Liewe Lilibet Diana Mountbatten-Windsor, of kan ek maar sê Lili? Nie prinses Lili nie, want jou oupa Charles wil mos glo die koninklike kring verklein wat uit die souspot skep. O, Megs, jou ma, was briesend. Hell hath no fury like a mother scorned, nè? En oupa Charles sit natuurlik self met sy blaker in die botter.

Nou ja, liewe Lili. Hoe breek ek die nuus? Of jou ouers nou glam is, of nie, koninklik, of nie, ryk of arm, jy ’n seun of meisie is . . . Daar is die hele tweede-kind-ding wat jy te bowe sal moet kom. Nooit gaan jy Archie se duur skoene kan vul nie! Arch gaan tien teen een meer verdien, gesonder wees en sy IK tot 3 punte hoër as joune. En dit net omdat hy eerste was. En jy? Ou nuus. Daar is 10 000 foto’s van hom in die familiealbum? Wees bly as daar 10 van jou is. Sy eerste woord is met ingehoue asem afgewag? Jy gaan omtrent in Latyn moet wegval om net met die effense lig van ’n wenkbrou beloon te word.

Vra Jakob van die Groot Boek. Gelukkig vir hom kon hy ’n lensiebredie soos min kook. Esau het met sy maag gedink en sy reg as eersgeborene verkwansel (Wat hét hy gedink?). Esau se nageslag, die Edomiete, en Jakob s’n, die Jode, sou mekaar eeue daarna nog aan die keel gryp. Karma is ’n blikskottel.

Nee, liewe Lili, trap jou eie ry spore. Vind jou eie stem. Moker jou eie trom. Tweede (en middelste) spruite ís meer geneig om uit die tradisionele gietvorm te breek, ’n meer onkonvensionele roete te volg. Jy moet, om raakgesien te word. Die dromers, kunstenaars, entrepreneurs, avonturiers . . . ook die stoutes. Probeer die voorbeeld vermy van jou groottante Margaret – ’n drinkende, rokende, soekende mannejagter, as ons The Crown moet glo. En oom Randy Andy, ’n middelkind, het mos altoos nog gejeuk op die verkeerde plek. Pa Harry het self sy wilde lote gesaai en nou dikmond sy rug op “The Firm” gedraai.

Darem met sy rooikop steeds op sy lyf. Jou lang en vermaarde bloedlyn is mos maar met lyke besaai. Kort nadat Edward IV, jou grootjie doer in die vyftiende eeu, se jonger broer dood is, het die gerugte begin loop: George is glo in ’n groot vat malvesywyn verdrink. Eddie het uiteindelik sy geduld met sy manteldraaier-boet verloor.

En Lilibet! Moenie jy ook op Oprah se rusbank gaan sulk asof die wêreld jou iets skuld nie. Daar is ander maniere om eerste te wees, al was jy ook tweede. Vra Madonna, Warren Buffett, Bill Gates, Mark Zuckerberg, Charles Darwin. Don’t get mad, get even! ’n Gesegde wat gewild gemaak is deur Bobby Kennedy, ’n middelkind natuurlik. (Hier buite konteks aangehaal, ons is nie die Britse poniepers nie.)                  

In die mirrel!

  • Pres. Cyril Ramaphosa is ’n tweede kind. Oudpres. Thabo Mbeki ook. En meer as die helfte (52%) van Amerikaanse presidente was middelkinders, onder wie Donald Trump, Abraham Lincoln, Theodore Roosevelt en John F. Kennedy.
  • Tweede kinders is nie muurblomme met suur druiwe nie. Hulle is geneig om empaties te wees, onafhanklike denkers sonder die behoefte om aan maatskaplike norme te voldoen.
  • Ons het ons eie dag: Daar is amptelik ’n middelkind-dag in Amerika, 12 Augustus. Niemand onthou dit egter nie!
  • En ons eie sindroom: “Middelkindsindroom” is eerste deur die Oostenrykse sielkundige Alfred Adler in die vroeë 20ste eeu geopper. Ons voel glo uitgelaat en gegrief omdat ons nie dieselfde voorregte geniet as die oudste, of vertroetel word soos die jongste nie.
  • Ons sterk punt: Vredemakers. Adler het geglo ons plek in die gesin help ons diplomasie, veerkragtigheid en onafhanklikheid ontwikkel. Ook dat die gebrek aan ouerlike aandag ons aanmoedig om onreg te beveg.
  • Ons sterf uit: In die 1970’s het die deursneegesin vier kinders of meer gehad. Vandag het sowat twee derdes van vroue net een of twee spruite. As gesinne aanhou krimp, gaan middelkinders ’n seldsame verskynsel word.
  • Nog ’n teorie hoekom ons is soos ons is: As ’n rol eers deur die oudste kind gevul is, soek die tweede kind een wat presies die teenoorgestelde is, volgens Kevin Leman in The Birth Order Book. Dit kan verklaar hoekom sommige middelkinders rebels is, terwyl ander almal gelukkig wil hou.
  • Al die beste TV-gesinne het ’n anderster middelkind. Wysneuse soos Alex Dunphy in Modern Family, Darlene Conner in Roseanne en Lisa Simpson in The Simpsons.
  • Wanneer daar ’n vyf- tot sesjaargaping tussen kinders is, begin die volgende kind ’n “nuwe” geboorte-orde.         

Moeilikheid!

Tweede kinders is meer rebels en hul kans 25% tot 40% groter om moeilikheid op skool – en selfs met die gereg – op te tel, het Amerikaanse navorsing bevind. Dis dalk omdat ouers baie strenger met hul oudste is en makliker dinge met die tweede een oorsien. En terwyl die oudste kind se rolmodelle sy ouers is, is die tweede kind s’n dalk ’n irrasionele tweejarige, sy ouer sib, volgens die navorsers aan die Massachusetts Instituut vir Tegnologie (mitsloan.mit.edu).

