Linda Pienaar* het nog altyd anders gevoel. As kind was sy vreesloos. Sy’t die heel hoogste bome uitgeklim. Hoe hoër, hoe beter. Wat sy ook al gedoen het, sy het dit verder gewaag as enigiemand anders. Op 12 het sy al snags by die huis uitgeglip, nagklubs toe. Sy het risiko opgesoek ... Maar sy het ook selfdoodgedagtes gehad – reeds toe sy 10 jaar oud was.

Dit was eers baie jare later dat haar gedrag vir haar begin “sin” maak het – toe sy uiteindelik in 2010, op 37-jarige ouderdom, met bipolêre gemoedsteuring 1 (sien kassie hier onder) gediagnoseer is.

Vandag beskryf Linda dit as “daardie slapende draak in my kop wat ek net nie moet wakker maak nie”.

Dit was ’n bitter moeilike pad om by die punt te kom, vertel sy. Jare van verkeerde diagnoses (die term wat sy meestal gehoor het, was major depressie), weke lange kliniekbesoeke en drie selfdoodpogings. Sy is ook sowat 15 keer gehospitaliseer. Dit terwyl sy as enkelouer die pot aan die kook moes hou.

En al het haar toestand reeds tien jaar terug vir die eerste keer ’n naam gekry, het sy dit eers die afgelope twee jaar onder beheer. Dis juis hoekom sy haar storie wil vertel. “Ek het nie besef dat daar ná my diagnose nóg ’n stryd sou voorlê nie. My verligting [oor wat skort] is gou met verwarring vervang. Daar was min leesstof oor hoe om my toestand te hanteer en wat om te verwag. Medies gesproke, dalk, maar menslik gesproke nie.

“Bipolêre gemoedsteurnis het al ’n modewoord geword. Elke tweede mens het dit deesdae, maar dis nié net ’n maand of twee se mood swings nie. My familie vertel my van dinge wat ek tydens maniese episodes gedoen het, wat ek glad nie kan onthou nie. Ek het my beste vriendin verloor nadat ek haar sleggesê het – en ek weet niks daarvan nie. Dan is daar die ander kant, wanneer jy in ’n diep gat val, en jy geen insig in jou situasie het nie. Jy kan géén uitweg sien nie.”

Volgens Linda se neuroloog het sy die bipolêre geen geërf, en kleintydse trauma was die sneller wat dit aan die gang gesit het. Sy het in ’n “goeie middelklashuis” grootgeword, maar op 10 is sy verkrag, trauma wat sy “baie diep weggebêre het” en eers jare later in terapie uitgekom het. Op 12 is sy seksueel aangerand en op 16 is haar ma aan kanker oorlede. “Mense het my gedrag in my jeug daaraan toegeskryf dat ek net moeilik of rebels was. En my depressiewe buie was ‘normaal’ ná my ma se dood.”

Sy het op 16 gematrikuleer en weens omstandighede as 17-jarige op haar eie gaan woon. In die tien jaar daarna het sy bulimie gehad; dis hoe sy kon cope, besef sy nou. “Ek was verslaaf aan pille, antihistamiene, pynpille, slaappille. Ek het my lewe lank aan slapeloosheid gely, selfs as kind. Ek sou hoogstens drie uur lank slaap. Op 20 het ek die simpelste, impulsiefste besluit geneem – tipies bipolêr, weet ek vandag. Ek het met my hoërskoolliefde getrou. Vier maande later is ons geskei.”

Ná haar egskeiding het sy na ’n ander dorp verhuis, waar sy haar tweede man ontmoet het. “Ek was 23 toe ons getroud is. Ek sou die gang pers en goud verf, en verwag dat hy moet sê dis mooi! Ek het bulimie gehad regdeur my swangerskap, dit was chaoties. Ons huwelik het sewe en ’n half jaar gehou, totdat hy my verneuk het. Dit het my vernietig, maar vandag verstaan ek hoekom hy dit gedoen het. Ek dink ek was heeltemal te veel vir hom.”

