Die pandemie het reisigers wêreldwyd se fokus na plaaslike bestemmings verskuif. Dit het ons gedwing om te besin, stadiger te leef, die oomblik te geniet. En laat besef, in Suid-Afrika is daar inderdaad liefl ike “waters waar rus is” en groen weivelde.

Ons wil nie meer tien stede in drie dae inprop nie. Ons soek ervarings, stilte, diep asemhaal, meditasie in die natuur, of sommer net niksdoen. Só ook road trips met outydse padkos – die tamatiebroodjies, frikkadelle en droë wors van kleintyd; of bene rek by ’n padstal om te peusel aan ’n bros tuisgemaakte vleispastei met ’n beker moerkoffie. Vergeet van ’n emmerskoplys. Die beste reiservarings beteken nie die meeste Instagram-plasings per dag nie. Wat help dit n jou reis het jy ritse foto’s, maar geen ware herinneringe nie? Jy wil eerder nadink daaroor, dit weer beleef en onthou.

Volgens die gesaghebbende reistydskrif Condé Nast Traveler (Desember 2020) is die “stadige reistendens” – oftewel SLOMO, pleks van FOMO (“fear of missing out”) – hier om te bly. Stadige reis omarm konneksies met plaaslike gemeenskappe – hul kultuur, kos, musiek. Dit ondersteun die idee dat reis ook opvoedkundig is en jou emosioneel moet raak. En méér nog, dat jy´, al is dit hoe gering, ’n bydrae tot die plaaslike gemeenskap en omgewing moet maak. Al is dit om meer begrip vir hul leefwyse te kry.

Baie van ons onthou dalk die televisieprogram Going Nowhere Slowly (2005 tot 2009), ’n reeks wat eintlik sy tyd vooruit was. Dié span het in ’n Chevrolet Impala van 1966, genaamd die “Chilli Pepper”, op onbeplande road trips by die 50 000 km deur Suid-Afrika en ons buurlande afgelê.

Interessante inwoners op weggesteekte dorpies – Suid-Afrikaanse juwele – is “gemyn”. Nou is die publiek honger vir heruitsendings, vertel regisseur en vervaardiger David Moore.

“Ek wou ’n program maak wat my aan my kinderdae herinner. Op dié road trips in ons stasiewa sou my ouers aftrek by dorpies en ons sou verken.” Dalk pak hy aanstaande jaar weer só iets aan.

Volgens Doris Viljoen, senior toekomskundige van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch, is daar tans ’n oorvleueling van ’n paar reistendense. “Mense soek stilte, wil met die natuur in voeling kom, hou van die kleiner plattelandse plekkies, verkies om langer op een plek te vertoef. Heilsaamheid en gesondheid is gróót.” Maar almal het ’n gemene deler, ’n behoefte aan stadig reis en veiligheid. “Mense bestee ook al hoe meer geld aan ervarings as aan besittings,” meen sy.

Nostalgie, vry wees in die natuur, stilte – dís waarna ons hunker, beaam Gerrie Pretorius, aanbieder van die program Leef jou reis op kykNET. Hy hou nie van toere waar mense agter die vlaggie aanstap en hope dinge in ’n paar dae inryg nie. Gerrie glo “less is more”.

“Ons besef ons kán nie so jaag nie. Al die stres maak ons dood,” sê Zaritha van Wyngaardt, eienaar van die reisonderneming The Obvious Choice. Mense raak meer bewus van hul sterflikheid en verantwoordelikheid jeens hul gesondheid en daarom is woudbaai (forest bathing), wat oorgewaai het van Japan en Korea, een van die plaaslike tendense wat al hoe gewilder word. Dit word byvoorbeeld by “retreats” op Nature’s Valley en in die Kaap aangebied.

FOTO Unsplash

“Wanneer jy in voeling kom met die natuur deur jou sig, gehoor, smaak, reuk en aanraking, omring jy jouself met groen energie,” vertel sy. Nog ’n voorbeeld hiervan is Old Joe’s Kaia, ’n rusplek by Schoemanskloof onderweg na die Krugerwildtuin. Hier kan jy veganisties leer kook, in die labirint stap, in die natuurtuin sit en kalm word.

Nog ’n gevolg van die pandemie is dat peperduur luukse private natuur- en wildreservate tuis genoop geraak het om uitsonderlike spesiale pakkette aan te bied wat dit tans vir Suid-Afrikaners meer bekostigbaar maak.

