Skaars 3 km van die Kasane Internasionale Lughawe in noordwes-Botswana (ons kameras was nog nie eens uitgehaal nie) staan ’n olifant reg voor ons in die teerpad. En twee dae later, so ’n ent nadat ons die Kazungula-grenspos na Zimbabwe oorgesteek het, sien ons al in die verte “rookwolke” uitstyg . . . die Victoria-waterval wat sy teenwoordigheid tientalle kilometers verder aankondig.

Botswana en Zimbabwe hou nie hul troefkaarte vir laaste nie. Hulle haal uit en wys.

Soos iemand in ons mediagroep later skerts – al die diere is sweerlik vooraf gevra om hul beste voetjie voor te sit vir dié besoek.

Dis ’n vierdag-konsert: jong olifantbulletjies doen met trompet-geskal skyn-stormlope op ons safari-voertuig; ’n rits slurpies gaan soos periskope reg voor ons boot in die Zambezi-rivier verby; visarende val mekaar in die rede; ’n seekoei gee sy allemintigste gaap; ’n buffel staar na ons groep soos Clint Eastwood voor hy wil losbrand, en kameelperde staan so naby dat jy hul wimpers kan sien.

Zambezi-rivier
Sonsondergang-vaart op die Zambezi-rivier – ’n hoogtepunt vir besoekers. Foto Africa Albida Tourism

In die gebied rondom Kazungula, die enigste plek ter wêreld waar vier lande mekaar ontmoet (Zimbabwe, Botswana, Namibië en Zambië kom hier byeen), kan jy Afrika in al sy oorvloed, binne ’n radius van minder as 75 km, beleef.

Jy het selfs op die naat van jou rug vanuit jou suite in die Ngoma Safari Lodge in die Chobe Forest Reserve ’n ongeëwenaarde uitsig op die Chobe-rivier en -vloedvlakte. Of vanuit jou eie plonspoel op jou private stoepie. Dié intieme boetiek-lodge, waar ons ons eerste twee nagte deurbring, is net 3 km van Botswana se gewilde Chobe Nasionale Park, wat geen omheining het nie. Dis nie om dowe neute dat ’n veiligheidswag jou ná skemer die 40 of wat treë na jou suite vergesel nie. ’n Gas wat gou kamer toe geglip het, het ’n dorstige olifant by haar swempoel ontmoet.

Volgens die laaste sensus, sowat agt jaar gelede, was daar na raming 129 000 grootvoete net in Chobe alleen, maar vandag is dit aansienlik meer, vertel Johane (Joe) Matengo, ons gids wat ons vir twee dae op wildritte en ’n bootrit op die rivier neem. By sy Sibuya-oupa wat altyd saam met hom skool toe gestap het, het Joe die “wonderlikste” dinge oor diere geleer. En ná ses jaar by die lodge leer hy steeds elke dag iets nuuts oor Botswana en sy omgewing, vertel hy.

’n Uitstappie met Joe is vir besoekers ’n treat. Of dit nou ’n beskeie jacana-voëltjie (grootlangtoon) of ’n 2 000 jaar oue kremetart-reus is, oor alles wat ons sien, het hy iets interessants te vertel. Hande op wie’t geweet dat ’n wyfiekrokodil ’n baie langer snoet as die mannetjie het omdat sy die kleintjies in haar bek water toe dra? Hy stop ons boot by ’n waterlelie en knip die stingel af – die perfekte plaasvervanger vir ’n plastiekstrooitjie, beduie hy. Dit het geen bysmaak nie en raak nie pap nie.

Dit voel effens surrealisties om op ’n Maandagmiddag met ’n mengeldrankie (en stingel-strooitjie) in die hand te sit en tuur oor ’n eilandjie terwyl ’n olifantgesinnetjie sowat ’n halwe swembadlengte van jou in die modder bad. Maar dis ’n gevoel waaraan jy maklik gewoond raak.