Sy het nooit gedink haar gedrag is abnormaal nie, want sy het nog altyd so opgetree. Almal het dit geniet om by haar te wees, sy was die siel van die partytjie. ’n Tekort aan energie het sy nooit gehad nie. “Ek het net nie perke geken nie. Ek sou aanhou tot ek myself vernietig. Soos met my bulimie. Toe ek eers geskei is, het dit heeltemal buite beheer geraak.”

In ’n stadium moes sy haar laat sekwestreer. “Ek sou by Nigeriese geldskieters geld leen omdat dit my ’n thrill gee, net om te kyk of ek daarmee kan wegkom. Dit klink verskriklik, maar ek was nie bang vir die dood nie.”

Sy het haar dogter soveel moontlik probeer beskerm, dit was amper asof sy twee lewens gelei het, vertel sy. “Sy het gedink ek is ’n baie prettige ma. Ek sou dinge doen soos om haar tweeuur in die oggend wakker te maak sodat ons kan gaan roomys koop. Maar sy het ook op my afgekom toe ek die eerste keer probeer selfdood pleeg het deur ’n oordosis pille te drink. Sy was dertien jaar oud. Sy het hierna PTSD [posttraumatiese stres-sindroom] gehad, maar ons het vir haar hulp gekry.”

slapende draak
FOTO Getty Images / Gallo Images

Een van die grootste uitdagings as jy bipolêr is, is om medikasie te kry wat vir jou werk. Dis gewoonlik ’n baie spesifieke kombinasie wat deur jou dokter gemonitor moet word, vertel sy.

Linda het vir sowat ses jaar ná haar diagnose verskillende behandelings gevolg. Twaalf elektriese skokke wat haar vir ses maande daarna só goed laat voel het dat sy – “in totale denial” – opgehou het om haar pille vir haar bipolariteit te drink. Dit het gelei tot ’n diep insinking en ’n selfdoodpoging, wat haar twee dae in ’n koma gehad het. Daar was ook die twee jaar op medikasie wat haar soos ’n zombie laat voel het. Al haar impulse, maar ook haar emosies, was dood. Met ’n ander behandelingsplan het sy weer ’n erge laagtepunt beleef, gevolg deur ’n maniese episode waar sy vir sewe dae nie geslaap het nie.

“My psigiater het eenkeer moedeloos by my bed kom sit. Hy wou huil, hy het nie geweet wat die siklus kon breek nie. Ek het so ’n toleransie teen pille opgebou dat daar geen oplossing was nie. Dit was ’n baie donker tyd in my lewe. Ek het gevoel ék is die siekte.”

Uiteindelik het sy by ’n dokter beland wat haar kon help. ’n Neuroloog wat sy vandag met haar lewe vertrou. Dit bly haar belangrikste raad vir enigiemand in haar situasie: Moenie ophou totdat jy by die kenner uitkom wat jou spesifieke situasie verstaan nie. Linda se toestand is nou al langer as twee jaar gestabiliseer nadat hy haar medikasie kon regkry. Hy het onder meer bevind haar brein skei nie serotonien af nie – sy het ’n bepaalde dosis nodig om haar te laat funksioneer.

“Ek vaar goed. Ek onderskei tussen wat bipolêr is, en wie ek is. Jy moenie dat die siekte jou definieer nie. Daar is wel dinge wat ek nie meer kan doen nie. Ek was altyd mal oor skilder en foto’s neem, maar ek kan nie meer nie, ek bewe te veel weens die pille. Daarmee moes ek vrede maak. Party mense kry weer ander newe-effekte. Ek vind nou ander vreugdes in die lewe, soos om te lees.”

depressie
FOTO Getty Images / Gallo Images

Sy is reeds sestien jaar enkellopend, en het geen behoefte om weer in ’n liefdesverhouding betrokke te raak nie. “Die medikasie verlaag beslis jou seksdrang, maar ander lyers in die ondersteuningsgroep waarvan ek deel is, is baie gelukkig getroud. Dit hang af van persoon tot persoon. Ek is nie ’n goeie kandidaat vir ’n romanse nie, ek raak gou verveeld, ek kan ook nie stilsit nie, ek vroetel altyd in die kerk!”

