Haar ma se wit-en-goue trou-breekware is net by spesiale okkasies uitgehaal. Op dié dag het sy egter op die stoep gestaan en dit een vir een deur die lug laat sing. Doelgerig, sonder om ’n geluid te uiter. Toe net ’n hopie stukkende porselein oorbly, het sy omgedraai, die huis binnegestap en doodgewoon vir haar vyftienjarige dogter gevra: Hoe was jou dag?
“As kind het ek geleer woede is ’n emosie wat jy liefs nie ’n stem gee nie,” skryf Soraya Chemaly in Rage Becomes Her: The Power of Women’s Anger (Atria Books, 2018). Dié Amerikaner gooi nie borde nie, sy gooi woorde.
Dalk laat net die idee aan kwaad word jou ongemaklik voel. Jy verloor nooit jou humeur nie. Jy raak hartseer, ja, stort emmers vol trane, ja. Maar nie kwaad nie. Die kere wat jy jou humeur in die openbaar verloor het, kan jy op die helfte van een hand aftik. Jou gesig het rooi geword, jou kake was opmekaar geklem, jou hart het galop. En toe het jy ontplof, soos ’n aartappel wat te lank in die mikrogolfoond gestoom het. Dit was nie ’n mooi gesig nie. Wat moet die mense dink? Jy voel van voor af selfbewus daaroor.