Self was ek einde September op uitnodiging by die vyfster-Misava-safarikamp in die Klaserie Private Natuurreservaat net buite die Krugerwildtuin. Hier het die personeel tydens die grendeltyd vegetaries of veganisties begin eet as deel van ’n meer bewustelike leefwyse.

Vir my was die hoogtepunt my eerste Zen-natuurbegeleiding een oggend sesuur saam met Nick Smith. Wat ’n belewenis was dit om ses kilometer saam met hom deur die veld te stap terwyl hy ’n wildekat se spore in die sand uitwys, kameelperde rustig kou aan blare aan die hoogste boomtoppe, olifante deur ’n rivier stap en die voëls sing, als enkele meters van ons weg.

Zen-staptogte beteken bloot jy ervaar dinge “in die oomblik”, volgens Nick. “Dit gaan nie oor kitsbevrediging nie. Ons besluit dikwels voor ons op ’n safari-rit gaan ons móét leeus, ’n sebra of jagluiperd sien. As dit nie gebeur nie,  is ons teleurgesteld. En tog, die wonder van ’n voël, mooi rots, verdorde boomtak – dis als deel van die groot misterie van die lewe. Ons moet by die natuur se ritme aanpas.”

Hier in die Wes-Kaap spoed ’n mens dikwels verby Hermanus, Stanford, Gansbaai. Altyd haastig. ’n Tyd terug draai ek en ’n vriendin af by Grootbos, ’n vyfster- private natuurreservaat, danksy ’n puik spesiale aanbod. Dis saligheid in oorvloed. Fynproewerskos. Uitstappies na De Kelders se Klipgat, waar jy sowat 200 trappe af- en opklim en oor die rotse stoei en leer van di antieke grotte waar die KhoiKhoi nog tot sowat 2 000 jaar gelede met hul vee gewoon het.

Tydens ’n safari-rit leer ons van die 868 spesies fynbos en die Grootbos-stigting, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat die Kaapse fynbos beskerm en gemeenskappe in die omgewing met verskeie projekte ophef. Bedags ry jy perd en kyk vanaf die heuwels uit oor die groen landskappe. Wandelpaaie, lank en kort, wag. Of niksdoen. Ja, salige niksdoen in die spa (teen afslagpryse) waar strelende hande jou verkwik met fynbosolies. Saans, ná ete, stap jy op ’n kronkelpaadjie deur ’n melkhoutwoud na jou chalet. Grootbos-magic.

“Om te stap in die natuur laat jou siel terugkeer ‘huis toe’,” reken die Ierse aktivis Mary Davis.

Vir seker, sê Leonie Dyamond, Pilates-instrukteur van die Kaap. Sy het in Desember verlede jaar die Pelgrimstog van Hoop aangepak wat deur die reisjoernalis, skrywer en televisie-aanbieder Erns Grundling in sy kykNET-reeks Elders: Pelgrimstog van Hoop wyer bekend gestel is. (Die dertien episodes is beskikbaar op Showmax.) Osteoporose was toe pas by haar gediagnoseer en sy glo stap verminder pyn, kry die liggaam uit die veg-en-vlugmodus. “Wanneer jy stap, sien jy dinge helderder, jy leer luister, konnekteer met die natuur en met jou mede-stappers.”

Vir Erns was dit ’n reuse-voorreg om in Junie verlede jaar die eerste keer di pelgrimstog te stap tydens die verfilming van die derde Elders-reeks. “Dit het my o laat oopgaan vir Suid-Afrika se wonderlike natuurskoon, mense en stories. Op hierdie manier van stadig reis kom jy in voeling met die natuurlike ritme en beweging van jou liggaam, maak diep konneksies met die natuur, mede-pelgrims en fokus op die oomblik deur te luister na jou voeteval.”