Sy het ’n hegte verhouding met haar dogter, ’n finalejaarstudent. En sinvolle vriendskappe. Met haar “donker humorsin” geniet sy dit om “’n bietjie lig te verskaf”. By die werkplek is dit egter ’n ander saak. Daar is steeds ’n groot stigma en onkunde oor die toestand, het sy ondervind. By haar vorige werk (sy is al jare ’n IT-opleidingskonsultant) was sy ’n toppresteerder, maar sy is fyn dopgehou. As dit gelyk het of sy kwaad raak, het hulle gedink dis ’n bipolêre uitbarsting. “Dis onnodig, want eintlik het ek baie meer selfbeheersing as tagtig persent van die bevolking. Juis omdat ek my emosies móét beheer,” verduidelik sy.

Sy het onlangs ’n stel afgetrap nadat sy oop kaarte met ’n kollega gespeel het oor haar siekte. ’n Week daarna is sy gevra om vrywillig te bedank omdat haar werk nie “op standaard” is nie. “Ek was toe al nege maande daar, en baie goed in wat ek doen. Ek het ’n hoë emosionele intelligensie en ’n sterk persoonlikheid. Maar die woord bipolêr het my werkgewer se houding dadelik verander.

“Ek dink mense dink jy is mal, dalk omdat dit as geestesiekte geklassifiseer is. Maar dit het ’n fisieke oorsprong. Die regte medikasie bring alles in balans. Ja, daar is mense met ’n slagoffer-uitkyk wat dit swak hanteer, maar dis hul persoonlikheid. As jou persoonlikheid sterk is en jy is ’n survivor, gaan dit jou nie onderkry nie. Ek het vir ’n maand ’n krisis gehad met geen inkomste ná my bedanking nie. Maar ek kon dit goed hanteer. My omstandighede beheer nie meer my bipolêre buie nie. En ek het nou weer ’n goeie pos.”

Dit bly belangrik dat jy jou siekte monitor en bewus is van gevaartekens, sê sy. As jy skielik nie meer slaap nie, of jy het te veel energie, of as jy vir twee weke nie meer die son sien skyn nie, moet jy hulp kry. Dis jou verantwoordelikheid om dit te bestuur.

Sy beskryf dit as ’n lang reis om te kom waar sy vandag is. Sy moes haarself van voor af leer ken. Besluit dat dit nie haar lewe gaan dikteer nie. Sy het ook by ’n weeklikse ondersteuningsgroep aangesluit waar sy besef het sy is nie uniek nie.

Linda het baie lesse geleer, sommige op die harde manier. “Natuurlik verskil elkeen se ervaring, maar daar is ’n paar dinge waarvoor ek versigtig sou wees. Soos natuurlike middels. En raad van mense wat nie kennis het van die siekte nie. Ek is lank aangepor om dit weg te bid. Ek is ’n Christen, maar dit wérk nie so nie – dit bly ’n neurologiese toestand. Ek het my siekte aanvaar, en ek fokus op die positiewe dinge, soos my besonderse dogter.”

Sy het bipolêre gemoedsteurnis nog altyd as “kanker van die siel” beskryf. “As jy in daardie gat is, dan ís dit. Jy dink jy gaan nooit weer uitkom vir lig nie. Maar jy kan. Ek sien weer die lig.”

* Skuilnaam.

BIPOLêR 1 en 2

Bipolêre gemoedsteuring gaan gepaard met ekstreme gemoedskommelinge. Die hoogtepunte (highs) word maniese episodes genoem, en die laagtepunte (lows) word depressiewe episodes genoem. Gemengde episodes is wanneer iemand terselfdertyd simptome van depressie en manie beleef.

Bipolêr 1: Jy het een of meer depressiewe episodes met minstens een maniese of een gemengde episode.

Bipolêr 2: Jy het een of meer depressiewe episodes met minstens een hipomaniese episode. (Die simptome is soortgelyk aan ’n maniese episode, maar dis meer subtiel en minder erg. Psigotiese simptome is afwesig en hospitalisering is gewoonlik nie nodig nie.)

As vier of meer episodes binne een jaar gebeur, ly die persoon aan bipolêre gemoedsteurnis met ’n vinnige siklus (rapid cycling).

Bron: Health24