Die geskil tussen Botswana en Namibië oor wie dié stukkie land van vyf vierkante kilometer in die Chobe-rivier besit, is in 1999 in die Internasionale Geregshof in Den Haag beslis. Vandag wapper die swart-wit-en-blou vlag van Botswana op die Sedudu-eiland. (Sedudu beteken: ’n groep seekoeie wat onder die vlak water lê, lig Joe ons in.)

Teen skemeraand, ná ’n genotvolle wildrit in die park waar Liz Taylor en Richard Burton in 1975 vir die tweede maal getroud is, is dit terug na ons blyplek vir ’n fynproewer-ete op die dek. En kan ons ook vier van die “Lelike Vyf” aftik . . . die maraboe-ooievaar, vlakvark, bobbejaan en hiëna. Net die wildebees het die vertoning misgeloop, sê Joe.

 Seekoei
’n Seekoei wys vir besoekers tande op die Zambezirivier in Zimbabwe. Foto’s Africa Albida Tourism
Victoria Falls Safari Lodge k·>¯ûâo¬Xî4»
Die Victoria Falls Safari Lodge kyk uit op ’n groot waterpoel. Foto’s Africa Albida Tourism
Nogma
By die Boma Dinner & Drum-vertoning is die tromspel aansteeklik. Foto’s Africa Albida Tourism
Choberivier
Gids Joe Matengo maak ’n halssnoer van ’n waterlelie op die Choberivier

Op dag drie vertrek ons oor die grens na die Victoria Falls Safari Lodge, sowat 135 km se ry van die Ngoma Safari Lodge, in ’n boomryke kompleks geleë. Dis vanjaar die 23ste keer as die beste lodge in Zimbabwe aangewys. Vanaf hul MaKuwa-Kuwa-restaurant kyk jy uit oor ’n groot waterpoel in die Zambezi Nasionale Park. Saans is die poel verlig, en terwyl jy eet (my ribbetjies, gaargemaak in koffie, was heerlik), sing ’n a capella-groep tradisionele Ndebele-liedjies by jou tafel wat baie herinner aan SA se eie Ladysmith Black Mambazo.

Bedags kan jy kies uit bergfiets- en perdry-uitstappies, begeleide staptogte en verskeie adrenaliengedrewe sportsoorte. En jy kan jou horlosie stel: Wanneer aasvoëls begin sirkel, is dit byna eenuur, tyd vir Vulture Culture. Dan word dié horde gevoer – ’n spektakel wat jy van naby kan besigtig terwyl die gids jou meer oor hierdie bedreigde spesie vertel. Of jy kan heeldag langs die swembad lê en kyk na die sebras by die poel. Daar is ’n klompie neutbruin Italianers wat nét dit doen.

Elders in Zimbabwe gaan dit swaar, maar dit lyk asof toerisme in dié deel ná moeilike jare weer goed op dreef kom. Die lodge het in 2018 sy beste jaar beleef sedert dit in 1994 geopen is, vertel Matina Sangwene, verkope- en bemarkingskoördineerder. En op die dorpie Victoria Falls, vyf minute se ry van ons blyplek, is dinge bedrywig. By die handwerkmark kan jy met ’n bietjie jolige onderhandeling handgemaakte produkte teen ’n billike prys aanskaf – en ons vier vroue gee die plaaslike ekonomie persoonlik ’n hupstoot.

Victoriawaterval
Teen 1 708 m wyd is die Victoriawaterval se “gordyn” die grootste ter wêreld Foto’s Africa Albida Tourism
Nogma
Jy kan Namibië op die horison sien van die stoep van die Ngoma Safari Lodge in Chobe. Foto’s Africa Albida Tourism
Matina Sangwene
Matina Sangwene, ons gasvrou in Zimbabwe.Foto’s Africa Albida Tourism

’n Hoogtepunt, later die dag, is die sielsalige sonsondergangvaart op die magtige Zambezi-rivier. Sowat 2 km rivieraf stoot silwerwit wolke die lug in en raak jy bewus van ’n lae gedruis. In die hoogseisoen kan jy op ’n windstil dag glo die waterval tot 40 km ver hoor.

