2020. ’n Jaar wat die mensdom nog lank nie gaan vergeet nie.’n Jaar waarin ’n virus binne ’n oogwink die wêreld oorgeneem en mense na binne gedwing het, waarin ekonomieë en derduisende ondernemings, groot en klein, in duie gestort het en huwelike, vriendskappe en gemoedere tot die uiterste getoets is.

Maar tog was dit ook ’n jaar waarin die natuur ’n baie nodige blaaskans gekry en gefloreer het, gesinne kon meer tyd saam deurbring, en oral het mense klein plesiertjies soos broodbak en tuinmaak herontdek.

Dit was die jaar waarin prins Harry en Meghan Markle, hertogen hertogin van Sussex, teruggestaan het as senior lede van die Britse koningsgesin. Megxit, soos die sage gedoop is, het byna netsoveel aandag gekry soos die planne rondom Brexit – Brittanje se veelbewoë wegstap van die Europese Unie.

Dit was die jaar waarin die Olimpiese Spele uitgestel is en die Oscars nie ’n gasheer gehad het nie. Waarin talle toekenningsaande aanlyn gehou is. Waarin die Suid-Afrikaans gebore miljardêr-entrepreneur Elon Musk byna meer in die nuus was oor sy kind se vreemde naam (X Æ A-12) as sy planne om mense op Mars te sit, en die komediant en TV-persoonlikheid Ellen DeGeneres, eens almal se liefling, voor stok gekry is oor die toksiese werksomgewing op haar stel.

Jacques Kallis is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem en Potch se motorfietsjaer Brad Binder het die MotoGP in die Tsjeggiese Republiek gewen. Teen dié tyd kon sy landsburgers darem weer alkohol en sigarette koop om dit te vier nadat Suid-Afrika vroee¨r in die jaar die enigste land ter wêreld was wat die verkope van albei verbied het.

Ná so ’n malle, moeilike, soms mooie jaar, hoe gaan 2021 lyk?

1. Die wêreld van mode

FOTO Instagram / Chanel

Met dié dat ál meer mense van die huis af werk, is loungewear gróót – en dit is hier om te bly, sê Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur. Dink stylvolle sweetpakke of lospassende broeke en hemde, in neutrale kleure en van natuurlike stowwe soos linne.Die fokus is op gemak, volgens Amaria, maar dit bly stylvol genoeg om gou inkopies te gaan doen. “Of gee jou uitrusting oemf met bykomstighede, soos ’n paar kristaloorbelle.”

Maskers gaan ook nog ’n ruk lank in almal se klerekas pryk en word nou as deel van ’n uitrusting benader – vou byvoorbeeld ’n bypassende syserp dubbel en dra dit as jou masker soos die Amerikaanse mode-beïnvloeder Olivia Palermo.

Volhoubaarheid word ook al hoe belangriker. Amaria sê modes gaan nie meer so vinnig verander nie en selfs groot modehuise soos Gucci fokus nou op seisoenlose reekse – gehalte-items wat jy langer kan dra. Truida Norval van Port Elizabeth, ’n klerekasbeplanner en ontwerper met ’n volhoubare aanslag, sê tweedehandse en vintage-klere raak ook al hoe gewilder. “Baie mense het tydens die inperking kledingstukke op Instagram begin verkoop – vir’n inkomste, liefdadigheid ofom volhoubaarheidsredes. Dit is veral gewild aanlyn omdat die deursneemens nie sommer’n liefdadigheidswinkel besoek nie. Maar ook dít is aan’t verander, want nuwe, volhoubare klere van etiese bronne is baie duur.”

2. Stad en Platteland

FOTO Unsplash

Foto’s van eens besige stedese leë strate was volop tydens die inperking. Hoewel baie mense oorsee nou na kleiner dorpe verhuis om die besige stadslewe te verlaat, glo kenners nie dit gaan die geval in Suid- Afrika wees nie – minstens nie op so ’n groot skaal nie, sê Neil Gopal, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Eiendomseienaars (SAPOA). “Ons het eenvoudig nie die infra- struktuur en openbare vervoer om dit sinvol te maak nie.”

Tog reken Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff- eiendomsgroep, mense gaan aanhou om na kusstede te verhuis soos die laaste paar jaar reeds gebeur. “Mense verhuisna dié gebiede vir die beter lewensgehalte. Sogenaamde tweedevlak-stede soos Pretoria- Oos, die Paarl, Somerset-Wes en Stellenbosch word ook al hoe gewilder, want die tegnologie maak dit in sekere bedrywe nou maklik om van enige plek af te werk.” Die tendens van die laastepaar jaar om af te skaal sal ook toeneem, sê hy.

“Daar is enkele mense wat spring vir die kans om groter eiendomme te koop terwyl die rentekoers so laag is, maarek glo meer mense gaan eerder afskaal om hul finansiële risiko te verklein en instandhouding- en sekuriteitskoste te verlaag.”

