1. Hou vergaderings kort.

2. Moenie dit kort op mekaar skeduleer nie. Los ’n gaping tussenin asof dit ’n normale dag is. Dalk is dit hoe jou dag lyk, vergaderings kop aan kop, maar jy stap ten minste na elkeen. Gee jouself dus ’n verposing van vyftien minute. Drink water, was jou hande, streel die kat.

3. Oorweeg dit om aan die begin van die vergadering, nadat almal gegroet het, die video-funksie af te skakel sodat julle mekaar kan hoor, maar nie sien nie. Die een aan die woord kan telkens die video weer aanskakel sodat haar gesig op die skerm verskyn. Dit sal jou minder selfbewus laat voel en meer laat fokus op wat die ander mense sê.

FOTO Unsplash

4. Gebruik vyf minute voor en ná die vergadering om bietjie “skouer te skuur”, te korswel en te hoor hoe dit met mekaar gaan. Dit gaan dan nie net oor werk nie.

5. Maak seker die oudio-funksie is af as jy nie aan die woord is nie. Agtergrondgeluide, soos honde wat blaf en kinders wat raas, plaas stremming op die brein. Met Zoom verskyn die spreker se gesig groot op die skerm. Nou nies iemand en woeps verskyn háár gesig op die skerm, net om blitsvinnig weer deur die oorspronklike spreker vervang te word. (Daar was selfs ’n voorval waar iemand toilet toe verkas het sonder om die oudio-funksie af te skakel. Die gepaardgaande geluid is wyd op sosiale media gedeel.)

6. Probeer ’n grens skep tussen jou persoonlike lewe en werk. “Ek probeer om vir werk Zoom of Skype te gebruik en WhatsApp vir kuier. Besluit watter platform vir jou die gemaklikste is en probeer só jou werk en persoonlike lewe skei,” sê prof. Schoeman.