Die volgende oggend is ons soos vele ander toeriste vroeg daar om een van die sewe natuurwonders van die wêreld te aanskou. Ons gids Alexander Zulu, wat die val al ken “van die dag dat ek dit in my ma se baarmoeder gehoor het”, is baie trots op “sy” waterval. Hy vertel: “Toe dit baie sleg gegaan het in ons land, het Zambië die klein stukkie waterval wat aan hul kant is, begin bemark as dié Victoria-val, maar Zimbabwe het dit nou teruggeneem.”

Daar is 15 uitkykpunte aan die Zimbabwiese kant, die een uitsig meer verruklik as die vorige. Zulu beïndruk ons verder met stellings soos: In die hoogseisoen stort daar elke minuut sowat 550 000 kubieke liter by die valle af. Anders gestel, die water wat elke drie en half dae na benede val, is die ekwivalant van die hoeveelheid water wat New York in een jaar gebruik. En: teen 1 708 m wyd is die Victoria-waterval se “gordyn” die grootste ter wêreld. Ten spyte van ons reënjasse is ons sopnat terug lodge toe.

Alexander zulu
Gids Alexander Zulu spog graag oor “sy” waterval. Foto’s Africa Albida Tourism
Badtyd in die Chobe-rivier.
Badtyd in die Chobe-rivier. FOTO ARTHUR COLLETT
 Energieke dansers
Energieke dansers by die Boma Dinner & Drum-venue Foto’s Africa Albida Tourism
etenstyd
Etenstyd vir die aasvoëls by Victoria Falls Safari Lodge. Foto’s Africa Albida Tourism

Laaste op ons program is die aand se Boma Dinner & Drum-vertoning. Die venue, met plek vir 320 mense, is volgepak met toeriste van reg oor die wêreld, en maak deel uit van die kompleks. Terwyl jy in gedrukte lap getooi word en iemand ’n delikate kunswerkie op jou wang verf, kap ’n groep energieke dansers dit uit. Vir ’n “ware Afrika-belewenis” het die uitgebreide spyskaart ook impala, krokodilstert, tarentaal (oftewel Chobe-chicken) en heerlike pap en sous. Die lieflike Matina, ons gasvrou wat soos Hollywood-aktrise Lupita Nyong’o se kleinsus lyk, probeer ons oorreed om ’n mopaniewurm te eet – van kleins af haar gunsteling-peuselhappie.

Twee groeplede het nou ’n amptelike mopaniewurm-sertifikaat. Die tromspel is aansteeklik, en die aand raak nog joliger toe elkeen sy eie trom kry om saam te speel.

Toe ons later in die donker deur die kompleks terugstap tot by die lodge se ingang, waar ’n gesinnetjie vlakvarke die middag doodluiters verby ons gedraf het, kan jy kwalik glo dat jy soveel in net vier dae kan sien en beleef. En dit op so ’n klein stukkie aarde in Afrika.

OM TE WEET

SARIE was in Zimbabwe ’n gas van Africa Albida Tourism (ATT), www.africaalbidatourism.com; e-pos: saflodge@saflodge.co.zw of aatreservations@saflodge.co.zw

Benewens ATT se vlagskip-eiendom Victoria Falls Safari Lodge met sy 72 kamers, is daar ook hul eksklusiewe Victoria Falls Safari Club, Victoria Falls Safari Suites en hul Lokuthula Lodges (selfsorg-eenhede) in die kompleks. ATT is al bekroon vir die Victoria Falls-herwinningsprojek wat hulle in 2018 begin het.

Die Ngoma Safari Lodge in Chobe, Botswana, word bestuur deur Machaba Safaris. Besoek www.machabasafaris.com of bespreek by enquiries@machabasafaris.com. Die Ngoma Safari Lodge is ’n gesamentlike onderneming met die Chobe Enclave Conservation Trust, en het agt luukse suites – deel van elke bespreking se opbrengs is ten bate van die plaaslike gemeenskap.