Volgens Erns, wat verlede jaar saam met Yolandi van der Wath ’n bespreking- en ondersteuningsdiens vir pelgrims, Pilgrim Assist, begin het, bied di staptog ’n meer bekostigbare opsie as die Camino in Spanje en Portugal. Dit is meestal op grond- en plaaspaaie, soms in natuurreservate en berge. Pelgrims het die keuse om 318 km oor sestien dae van Stellenbosch tot die eindpunt, Kaap Agulhas se vuurtoring, die mees suidelike punt van Afrika, of 284 km oor veertien dae van Robertson tot die eindpunt te stap.*

Daar is ook ’n gewilde sewedag-stap. Leonie vertel sy was ná die Pelgrimstog van Hoop so begeesterd en spiritueel herlaai, dat sy bespreek het vir die Sungazer Camino, ses dae en 115 km deur die Oos-Vrystaat. Haar broer, André Dreyer, en sy gesin wat in Durban woon, het saam gestap. André-hulle wou eintlik die Portugese Camino stap, maar met Covid was dit onmoontlik. “Ons het nie di deel van ons pragtige land geken nie en gevoel soos buitelandse toeriste.”

Boonop was daar geleentheid vir lang en rustige gesprekke tussen haar en André.

“Vars lug, die eenvoud, een voet voor die ander, en die sorgeloosheid – dít is die wonder van stadig reis,” sê sy.

“Ons het weggespring by die Uitzicht-wildsplaas by Fouriesburg, plekke soos die Moolmanshoek Private Natuurreservaat, Rosendal en Holkrans besoek. En het ons lekker geëet. Pure boeregasvryheid.” Hul laaste stop was Paul Roux naby Bethlehem.

In Suid-Afrika is daar, terloops, verskeie Camino’s (ditword as Camino geklassifiseer as dit 100 km lank is) . . . die Namaqua, Kaapse, Tankwa en Baviaanskloof.

Oor laasgenoemde, naby Willowmore in die Karoo, kan Gerrie nie uitgepraat raak nie. “As dit re n in die Klein- Karoo, syfer dit deur tot by die berge. Hoe lekker om in warm water in die fonteinpoele te swem. Jy ontdek ongelooflike inheemse visspesies, unieke bome. In die kloof leer ken jy klein groepe boeregesinne wat alternatief leef. Een ou is byvoorbeeld ’n kruiedokter wat met dagga boer.” Gerrie se stories is kleurryk, soos sy toere. Zaritha meen ons moenie die Prins Alfred-pas op die R339-grondpad tussen Knysna en Uniondale, ook in die Karoo, vergeet nie. “Dís ook stadig en lekker reis.” Dis Dalene Matthee-wêreld.

Daar waar die Langekloof begin leef het in haar bosverhale. “Dankie tog vir die padingenieur Thomas Bain vir dié tegniese wonder van 68,5 km lank, een van Suid- Afrika se langste bergpasse.”

Sy vertel naby die dorpie De Vlugt is ’n jong egpaar se moderne selfsorgglaschalets waar hulle graag bly. Een van haar en haar man, Gerhardt, se lekkerste ontdekkings op die pas was installasiekuns van die landskapskunstenaar Strijdom van der Merwe, getiteld Roep die trop. Dit bestaan uit interaktiewe trompette wat die olifanttroppe, wat eens daar aan die oewers gewei het, roep om terug te keer. “Dis vir jou ’n besonderse road trip – rustig. Ons oornag graag by die selfsorg-eenhede, maak ons eie heilsame kos, ver weg van mense. Ek pak my jogamatjie in, ons lees, stap en soms is daar nie eens selfoonontvangs nie.”

Die pandemie het ons almal gedwing in dié rigting. SLOMO. Maar ek kies dit. Lief vir ’n “retreat”, en moeg by die blote gedagte daaraan om sesuur soggens gereed te wees vir ontbyt en dan op ’n toerbus saam met ’n groep van veertig te ry, ’n spul dinge op ’n lysie af te tik.

Aanhalings soos di van binneversierder Christiane Lemieux kry my regmerk: “Raak rustig en geniet dinge meer. Moenie so ernstig wees nie. Die lewe is nie ’n resies nie.”

* Erns se nuwe boek, Elders 2: Pelgrimstog van Hoop (Queillerie, R290), sal in 2022 beskikbaar wees.

MEER INLIGTING

INLIGTING

  • PILGRIM ASSIST: pelgrimstogvanhoop.com; yolandi@pilgrimageofhope.co.za; 082 325 3063
  • LEEF JOU REIS MET GERRIE PRETORIUS: bookings@gerriepretorius.co.za; 082 923 3626
  • MISAVA-SAFARIKAMP: 082 456 0673; 063 507 4834; Klaseriedrift.co.za; info@klaseriedrift.co.za
  • GROOTBOS: 028 384 8006; bookings@grootbos.co.za; grootbos.com