3. Geestesgesondheid

FOTO Unsplash

Geestesprobleme word as die “tweede pandemie” beskryf, want 2020 was ongetwyfeld emosioneel swaar. Sonica Mouton, ’n bedryfsielkundige van Kaapstad (synchropsych.co.za), sê die naskokke gaan nog lank met ons wees. “In 2020 het alles gegaan om oorlewing – mense moes baie vinnig aanpas enhul emosies opsy skuif, skielik tuis werk en nog vir kinders skoolhou, finansiële uitdagings hanteer. Depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring (PTSD) neem skerp toe.”

Daarom gaan daar ’n nuwe fokus op gesondheid en welwees wees – in alle aspekte van die lewe. Inge Ferreira, program- koördineerder by die Isa Carstens Akademie se Pretoria-kampus, sê die pandemie het die bestaande belangstelling in holistiese gesondheid en selfsorg vergroot. “Skoonheid bly belangrik, veral omdat ons onsself nou gereeld sonder grimering sien enmeer bewus is van vlekkies of donker kringe onder ons oë, en maskerverwante probleme soos ’n droë vel of aknee ervaar, maar die vraag na stresverligtingsterapieis baie groot – masserings,kleur- en klankterapie, radio- frekwensiebehandelings, limfdreinering en mikronaald- behandelings gekombineer met drukpuntterapie.”

4. Oefening

FOTO Unsplash

Die aanbod van aanlyn oefenprogramme het met rasse skrede toegeneem tydens die inperking. Johno Meintjes, stigter van die plaaslike oefen-app JEFF, sê hul Faceboek-oefengroep JEFF Together het in die´ tyd binne twee maande 40 000 nuwe lede van 99 lande bygekry en met tye het tot 17 000 mense ingeskakel op hul regstreekse oefensessies.

Die oefenwe^reld het verander, glo hy. “Dis nie ’n nuwe ding nie – internasionale programme soos The Body Coach, Kayla Itsines en Les Mills is al ’n paar jaar gewild. Maar mense het nou besef hulle hoef nie ’n gimnasium te besoek om resultate te sien nieen geniet die gerief daarvan om tuis te oefen.

“Daar is steeds plek vir gimnasiums en groepsklasse, veral boetiekgimnasiums en groepe vir unieke oefensoorte, maar mense gaan minstens’n ruk lank nog ongemaklik voel om in groepe te oefen en aanlyn oefening gaan bly groei. Die tegnologie maak dit ook moontlik om saam met ander mense te oefen, in die gemak van jou eie huis.”

5. Skole

FOTO Unsplash

Hoewel die oorgang na Zoom-klasse nie maklik was nie, het dit ook positiewe gevolge gehad,sê Jenny Glennie, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Afstandonderrig (SAIDE). “Ek hoop skole en onderwysers gebruik voortaan die nuwe hulpbronne wat nou tot hul beskikking is. Zoom, Microsoft Teams en WhatsApp kan fantastiese toevoegings tot die gewone manier van skoolgee wees. Dis so belangrik vir kinders om nie nét in die klaskamer onderrig te ontvang nie, maar ook soms onafhanklik te leer en selfstandig te wees – om op hul eie uit te gaan en navorsing te doen, te verstaan hoe om daardie inligting te evalueer en probleme op te los.”

Sy glo egter nie skoolonderrig gaan permanent verander nie. “Skole bied baie meer as net ’n kurrikulum. Kinders leer daar psigososiale vaardighede enkry die geleentheid om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem en maats te maak. Dis ’n noodsaaklike deel van opvoeding, selfs vir introverte wat dalk floreer met tuisonderrig.“

Boonop is daar tydens die inperking te veel op ouers staatgemaak. Dis eenvoudignie volhoubaar in die meeste huishoudings nie. In Suid-Afrika is daar ook die uitdagings van ons ongelykhede – baie kinders het nie toegang tot hulpbronne soos rekenaars en data nie.”

6. Troues en sosiale geleenthede

FOTO Unsplash

Daar was die laaste paar jaar ’n sêding in die troubedryf: “Less is more, that’s why more is so much more,” sê die bekende geleentheidsbeplanner Aleit Swanepoel, maar dié dae is nou verby. “Jare tevore sou ’n mens nie daarvan kon droom dat ’n bruid R120 000 se blomme van Holland invoer vir haar troue nie,maar sulke uitspattighede het al hoe meer gebeur.

Die pandemie het nie net finansiële implikasies gehad wat dít gaan stopsit nie, maar ons ook geleer wie belangrik is in ons lewe.

Troues gaan weer kleiner en intiemer wees wanneer die bedryf later vanjaar begin normaliseer – tot nou kon mense in elk geval nie juis hul troue beplan nie.”

Hy glo tydlose dekor gaan dan die in-ding wees by troues en sosiale of korporatiewe geleenthede. “Herwinning en volhoubare materiale soos riempies en rottang gaan groot wees en ek glo ook mense gaan ’n minimalistiese aanslag hê – een enkele, treffende blomsteel pleks van ’n groot rangskikking op elke tafel.”

