit beteken dat jou kapitaal vyf jaar langer gedurende jou aftrede hou. Dit is altyd raadsaam om so lank as moontlik aan te hou werk, en as jy gedwing word om af te tree, deeltydse of konsultasiewerk te doen om jou inkomste aan te vul.

Risiko’s wat jou aftreeplan kan laat ontspoor, sluit in:

  • Om te vroeg af te tree;
  • Ontoereikende siekefondsdekking;
  • As jy meer bestee as wat jy kan bekostig, op grond van jou beskikbare kapitaal;
  • As jy volwasse kinders of ouers onderhou wat nie deel van jou beplanning was nie;
  • As jy marktydsberekening probeer toepas en in en uit beleggings beweeg; en
  • As jy op iemand anders staatmaak om na jou aftreebeplanning om te sien. 

As vroue laat ons dit dikwels aan ons lewensmaat oor en aanvaar ons dat hulle vir ons finansiële toekoms sal sorg. Ons moet egter self beplan en verantwoordelikheid vir ons eie geldsake en aftreebeplanning aanvaar. Weet wat jou huishoudelike en persoonlike uitgawes is, en hoe hierdie uitgawes gedurende jou aftrede gedek gaan word

Soek jy raad met geldsake? Stuur vir ons ’n boodskap op Facebook of kontak PSG vir professionele en persoonlike advies.

Volg vir PSG Wealth op Facebook en Twitter