Vir Dalene van Staden was dit die drang om te verken en nuwe plekke te ontdek. Magan Hanekom was veral geïnspireer deur wat jy in jou eie “agterplaas” kan sien. En Caro Jordaan wou nog altyd ’n avontuur op groot skaal aanpak – en sy droom van nóg.

Dit het gelei tot ’n unieke uitdaging: om binne vyf dae 15 berge met die naam Tafelberg uit te klim . . . party tot 500 km van mekaar in die Wes-Kaap. Drie, vier berge op een dag, deur fynbos, klipperige veld, selfs oor groot granietrotse, meestal sonder paadjies, soms met ’n kopflits in die donker . . . tot by die laaste Tafelberg, in Kaapstad, waar familie en vriende hulle by Platteklip met bosse proteas ingewag het.

Lang afstande het dié drie nog nooit afgeskrik nie. Dalene (28) het al twee keer die Sky-veldwedloop oor 100 km by Lady Grey voltooi, Caro (28) die 76km lange Addo-wedloop naby Port Elizabeth, en Magan (25) het die Otter (43 km) tussen Stormsrivier en Nature’s Valley kafgedraf.

Dalene wou juis vroeg in 2020 “vir oefening” drie Tafelberge in ’n naweek klim, toe grendeltyd dit gekortwiek het. Toe sy later ontdek dat daar soveel méér Tafelberge is, het sy besluit om almal vir haar 15 Tafelberge-projek op te spoor.

“Ons het beperkte verlof gehad, maar natuurlik moes ons al vyftien inpas – want watter een los jy uit? Gaan groot of gaan huis toe,” skerts sy.

Dalene, ’n optiese ingenieur, het as student op Stellenbosch besef jy hoef nie net daguitstappies te doen nie – die speelveld is baie groter. Magan is ’n ouditklerk van die Paarl wie se ouers haar gereeld saamgeneem het berg toe nog voordat sy kon loop. En Caro, ’n goudsmid van Durbanville wat ringe en ander unieke stukke maak, het op laerskool begin hardloop en is mal oor rotsklim. Al drie drafmaats was gretig om hul grense te verskuif.

Caro weet al Dalene se avonture stel nooit teleur nie. Sy reël ’n ding ordéntlik. “En dis ’n bonus dat sy my beste vriendin is met wie ek al berge en road trips gedeel het.”

Maande voordat hulle op 13 Oktober uit die Paarl na Bitterfontein-Tafelberg in die verre noorde van die Wes-Kaap sou vertrek, het hulle reeds al die berge verken, die grondeienaars ontmoet en roetes uitgewerk sover hulle kon.

Dit was soos ’n skattejag, vertel Dalene. “Ons het nie geweet wat om te verwag nie. Op party berge was daar sover ons weet nog nooit mense nie, en van die eienaars het nie eens geweet hulle het ’n ‘Tafelberg’ op hul grond nie.” Hulle het ’n paar harde navigasielesse geleer. Soos toe hulle net voor Uniondale op ’n platterige berg staan en besef die ware jakob (Onder- Kammanassie) is die kleinerige koppie langsaan.

Party boere was verbaas wanneer drie vroue daar opdaag, sê Dalene. “Ons was ’n unieke span, ons drie saam. Dikwels as ’n man deel is van so iets, dink mense outomaties hy het al die werk gedoen!”

Caro reken sy sal hierna hoër mik.

“As vrou voel jy makliker onveilig en onseker om onbekende berge te verken, maar ek weet nou jy het nie ’n man daarvoor nodig nie . . . Bygesê, Rae se aandeel was goud werd.”

Caro Jordaan, Dalene van Staden en Magan Hanekom FOTO Verskaf

Joernalis Rae Trew-Browne, wat ’n dokumentêre program oor hul projek maak, was eers net “die vlieg teen die muur”, maar het later agter die stuur ingeskuif – die veiliger opsie wanneer jou medepassasiers net 15 uur slaap in vyf dae gehad het. Hy het selfs die berge in die Koue-Bokkeveld, by Stanford en Merweville saam uitgestap-draf.