Tog glo hy die dae van groot troues gaan weer kom. “Dit gaan ’n ruk neem vir dinge om terug te keer na waar dit voorheen was, maar bruide is ook maar mededingend!”

7. Werksake

FOTO Unsplash

’n Plaaslike peiling wys 50% van werknemers verkies dit nou om van die huis af te werk, terwyl net 15% wil teruggaan kantoor toe en 35% ’n hibriedmodel wil volg, sê Busi Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership SA.

Die antwoord gaan van werkplek tot werkplek en selfs van werknemer tot werknemer verskil, na gelang van die bedryf, die organisasie se prioriteiteen kultuur, en individue se persoonlikheid, sê Sonica Mouton. “Die kantoor- en tuiswerkmodelle het albei voor-en nadele. Sommige werknemers is meer produktief tuis, terwyl ander meer struktuur benodig. Kantoormodelle bied die voordeel van beter kommunikasie en ’n sterker werkplekkultuur, maar die nadeel van tyd in die verkeer en die onkoste van kantoorruimte. Tuiswerkmodelle kan ’n beter werk/lewe-balans bied, maar kan weer eensaam wees.”

Sonica glo daar gaan voortaan ’n groter fokus op geestesgesondheid in die werkplek wees. Baie organisasies bied reeds berading, welstand-inisiatiewe en afrigting oor onderwerpe soos emosionele intelligensie en streshantering, maar dít gaan meer algemeen word.Al is werkloosheid ’n groot probleem, meen sy werkgewers gaan ook meer voordele begin bied om hul beste werknemers gelukkig te hou. “Baie mense heroorweeg hul prioriteite, lewensgehalte en loopbaan weens die pandemie – iets wat nie ongewoon is tydens of ná ’n groot krisis nie. Organisasies gaan meer moet doen om hul top- werknemers te behou.”

8. Die koswêreld

FOTO Unsplash

Bertus Basson, die restaurantgids Eat Out se sjef van die jaar in 2019, reken die restaurantbedryf gaan baie anders lyk in 2021, indien nie nog lank daarna nie.“Selfs toe restaurante weer kon oopmaak, was dit nie terug na normaal nie. Soos baie ander is al vyf my restaurante nou korter ure of minder dae per weekoop, en ons werk met kleiner spanne. Besoekers moet ook hul verwagtinge aanpas, want daar moet by nuwe reëls gehou word. Ons dek byvoorbeeld nie nuwe eetgerei met elke gang nie en mense moet self hul wyn inskink om kontak te verminder.”

Tog is daar nuwe tendense wat hom opgewonde maak. Hy het tydens die inperking maaltydbokse begin skep wat uiters gewild was, en hy glo dit gaan so bly. Dit bevat restaurantgehalte etes wat jy net tuis opwarm of klaar gaarmaak – sonder die voorbereiding, stres of skoonmaak. “Dis ’n lekker bederf met al die voordele van uiteet.”

Sogenaamde dark kitchens,’n groot gier oorsee, het nognie in Suid-Afrika posgevat nie, maar Bertus reken dit kan hier ook werk. “Dis eetplekke wat net kos vir aflewering maak en dus geen perseel het wat mense kan besoek nie. Dis goedkoper omdat jy aansienlik minder uitgawes het.”

Hy glo nostalgiese kos gaan dié jaar baie gewild wees. “Met dié dat almal tydens die inperking begin kook en bak het, verlang ons na die smake van ons oumas se kombuise. Piesangbrood, suurdeegbrood, tradisionele Suid- Afrikaanse geregte, dít gaan als groot wees in 2021.”

9. Medies: Ons versus die virus

FOTO Unsplash

In Augustus, toe die getal nuwe infeksies per dag duidelik begin daal het, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, aangekondig dat Suid-Afrika se Covid-19-piek verby is.

Maar kenners meen die virus gaan nog lank met ons wees. Vooruitskattings en tydlyne verskil en hang van verskeie faktore af, soos of mense immuniteit teen die virus kan ontwikkel en hoe lank dit hou, of infeksies seisoensgebonde is, en watter stappe regerings en individue doen om verspreiding te beperk, volgens ’n artikel in die wetenskapjoernaal Science.

Teen einde November het twee farmaseutiese maatskappye in die VSA, Pfizer en Moderna, entstowwe aangekondig wat meer as 90% effektief is.

Dit kan egter nog maande wees voor ’n entstof in Suid- Afrika beskikbaar is, het die SA Mediese Navorsingsraad in mediaberigte gesê. Onkoste en vervoeruitdagings (Pfizer se entstof moet byvoorbeeld teen -70 °C gestoor word) is net twee van die probleme wat invoere van so ’n entstof bemoeilik.

Drie verskillende entstowwe wat in die VSA en Engeland ontwikkel is, word tans in Suid-Afrika beproef, met twee van die studies onder leiding van prof. Shabir Madhi, ’n entstofkundigeaan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy verduidelik op die instelling se webwerf die “mees optimistiese vooruitsig” is dat Suid-Afrika teen middel 2021 ’n entstof beskikbaar sal hê – hetsy ingevoer of plaaslik vervaardig.