Ek is die model-middelkind. Ek is geduldig en versorg almal. Om nice genoem te word is ’n kompliment. En nie ’n vervelige beskrywing van my nie. - Aktrise Jennifer Garner

Die tweede sal eerste wees

Henry VIII, wat Engeland in die sestiende eeu regeer het, bestyg die troon ná die dood van sy oudste broer, Arthur. Anders as Arthur wat grootgemaak is om eendag ’n verantwoordelike heerser te wees, was Henry lekker verwen. Vandag is hy bekend (berug) vir sy ses vroue. Hy’t nie nonsens van kabouters gevat nie: Twee vroue het hy geskei en nog twee se kop laat afkap. Toe die pous hom nie toestemming wou gee om met Anne Boleyn te trou nie (hy’t kop verloor oor haar, maar later sou sy letterlik háár kop verloor), het hy die Anglikaanse Kerk gestig. En om die pad na die troon te plavei vir Edward, sy enigste seun (binne die eg), laat hy sy oudste twee kinders buite-egtelik verklaar. Sien, hulle was meisies.

Edward het nie ou bene gemaak nie en “Bloody” Mary erf die koninklike septer. Sy was ’n vurige Katoliek en die Protestante se bloed het gevloei, soos haar naam aandui. (Die drankie is blykbaar nie na haar genoem nie, nee.) Ná haar dood regeer haar halfsuster as Elizabeth I 45 jaar lank. Sy het nie naastenby gelyk soos Cate Blanchett in die rolprent Elizabeth nie, maar dis Hollywood vir jou daai.

Ook Albert (Bertie), wat as George VI sou regeer, sou sekerlik sy kroon agterna gegooi het as hy soos Colin Firth kon lyk. (Dit was prins Charles se oupa, onthou. Nie prentjiemooi mense nie.) In The King’s Speech het ons Bertie se pogings meegemaak om sonder hakkel die eerste keer oor die radio te praat.

George V, sy pa, was bitter streng. Bertie, beskimmeld en onseker, het geen simpatie by hom gekry nie. (George V self was ’n huishen met stokperdjies soos seëlversameling. Tot hy ná sy ouer broer, Albert Victor, se vroeë dood op die voorgrond gestoot is.)

Vir Bertie was dit pynigend om in die openbaar te praat, anders as vir sy ouboet, Edward, bekend vir sy flambojante gemak in die kollig. Toe kies hy die geskeide Wallis Simpson bo die kroon en abdikeer. Bertie moes in dié stormagtige tyd die monargie se leisels oorneem. Dis iets waarvoor sy vrou, ook Elizabeth, Edward nooit vergewe het nie, à la The Crown.

Oorkant die water is die Kennedys die naaste wat die Yanks aan ’n koninklike gesin kan kom. Patriarg Joseph het al sy passie en energie op sy oudste seun, Joe Jr., uitgestort: slim, aantreklik en met ’n natuurlike talent vir die politiek. Toe hy tydens die Tweede Wêreldoorlog sterf, het John F. sy plek in die opmars na mag ingeneem. Hy was soos ’n vis in die water; later ’n gevatte, charismatiese en glorieryke president. Interessant is, JFK het as jong seun gerebelleer om in sy ouer broer se skadu te leef. Sy kaskenades het onder meer die opblaas van ’n skooltoilet ingesluit. Maar sy streke het bedaar: Gesondheidsprobleme, wat hom die res van sy lewe sou agtervolg, het dalk ’n rol gespeel.

Ná die sluipmoord op hom het sy kleinboet, Robert (Bobby), die troon vir die Kennedys probeer terugwin. Ook hy sou met sy lewe daarvoor betaal.

My ma het nooit vir my tyd gehad nie. As jy die middelkind is in ’n gesin van 5 miljoen, kry jy nie enige aandag nie. - Woody Allen as Z Marion-4195 (“Z”), ’n idealistiese maar angstige miertjie in Antz

En die res . . .

By eersgeborenes is daar as volwassenes ’n versugting na die verlore aandag van hul jeug en hulle word beskou as meer ambisieus. Hulle is dikwels leiers, presteerders en perfeksioniste. (Kate Middleton, J.K. Rowling en Oprah.)

Middelkinders lees as volwassenes mense soos ’n boek, maar is effens terughoudend.

Ouers verslap hul behoedsaamheid die meeste met hul jongste spruite, wat dikwels die reëls buig. As volwassenes draai hulle mense maklik om hul pinkie. (Johnny Depp, Angelina Jolie.)

Enigste kinders tree as grootmense baie soos eersgeborenes op. (Leonardo DiCaprio, Elvis Presley en Tiger Woods.) Bron: insider.com

Vir oulaas

Selfs al wil jy ’n verbintenis met ander middelkinders toeëien, is daar steeds kontroversie oor hoe geboorte-orde jou persoonlikheid beïnvloed, indien dit hoegenaamd die geval is. Die eienskappe wat aan elke kind toegeskryf word, kan dalk so in die kol wees vanweë iets wat die Barnum-effek genoem word: ’n Sielkundige verskynsel waar oënskynlik spesifieke persoonlikheidseienskappe vaag genoeg is om op baie mense van toepassing te wees. Maar dit kan tog soms help om te verstaan hoe kinders verskillend behandel word op grond van hul geboorte-orde.

Bykomende bronne:

livescience.com, thecrownchronicles.co.uk, goodhousekeeping.com