In die motor is dié “rou Engelsman” dikwels op Afrikaanse musiek getrakteer. . . van ou treffers deur Carike Keuzenkamp tot die kletsrymer Biggy, vertel Magan. Biggy se “Boet en Saartjie”en “Sweet Caroline” van Neil Diamond het later in hul kop vasgesteek.Soms sou iemand in die klimspontaan daarmee wegval – “enigiets om jou aandag van ’n taai opdraande af te trek”. Al was hulle goed voorbereid, het die ontbering by tye byna sy tol geëis. Vir Caro was die vroeg opstaan met ’n moeë lyf ná net drie uur slaap elke keer ’n skok, maar omdat almal so gemotiveer was, was sy gou voluit op dreef.

Vir Magan was dit weer vir ’n oomblik moeilik om haar kop reg in te stel toe sy op dag twee om tienuur die aand wéér haar skoene moes aantrek vir hul vierde berg van die dag. Hulle het toe reeds die oggend De Doorns-Tafelberg,  Robertson-Tafelberg (dit was negeuur al 30 0C) en die uitmergelende, half onbegaanbare Wemmershoek-Tafelberg agter die blad gehad. Laasgenoemde het sewe en ’n half uur geneem. Toe lê Stettyn-Tafelberg by Villiersdorp voor.

Daardie aand het sy besef hoe sterk Dalene en Caro is, sê Magan. “Opgee is nie ’n opsie nie. Ongeag wat jou kop vir jou sê, hou by jou plan – moenie eens dink aan ’n Plan B as uitkomkans nie. Ek het geleer die vooruitsig van pyn en moegheid is erger as die werklike pyn en moegheid.” Hulle het tienuur vertrek, en was die volgende oggend vieruur terug by hul motor.

Caro vermoed almal het daardie aand in ’n stadium gedink: “Ons is nou ’n bietjie mal.” Maar hulle het volgehou, aangevuur daardeur om deel te wees van iets wat ander nie sou waag nie. Dalene se filosofie (benewens haar benadering van “vat dit een berg op ’n slag”) kom van ’n universiteitsvriend wat altyd gesê het: It’s the price you pay for the life you choose.

“Dit ís ’n voorreg om te kan kies om swaar te kry.”

Al moes hulle soms fokus om een voet voor die ander te sit – soos toe die goggas en hitte van Meiringspoort-Tafelberg hulle tot vloek wou dryf – was daar ook tye wat hulle die natuur in al sy verskeidenheid kon waardeer, plekke waarby hulle nooit sou uitkom nie.

Dalene en Magan se mooiste oomblik was bo-op Bo-Kammanassie, toe die son begin sak en die Swartberge van die Klein-Karoo in ’n pienk-oranje skynsel gehul was. Vir Caro was dit die uitsig vanaf Wemmershoek-Tafelberg, wat sy bedags van haar huis kan sien. “Dit was asemrowend. Simonsberg, die diepblou Wemmershoek-dam en see in die verte.”

Hulle’t ook lekker herinneringe aan die mense wat hul pad gekruis het, boere wat hulle met Steri Stumpies gelawe of morele ondersteuning gegee het. En hulle sal almal altyd ’n sagte plekkie vir Merweville se Tafelberg (nr. 14) hê, waar die Marais-gesin hulle ná vier lang dae verwelkom het met ’n tjoppie op die vuur, ’n warm stort en ’n bed.

Die volgende dag was hulle vroeg op koers na die Moederstad. Daar gekom, het hulle al die pad tot bo by Maclearbaken geglimlag. Ná 2 600 km met die motor, 150 km op hul voete en sowat 9 000 m se vertikale klim, kon hulle 15 Tafelberge aftik!

Ja, daar is 15 tafelberge!
Die drie vriendinne het dit in die volgende volgorde uitgeklim: Bitterfontein, Cederberg, Koue-Bokkeveld, De Doorns, Robertson, Wemmershoek, Villiersdorp, Stanford, Bo-Kammanassie, Onder-Kammanassie, Meiringspoort, Klaarstroom, Beaufort-Wes, Merweville, Kaapstad.